Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

 

  ‘n Gelykenis van twee seuns - of

Die Verlore Seun

Deur David Malan

 

Dit was die Christelike tradisie wat die naam die Verlore Seun aan die gelykenis toegeken het, nie die Bybel nie. Wat die Bybel betref, is dit ‘n verhaal van twee seuns (15:11). En wat van die woord verlore? Is dit die hoofkenmerk van hierdie gelykenis? Ek dink nie so nie. Goed, daar staan hy was verlore en hy is gevind, maar is hierdie nie eerder ‘n verhaal van lewe en wedergeboorte nie? Hy was dood en hy het weer lewendig geword.

Ons kan nie hierdie gelykenis lees asof dit direk aan Christene van vandag geskryf is nie, want dit is nie! Jesus was tydens sy aardse bediening ‘n dienaar van die besnydenis (die volk Israel - Rom. 15:8). Hy het gekom om die beloftes van Israel waar te maak (Hand. 3:19-21, Luk. 1:68-75). Nie-Jode is nie toegelaat om direk met Jesus in aanraking te kom tydens sy aardse bediening nie (Matt. 15:25-27; 10:5,6). Die hoofman van Kapernaüm was ook ‘n heiden en het geweet dat hy nie Jesus in sy huis kan laat inkom nie (Luk. 7:1-10).

Voordat ons dus ‘n boodskap vir vandag uit hierdie mooi gelykenis gaan uithaal, moet ons eers noukeurig gaan lees wat die gelykenis beteken het in die tyd toe dit uitgespreek is. Ons moet m.a.w. eers interpreteer voordat ons kan toepas.

Bekering en wedergeboorte

Kom ons dink gou aan ‘n paar beginsels wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die gelykenis lees. Let op dat bekering en wedergeboorte nie dieselfde is nie. Bekering is ‘n verandering van denkwyse en van lewenswandel en rigting. Hierdie verandering is noodwendig teenwoordig waar ’n mens gered word of wedergebore word, maar so ‘n verandering van denke en optrede beteken nie altyd dat jy gered is nie! Wedergeboorte gaan dus oor meer as net ‘n verandering in denke en optrede.

Bekering gaan dikwels gepaard met berou oor sonde, maar berou beteken nie op sigself verlossing of wedergeboorte nie. Baie ander faktore is ook ter sprake by wedergeboorte of verlossing. Dan moet ons ook nie uit die oog verloor dat daar geweldig baie opregte, verloste Christene is wat bekering dringend nodig het nie (2 Kor. 7:8-12).

Verlossing of herstel (bekering)?

As ons hierdie faktore in ag neem, moet ons nou bepaal of die verhaal van die Verlore Seun  oor die oorspronklike redding van ‘n verlore sondaarmens gaan of gaan dit oor die herstel van ‘n verloste mens? Hierdie vraag word nog moeiliker as ons in ag neem dat die Joodse volk op die stadium toe hierdie gelykenis vir hulle aangebied is, in ‘n verbondsverhouding met God gestaan het. Hierdie verbond maak hulle een en almal in ‘n sekere sin kinders van die verbond en ook kinders van God (geweldig baie verse kan hiervoor uit veral die Ou Testament aangehaal word). Die klem by al vier die Evangeliste gaan oor bekering vir God se sondige en afgedwaalde verbondskinders (Israel).

Vandag is dit anders. Die verbonde bestaan op die oomblik nie. Geen mens op aarde kan vandag vanuit die bevoorregte verbondsposisie van Israel na die Here terugkeer as hy gered wil word nie. Vandag is almal, Jood en heiden, in presies dieselfde posisie voor die Here: Hulle moet die evangelie van verlossing deur die bloed van Christus en die opstanding uit die dode aanhoor en glo om gered te kan word. So ‘n geloof sluit ook ‘n verandering van denkwyse (bekering) in. Alleen waarlik geredde mense kan vandag kinders van God wees. Daar bestaan nie nou meer sulke goed soos ongeredde verbondskinders wat ook kinders van God is nie. Dit was net in ou Israel voor Paulus se tyd waar.

