Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

 

 Uittreksels uit Romeine 1-8

Die Groot Uitnodiging

deur David Malan

Het u al opgelet dat die uitdaging om ‘n lewe onder heer-skappy van die sonde agter te laat en met Jesus Christus versoen te word, eintlik nêrens in die briewe van Paulus voorkom nie? En in hierdie blad is dit ons duidelike uitgangspunt dat die leer en die lewe van die Christen van vandag primêr in Paulus se briewe te vinde is. Beteken dit dan dat ons die groot uitnodiging of uitdaging om met God versoen te word, oor die hoof sien? Natuurlik nie.

Paulus se briewe is aan Christelike gemeentes geskryf. Daarom roep hy hulle nie op om gered te word nie, maar hy herinner hulle eerder aan hulle redding, om daarop voort te bou en kragtig te groei in heiligmaking en kennis van God se Woord. By die Wapenrusting is ons baie in dieselfde posisie. Ek glo nie dat baie ongeredde mense hierdie blad ontvang nie. Dit is aan Christene gerig om die beginsels van fundamentele Skrifkennis aan te leer en hulle sodoende ten volle uit te leef en te verbly as kinders van die Here.

Tog kan en word menige ongeredde siel kragtig tot redding aangespreek deur die lees van Paulus se briewe. Ons bid en vertrou dat die Wapenrusting op hierdie gebied ook nie sonder vrug bevind sal word nie.

In Rom. 1:8 maak Paulus dit duidelik dat hy  aan Christene skryf: “In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word oor die hele wêreld.” Dus skryf Paulus nie aan hulle om tot die geloof te kom nie. Wat doen hy dan? In vers 11 sê hy dit duidelik: “Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word.”

Ja, daar is baie geestelike genadegawes wat aan Christene meegedeel moet word. Let wel: Dit moet meegedeel word. Dit moet nie plaasvind of tot stand gebring word of ervaar word of verdien word nie. Dit moet meegedeel word sodat dit geglo kan word tot versterking, opbouing en vernuwing.

Ervaringsgesinde predikers wil die geestelike gawe weer en weer laat plaasvind en ortodokse en vormgebonde predikers wil ook die genadegawe deur hulle priesterlike magte en rituele weer en weer laat plaasvind. Paulus erken nie een van hierdie twee soorte nie. Hy verkondig dat Christus alles wat tot die saligheid dien, eens en vir altyd volbring het.

Die groot vraag is nou: Hoe kan ’n mens deel kry aan hierdie genadegawe wat Paulus aan hulle wou meedeel? Rom.1:12 laat geen twyfel oor hierdie vraag nie: “… dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.”

Ek is van harte oortuig dat die eerste genadegawe waardeur ‘n mens gered word, presies dieselfde werk as al die ander genadegawes wat aan die Christene meegedeel moes word. Dit is tog presies wat Paulus hier sê. Hy praat met mense wat reeds gered is, maar die eerste ding wat hy vir hulle sê, is dat hulle die genadegawe waardeur hulle gered is, moet verstaan.

“Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek”  (:16).

Laat elke verlore siel hierdie waarheid vandag hoor. Redding is nie ‘n nuwe gebeurtenis, ‘n nuwe krag wat afgebid moet word, ‘n nuwe wonder wat opgetower moet word nie. Redding is daar. Dit bestaan. Dit is beskikbaar vir elke mens. Dit is nie geleë in jou belydenis, in jou bekering, of in jou beloftes om die sonde te laat staan nie. As dit so was, sou geen sterfling ooit gered kon word nie.

Redding is in die krag van die evangelie—en dit moet geglo word.

Elke siel wat moedeloos rondploeter in die sonde, word opgeroep om die evangelie te glo. Daar is hoop vir elke sondaar en hierdie hoop is buite jouself geleë. Gaan uit na Jesus—buite die laer. Gaan ontmoet Jesus buite die raamwerk van jou veilige bestaan. Ruk jou los van skanse en vestings wat jy om jouself opgebou het en aanvaar die feit dat Jesus alleen jou lewe en heil kan wees.