Op hierdie punt verskil ons baie drasties met die groot kerke. Hulle spreek al hulle lidmate aan as verbondskinders van God, of hulle nou gered is of nie. Inteendeel, in die meeste van hierdie kerke word die boodskap van redding en verlossing nog selde of ooit gehoor.

Kind van God en tog verlore?

Ons weet dat die meeste van daardie Israeliete wat kragtens die verbond as kinders van God beskou is, eintlik totaal verlore was. Kyk byvoorbeeld na die oudste seun in hierdie verhaal. Die meeste verklaarders stem saam dat hierdie seun die Fariseërs verteenwoordig. Ons weet tog hoe verlore die Fariseërs was; hulle was die vyande van Christus wat saamgesweer het om Hom dood te maak en tog word hulle in hierdie verhaal nie net as seun van die vader uitgebeeld nie, maar ook as lojale seun. Hy het nie die huis verlaat nie en sy pa getrou gedien. Aan die ander kant laat die verhaal duidelik deurskemer dat die seun ook maar met ‘n wrok in sy hart rondgeloop het en dat sy hart ver van sy pa af was.

Om hierdie verhaal direk in ons tyd toe te pas, is eenvoudig nie moontlik nie. Ons het nie vandag verlore seuns wat, terwyl hulle verlore is, alreeds kinders van die Vader is nie. Ons het ook nie ouer broers wat as seuns van God Hom lojaal dien en terselfdertyd ook verlore is nie. Goed, ons het wel mense wat die kerk lojaal dien en wat verlore is, maar dit is nie wat die gelykenis sê nie. Die Vader in die gelykenis staan tog vir God.

Die enigste manier waarop ons vandag sinvol uit die gelykenis kan preek, is om die detail van die verhaal aan te pas. Ons het nie ‘n keuse nie, want ons dispensasie verskil van die tyd op aarde toe Jesus Israel tot bekering opgeroep het. CF Baker (Understanding the Gospels) meen dat ons méér van die gelykenis sal moet verander as ons dit vandag wil gebruik om verlossing  vir ongeredde mense te preek. Daarom meen hy dat dit dalk beter sal wees om die gelykenis eerder te gebruik om te preek oor twee geredde mense. Die een het erg op ‘n pad van sonde afgedwaal en die ander een het het in eiegeregtigheid en liefdeloosheid verval.

Maar watter soort preek ons nou ook al vandag oor die Verlore Seun gaan preek, feit bly staan dat ons sekere detail van die verhaal noodwendig sal moet aanpas. As ons dit nie kan doen nie, sal ons gladnie hieruit kan preek nie omdat, soos ons opgemerk het, hierdie soort seuns vandag nêrens bestaan nie. Maar ek gaan tog in die res van die artikel, ten spyte daarvan dat Baker aanbeveel dat ons liewer vir geredde mense hieruit preek, ‘n preek maak vir verlorenes wat gered moet word.

Genade

Die woord genade kom nie in hierdie gelykenis voor nie, maar tog spreek dit hier baie duidelik en op baie maniere. Let ook op dat Lukas as metgesel van Paulus op sy sendingreise sekerlik dikwels met die woord genade te doen gekry het. Daarom is dit ook nie snaaks dat die woord genade nie een keer in Mattheüs of Markus voorkom nie, maar agt keer in Lukas. Behalwe die agt keer, sien ons genade byvoorbeeld hier in Lukas 15 sonder dat dit hier geskryf staan.

Vreugde en blydskap is iets wat ons in ons prediking en getuienis altyd aan ongeredde mense voorhou. “Jy sal die wonderlike vreugde en blydskap van die Here ervaar wanneer jy jou lewe in geloof aan die Here toevertrou het”, sê ons altyd vir die mense. En dit is ook nie verkeerd nie. Ek glo daar is verse wat dit bevestig. Maar wat staan hier in Luk 15? Wie is dit wat sal bly wees? Jesus beklemtoon in die gelykenis die blydskap van die Vader wanneer ‘n sondaar sy Here gevind het. Wat staan in hierdie verhaal voorop? Is dit die krag van die sondaar se oortuiging om sy lewe te verander of is dit die liefde van die Vader wat elke dag gewag en uitgekyk het dat die seun moes terugkeer? Toe die seun nog ver was, het die vader hom tegemoet gehardloop. Die Here ontmoet die sondaar altyd meer as halfpad. Het die vader enige voorwaardes uitgespreek waaraan die seun sal moet voldoen as hy herstel wil word? Tog is daar vandag in bekeringsdienste dikwels lang lyste voorwaardes waaraan voldoen moet word voor vergifnis en verlossing kan intree.

Daar was twee soorte Israeliete in Jesus se dag

Daar was die seun wat gesê het gee my. Hy het belanggestel in sy vader se besittings en nie in sy teenwoordigheid en sy deelgenootskap en kameraadskap nie. Hy praat met sy pa en sê gee my. Dit is twee gevaarlike woorde om te sê. Vir hierdie seun het dit tot sy val gelei en sy val was groot. Wanneer ons tot God bid en sê gee my moet ons tog baie versigtig wees. Gaan lees Paulus se gebede in sy sendbriewe en kyk of gee my daarin voorkom. As dit daar is, dan is ek seker dit gaan oor ‘n geestelike gawe wat Hy van die Here afbid. Nee, ek glo wel dat ons ook oor ons fisiese behoeftes mag bid, maar dit moet ver ondergeskik wees aan die geestelike en aan die nood vir die evangelie in mense se harte.

Dan was daar die ander seun. Hy was ook verlore, nie in afstand of plek nie, maar van sy vader se hart. Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het hulle daarop beroem dat hulle met hulle nakoming van wette en rituele baie naby aan die Here was terwyl hulle eintlik met hulle hart ver van Hom af was. Hierdie mense het ‘n godsdiens bedryf waarin die vlees sentraal staan. Hulle beroem hulle in nougesette en lewelose nakoming van wette en reëls. Hierdie is ‘n lewenswyse wat vir God geen ruimte laat om Sy liefde aan hulle te openbaar nie.

Soos die tweede seun vir die Fariseërs en die Skrifgeleerdes staan, staan die eerste een vir die tollenaars en sondaars. Hulle het geheul met mense van ‘n ver land en het begeer om van die kos van varke (onrein diere) te eet. So het die tollenaars  met die Romeine saamgewerk. Hulle was bereid om kos te eet wat van onrein oorsprong was (van die Romeine) en om in die proses hulle eie mense te help onderdruk.

Genade vyfvoudig beklemtoon

Op vyfvoudige wyse word in hierdie deel van die Bybel beskryf hoe God se liefde uitgaan om tollenaars en sondaars te red terwyl hoogheilige en eiegeregtige mense oor die hoof gesien word. Dit is die essensie van die woord genade. Dit gaan na die wat dit nie verdien nie en die wat dink dat hulle dit verdien, loop dit mis. Vyf is die getal van genade. Die vyf is: Die verlore skaap, die verlore penning, die verlore seun, die onregverdige bestuurder en die ryk man en Lasarus.

Die verlore skaap

Genade word hier uitgebeeld in die feit dat die herder uitgaan om die verlore skaap te gaan soek. Die verlore skaap word nie bepreek oor sy slegte dade en dat hy hom moet bekeer nie. Nee, hy word deur die herder opgesoek, gaan haal en teruggebring. Kan God se genade nog sterker as dit beklemtoon word?

Wie was die verlore skape? Kan ons sê dit is die verlore mensdom wat deur God opgesoek word? Ja, ons kan wel, maar dan net as sekondêre betekenis of toepassing. Wat die primêre betekenis van die verhaal betref, was die verlore skape Israel en niemand anders nie (Ps. 78: 52; 79:13; Jes. 40:11; Jer. 31:10). Die kerk in ons bedeling word nooit skape genoem nie. Net soos by die verlore seun sien ons hier by die verlore skaap ‘n kontras of teenstelling. Die woorde verlore en skaap hoort eintlik nie by mekaar nie. ‘n Skaap is altyd in die Bybel die eiendom van die herder. Die verlore skaap het reeds aan die herder behoort. Dit is juis waarom Hy hom so angstig gaan soek het. Die skape is dus Israel, God se eiendom (Matt. 15:24,25; 10:5,6), maar in die situasie wat God in die Messias op aarde na hulle kom soek het, was hulle verlore. Een het geweet hy is verlore en het ‘n herder nodig om hom te gaan haal, 99 het gedink hulle is nie verlore nie, soos die oudste seun in die verhaal van die verlore seun.