Johannes 1:12 sê dat almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word. So, waar kry mens die krag om ‘n kind van God te kan word? Nie deur rituele, belydenisse of nuwe gebeurtenisse nie. Die krag is al klaar daar. Jy moet Jesus in die gebed aanneem; dan word jy deur sy krag ‘n kind van God.

En wat nou van my sonde? Hoef ek nie eers my sonde te bely nie? Kan ek net so met my sonde en al ‘n kind van God word?

Nee, verseker kan jy nie met jou sonde en al ‘n kind van God word nie! Sonde is dan nou juis die groot skeiding tussen God en mens wat afgebreek moet word sodat ons gered kan word. Sonde is die groot en die enigste oorsaak dat derduisende miljoene mense in die verdoemenis gaan beland, die poel van vuur wat met swawel brand soos Openbaring dit beskryf. Luister net wat Rom.1:18 verder sê: “Want die toorn van God word van die Hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk.”

En dan Rom. 3:19:

“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees.”

God haat die sonde en enige ongeregtigheid van die mens-dom en dit maak almal voor Hom doemwaardig. Maar hulle het nie besef hoe verlore en doemwaardig hulle voor God was nie. Daarom gee God toe die wet aan die Israeliete om aan die hele wêreld te illustreer hoe verlore en doemwaardig hulle is. Dit is al wat die wet kon doen. Hy kon die mens wys hoe sondig en doemwaardig hy is. Geeneen van die wettiese voorskrifte het enige mens ooit nader aan God gebring nie.

Tog het die wet daarin geslaag om die mens vir die verlossing gereed te maak. Elke mens moet sy doemwaardigheid erken, anders sal hy nooit die noodsaaklikheid van verlossing aanvaar nie. Dit was die funksie van die wet. Maar die wet het vanweë die sondige geaardheid en natuur van die mens geen krag om enige skepsel nader aan die Here te bring nie.

Moenie probeer om deur voorskrifte, belydenisse en beloftes nader aan die Here te kom nie. Om die mag van die sonde te breek, is nie in ons hande nie. Om ‘n ongeredde mens tot bekering van sonde op te roep, is ‘n onbegonne taak. Die wet eis bekering en volkome geregtigheid—en tog vat die wet jou net tot daar waar jy jou totale verlorenheid besef en niks verder nie. Daarom gaan Rom. 3:21-23 voort:

“Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet … die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo … want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”

Ja, hier staan dit weer: almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. En hoe gaan hulle nou gered word? Sommer so met hulle sonde en al? Nee, sekerlik nie. Mense wat gered sal word, is juis mense wat hulle sondeverlorenheid erken. Hulle wil van hulle sonde verlos word, maar hulle kan dit nie self doen nie. Hulle kan hulle nie bekeer nie - hulle kan dit erken, maar hulle kan ook nie die rug daarop keer en belowe om dit te laat staan nie. As hulle dit sou kon doen, dan sou Jesus en die krag van sy evangelie vir hulle oorbodig gewees het.

En dit is juis die groot rede waarom Rom. 3:21 begin met die groot MAAR. Dit is ‘n teenstelling. Dit is iets totaal anders en nuuts. Die wet het die volk na 1 500 jaar net kon oortuig van hulle verlorenheid en hulle nie ‘n duim nader aan die Here gebring nie. Hulle het iets anders en kragtigs en nuuts nodig gehad om hulle te kon red.

Laat elke verlore siel hierdie wonderlike Woord vandag aanhoor. Die redding wat hier aangekondig word, is weereens nie iets wat weer en weer moet plaasvind of wat ons moet laat gebeur of wat ‘n priester of ‘n heilige moet laat gebeur nie.

Hierdie is die nuwe geregtigheid van God wat by die kruis deur die verlossingsdaad van Jesus tot stand gekom het en wat in al sy wonderbare eer, heerlikheid en glorie uittroon bo die geregtigheid van die wet wat geen mens kon red nie. As daar van hierdie geregtigheid gepraat word, word daar duidelik gesê dat dit nie verdien, geskep, afgebid en opgetower moet word nie, maar dat dit in al sy volheid en heerlikheid “geopenbaar” word.