Let op: Die 99 was beslis ook verlore. Hulle was nie veilig in die kraal toe die herder die een gaan soek het nie. Die verhaal sê dat die herder die 99 in die woestyn agtergelaat het om die een te gaan soek. Die gedagte is duidelik. “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” Oftewel, Hy het dié kom soek wat hulle verlorenheid erken het. Die wat soos die Fariseërs in eiegeregtigheid nie hulle verlorenheid erken het nie, was totaal onredbaar. Dit is die essensie van die vyfvoudige beklemtoning van genade. God kom red diegene wat erken dat hulle verlore is. Maar in die massiewe groot stroom teologie van vandag, die verbondsteologie, word mense geleer dat hulle bevoorregte verbondskinders is. Hulle hoef nie te erken dat hulle verlore is nie.

Die verlore penning

Die betrokkenes in hierdie gelykenis is ietwat anders as in die vorige een. Die vrou wat na die penning soek, is in hierdie geval nie Jesus nie, maar Israel self - die geredde mense in Israel.  Die vrou is in die Bybel altyd die beeld van die volk van God. Dit is Israel in die ou bedeling of die kerk in ons bedeling wat ook as ‘n vrou uitgebeeld word (Ef. 5:23,25; Jer. 31:3; Jes. 62:5, ens.). Maar in hierdie verhaal is dit gewis Israel wat primêr hier ter sprake was. Jesus het hier in ‘n bediening vir Israel gestaan.

Die verlore skaap praat van Jesus se aardse bediening toe Hy self na die verlorenes in Israel gaan soek het. Die verlore penning praat van die tyd na die opstanding toe die dissipels Jesus se werk voortgesit het. Op Pinksterdag en vir ‘n tyd daarna word die verlorenes in Israel deur die gereddes in Israel opgesoek. Hulle moes in Jerusalem begin (Hand. 1:8). Dit wat nou gesoek word, is ‘n penning, ‘n voorwerp van waarde. Israel is nog altyd deur God van groot waarde geag. Hulle is sy uitverkore volk. Al die nasies in die wêreld moes deur bemiddeling van Israel gered word. Die nasies het op Israel gewag. Hulle was, as agent van God om die nasies te bereik, van baie groot waarde. Lees ook maar in Hand. 3:25,26 hoe dit spesifiek, duidelik by name die verlorenes in Israel is wat deur die gelowiges in Israel opgesoek is.

Maar ek is bevrees die vrou het nie hierdie penning gekry waarna sy gesoek het nie. Israel het hulle nie bekeer nie (slegs enkelinge - een van die tien pennings). Die waarde van Israel as agent van God vir die nasies het nie in daardie tyd na vore gekom nie (Rom. 9:30,31). Daarna is ‘n ander apostel geroep, Paulus, om sonder bemiddeling van Israel die heil na die nasies uit te dra. Hierdie plan is nie in die Ou Testament aangekondig nie en word dus deur Paulus ‘n verborgenheid genoem. Hierdie kort gelykenis van die penning wys op ‘n kort tydperk in Israel se geskiedenis, Pinkster en daarna. Maar die vrou sal haar penning nog vind. Die Skrif is hieroor baie, baie duidelik. Dit teken ook weer, soos die ander gelykenisse rondom, God se opsoekende en reddende genade. Ja, ons is nou in die bedeling van genade, maar genade is nie ‘n nuwe ontdekking van hierdie bedeling nie. Daarvoor word genade te duidelik in hierdie verhale vyfvoudig beklemtoon.

Die pa laat die seun toe om te loop

Het jy al ooit gewonder hoe die pa dit kon toelaat dat die seun eenvoudig sy deel van die erfenis vat en wegloop? Tree ‘n pa werklik so op? Sal ‘n opregte pa nie eerder met die seun gaan sit en hom waarsku teen die gevaarlike besluit wat hy wil neem nie? Ek is seker hy sal! En nou wil ek nie sê dat dit as voorbeeld moet dien vir vandag se pa’s nie. Jy moet asseblief voortgaan om jou seun sover as moontlik oor die gevare van die wêreld in te lig en hom te ondersteun om op die regte pad te bly - asseblief!

Ons vind dit egter nie in die verhaal nie. Die pad wat jy wil loop, is die vrye keuse van elke mens. Hierdie verhaal beklemtoon dat die bittere ervaring van die verlore seun eintlik die noodsaaklike en enigste weg was waarlangs God die werklike opregtheid en diepte van sy genade kon uitbeeld. Vergelyk asseblief al vyf die verhale wat ons genoem het noukeurig. Genade en herstel is daar vir mense wat weet dat hulle verlore is en niks verdien nie. Die wat dink dat hulle dit verdien, loop dit mis.

Die seun se besluit

Op die heel laagste punt van sy verval, kom die seun tot homself en hy neem ‘n besluit: “Ek sal opstaan en na my vader gaan en ek sal vir hom sê”. Soos wat die seun eers gesê het Gee my ... Gee my ..., sê hy nou: Ek sal ... Ek sal ... Dit is prysenswaardig! - Of is dit? Onthou: Die seun het op hierdie stadium nog nie genade leer ken nie! Hy is nou op die punt waar hy besef dat hy ‘n gemors van sy lewe gemaak het en dat hy drasties iets daaraan sal moet doen. Waardeur word ‘n mens gered? Word jy gered deur Ek sal ... Ek sal ...? Nooit! So nooit as te nimmer nie! Beslis nie in die evangelie wat ek ken nie!

Maar ek sal die seun ook nie kwalik neem omdat hy gesê het Ek sal ... nie. Die vraag wat in die seun se hart opgekom het, was: “Wat kan ek doen om gered te word?” Dit is ‘n wonderbaarlike oomblik in elke mens se lewe. Mag daar meer mense in sonde wees wat hierdie vraag sal vra en wat dan inderdaad opstaan om ‘n antwoord op sy vraag te kry. Let op: Die antwoord wat hy vir homself gegee het, was die verkeerde antwoord en tog was dit die regte ding om op daardie stadium te doen! Hoeveel van ons is nie op dieselfde manier gered nie?

Ons het opgestaan, ons het gaan bid, ons het met iemand gaan praat of wat ook al en ons het gegaan met ‘n hele klomp beloftes wat ons aan die Here gaan voorhou. Is dit die goed wat ons  toe gered het? Nee! Is dit die seun se voorneme en sy beloftes wat hom gered het? Nee! Het die pa die seun se plan van aksie en sy voorwaardes en beloftes aanvaar? Nee! Kan die seun se aksie dus as die weg van verlossing aan iemand voorgehou word? Nee!

Die seun het homself voorgeneem om by sy pa te gaan pleit om hom tog maar net as ‘n dagloner aan te stel. Hy vra niks nie. Hy vra nie dat sy pa hom weer as ‘n seun sal terugvat in die huis nie. Hy wil soos ‘n uitgeworpene en buitestaander behandel word as hy maar net ‘n paar van die krummels kan kry wat van sy pa se tafel afval. Wat is die weg tot saligheid wat in hierdie verhaal verkondig word? Was die seun se aksie die weg tot saligheid? Verre daarvandaan.

So was daar seker ook baie van ons gebede wat ons die eerste keer gebid het toe ons gered is, waarna die Vader nie eers geluister het nie. Die Vader stel nie belang in jou beloftes en jou plan van aksie nie. In hierdie verhaal het die pa baie duidelik nie eers gehoor wat die seun gesê het nie. Tog is daar baie mense wat vandag nog steeds roem op hulle bekering. Hulle preek ook die verhaal van die Verlore Seun so asof die seun gered is op grond van dit wat hy in homself voorgeneem het. Nee! Dit is nie hoe hy gered is nie. Gaan lees die verhaal maar weer.

‘n Groot verskil

Die verhaal verduidelik vir ons ‘n drastiese groot verskil tussen die voorneme van die seun en die denke van die Vader. En nou wil ek dit waag om te sê dat dit een van die groot redes is vir die bestaan van hierdie boekie en hierdie webblad. Daar word vandag in die Christelike gemeenskap twee soorte evangelies gepreek. Die een gaan oor die denke en die voornemens van die mens. Wat kan die mens doen om homself weer met God te versoen? Ek veroordeel hierdie mense nie. Net soos ek verseker en gewis nie die verlore seun veroordeel vir die besluit wat hy geneem het toe hy in die diepte van sy sonde was nie. Dit is al wat hy toe kon doen. Hy het toe nog nie die evangelie geken nie.

Maar die evangelie wat ons in hierdie blad verkondig, is nie die een wat sê dat jy gered word deur jou mooi voornemens nie. Ons verkondig die denke van die Vader soos dit in die evangelie uitgespel word. Elke mens moet een of ander tyd verbybeweeg by dit wat hy in sy sondeverlore toestand as die weg tot saligheid vir homself opgestel het. Wanneer jy God ontmoet, moet jy bereid wees om te luister na dit wat HY in gedagte gehad het vir jou verlossing.  Hoe jy by Hom uitgekom het, is nie ter sake nie. Elkeen se verhaal is op hierdie punt totaal verskillend. Ek gaan nie vandag vir mense preek dat hulle by God moet uitkom op presies dieselfde manier as wat ek daar uitgekom het nie. Dit is sinneloos. Dit is nie waaroor die verhaal gaan nie. Die fokuspunt is nie op dit wat die seun in verlorenheid in homself voorgeneem het nie. Die verhaal gaan oor die hart van God. Sy pa het nie gevra hoe hy daar uitgekom het nie. Hy stel gladnie in daardie detail belang nie. Die feit is: Hulle het mekaar nou ontmoet en hierdie ontmoeting sal gewis en seker nie gebou wees op die beloftes van die seun nie, maar op die genade van die Vader. As hierdie laaste stelling wat ek nou gemaak het, nie waar is nie, dan is die Bybels in my huis nie een waar nie.

Die denke van die Vader

Sy pa het hom al van ver af sien aankom. By die ontmoeting gee Hy hom kans om te praat, maar Hy reageer nie op een woord wat die seun gesê het nie! In plaas van ‘n nederige posisie as dagloner, gee Hy aan hom die hoogste posisie van eer. Hy trek die mooiste kleed vir hom aan en die feesmaal word in gereedheid gebring. Heel aan die einde sluit die verhaal ook af op hierdie selfde toon van blydskap en vreugde in die hart van die Vader. Hierdie is ‘n blydskap wat geen einde sal hê nie.

Die getuienisaand

Nog ‘n deeltjie van die verhaal wat nie hier staan nie, kan ons sommer vir onsself byskryf. ‘n Paar weke later was daar weer ‘n lekker sosiale samekoms van die familie. Die mense vra toe vir die seun: “Hoe het dit gekom dat jy teruggekeer het huis toe?” En nou wonder ek maar net hoe die seun daardie verhaal vertel het. Eerstens wil ek my voorstel dat hy baie huiwerig en skaam daaroor sou wees en nie eintlik aan die versoek sou wou voldoen nie. Toe hulle hom uiteindelik omgepraat het om dit te vertel, sê hy: “Luister mense, dit wat my hier te beurt geval het, is baie ver en hoog verhewe bo dit wat ek verwag het (Efesiërs 3:20). Ek kan nie vandag my verhaal vir julle vertel nie. Julle sal vir my lag as julle hoor wat ek gedink het.”

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).

En hoe klink dit by die getuienisaande wat julle al bygewoon het? Was daar ook mense wat ‘n bietjie skaam was oor die manier waarop hulle die evangelie verstaan het toe hulle die eerste keer tot die geloof gekom het? Ek hoop daar was. Mense, dit is ‘n feit, niemand kon die evangelie en die teologie van genade en verlossing reg verstaan het die dag toe hy tot die geloof gekom het nie. Ons almal het menslike idees gehad wat later moes plek maak vir God se denke en sy wonderbare evangelie. Die verskil is net dat party baie langer bly vassteek by daardie menslike skikkingsvoorwaardes voordat hulle by die evangelie van die genade van God uitkom (Hand. 20:24). Het jy al gedink wat sou gebeur het as die seun hom sou verset teen die behandeling van sy pa en daarop sou aandring dat sy voorwaardes moes geld? Wat ‘n ramp sou dit nie afgegee het nie?!

Ek dink dat ons maar versigtig moet wees op ons getuienisaande. Dit is nie die plek waar mens aan buitestaanders moet leer hoe die evangelie werk nie. Ongelukkig sal daar altyd diegene wees wat nog steeds dink dat hulle gered is deur dit wat hulle in hulleself voorgeneem het. Maak seker dat die mense wat op julle getuienisaande praat, wel mense is wat die groot verskil al ken. Maak seker dat hulle nie die menslike voorneme voorhou as die weg tot saligheid nie, maar dat die blydskap en vreugde wat vir altyd moet aanhou, enkel en alleen gebou is op die denke van God (die sin van Christus - 1 Kor. :7,11-13,16).

“Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor. 2:12).

Profetiese perspektief

Goed, ons het nou oor die interpretasie en die toepassing van die gelykenis gepraat. Ons het gewys op die verskil in die situasie waarin Israel as verbondsvolk in daardie tyd verkeer het. Hulle was verbondskinders. Hulle was, gered of verlore, reeds kinders van die Vader. So is dit nie met ons nie. Maar kom ons kyk nou nog ‘n bietjie verder na die profetiese aspek van Israel in die toekoms wat ook duidelik hier aangespreek word. Die seun kom terug van ‘n ver land af. Hoe is dit vandag gesteld met die volk Israel? Slegs ‘n kein deeltjie van die volk is reeds in die land Israel. Die gelykenis kyk dus vooruit na die toekoms wanneer die volk as ‘n verlore seun van ‘n ver land af sal terugkeer huis toe. Kom ons kyk na Jer. 50:4:

“In die dae en in die tyd, spreek die Here, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die Here hulle God soek.”

Diep onder die indruk van hulle verlorenheid sal Israel nog na die Here terugkom. Hulle sal hom soek in trane van berou oor hulle sonde en verlorenheid. En dan wag daar ‘n groot, geweldige groot verrassing op hulle.

“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die Here dubbel ontvang het vir al haar sondes” (Jes. 40:1,2).

“Die Here jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap: Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel” (Sef. 3:17).

“En ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie” (Jes. 65:19).

“En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel” (Jer. 32:41).

Wat gaan die skikkingsvoorwaardes vir Israel wees? Op watter voorwaardes gaan die Here hulle as volk terugneem? Die verhaal maak dit ook duidelik. Behalwe geloof sal daar geen voorwaardes wees nie. Alles wat in die verlore hart van die volk verander moet word om hulle vir God aanneemlik te maak, sal vir hulle gedoen word:

“Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.”

“En ek sal my Gees in julle gee dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in julle land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en dit gedoen het, spreek die Here” Eseg. 36:5,14.

Nou maak Luk. 15 tog vir ons sin. Eers soek Jesus die verlorenes in Israel, dan soek die gelowige dissipels na die verlorenes in Israel en uiteindelik kom die verlore seun (Israel) na sy Verlosser terug in ‘n dag van ongekende feestelikheid. Mag dit nou baie gou gebeur! Maar gelukkig is hierdie drie kragtige verhale van God se opsoekende en ontvangende genade nie buite perke vir ons wat buite Israel is nie. As genade al in Luk. 15 so klink soos ons dit duidelik hier gehoor het, hoeveel te meer sal dit nie oorvloedig wees in ons bedeling waar Paulus die woord meer as 100 maal gebruik nie?

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|