Hier is dit, sê die Here, kom ek wys vir jou hoe dit lyk, wat dit is, waar dit vandaan kom en hoe jy dit nou op hierdie oomblik jou eie kan maak. Maar let op. As daar nou sprake is van ‘n geregtigheid wat wel die sonde gaan oorwin en die mens in die regte verhouding met God gaan bring, dan word daar onmiddellik in die eerste sin gesê dat die wet hier weggehou moet word. Geen voorskrif, metode of menslike kwalifikasie kan hier eers genoem word of van gedroom word nie.

Hierdie geregtigheid is volmaak en kom van Christus af. Die Metodisme wat in sy teologie die metodes opgestel het van hoe die mens moet maak om by hierdie geregtigheid uit te kom en sy teologie toe ook so ‘n metodiese naam gegee het, het hierdie verse nie mooi verstaan nie. Dit is sonder verdienste en uit genade en sonder die aankondiging van enige voorskrifte of metodes wat nagekom moet word.

As daar sulke voorskrifte was, moes dit tog hier in Rom. 3:21-28 genoem word—hier waar die nuwe geregtigheid geopenbaar word. Maar daar is niks. Al wat gesê word, is dat alle roem nou uitgesluit is (v.27). Dit is ‘n roemlose verlossing. Juis daarom is dit so ‘n ongewilde en onpopulêre evangelie. Byna elke teologie wat daar is, het sy stukkie roem wat hy vir die mens wil reserveer deur darem vir die mens ook iets te gee om by te doen by dit wat hier staan. In die Wapenrusting volg ons nie een van dié teologieë na nie. Ons staan vir hierdie roemlose evangelie net soos dit hier beskryf word.

Genl. Christiaan de Wet was 100 jaar gelede ‘n totaal gebroke man toe hy na twee en ‘n halwe jaar se stryd op die slagveld, met baie bloed wat gevloei het, by Vereeniging ‘n totaal roemlose oorgawe moes onderteken. Die stryd was nutteloos en ‘n vermorsing van tyd, geld en lewens. Wie is daar wat al sy pogings en stryd en moeite goedsmoeds en roemloos op die altaar plaas en sê dit was alles tevergeefs?

En wat van Israel na 1 500 jaar onder die wet? Hoeveel moeiliker moes dit nie vir hulle wees as vir De Wet nie? Hoe aanvaar jy goedsmoeds dat 1 500 jaar se pynlike nakoming van die wet jou totaal niks in die sak gebring het nie? Hulle moes toe ‘n roemlose oorgawe doen en erken dat alles wat goed is en tot hulle saligheid dien, totaal sonder hulle eie pogings en ver buite die wet, uit genade na hulle kom.

Geen wonder nie dat, toe Paulus met dié storie na die Jode toe gaan, hulle hom keer op keer en dorp vir dorp wou stenig en om die lewe wou bring (van Hand. 13:38 reg deur tot by Hand. 28:27). Waarom? Want Israel was nie bereid om so ‘n roemlose verlossing te aanvaar nie. Net dit. Niks anders nie.

En waarom is daar vandag so baie kerke? Is die evangelie wat hier in die eerste hoofstukke van Romeine uitgespel word, nie duidelik genoeg dat die kerke hulle verskille kan laat staan en daaromheen kan verenig nie? Nee, dit is te veel gevra. Die een na die ander prediker het opgestaan om vir hom en sy navolgers nog ‘n stukkie roem uit die evangelie te probeer loskoop en sodoende weg te breek van die letterlike waarheid van ‘n totaal roemlose verlossingsboodskap.

Israel kon nooit in ‘n posisie van vrede met God kom nie: Hulle persoonlike mislukking om aan al die vereistes van die wet te voldoen, het hulle voortdurend voor God aangekla.

Maar ons is vandag in die posisie om aan die verlore sondaar ‘n groot uitnodiging te rig om totale vrede met God te bereik. Hoe sal ons dit doen? Is ons beter as die Israeliete? Sal ons in staat wees om onsself totaal te bekeer sodat ons nooit weer onvrede met God sal hê nie? Ek glo nie ons kan nie. Die wet het sy werk gedoen en oorvloedig bewys dat daardie weg geen vrede tot stand bring nie. Slegs ‘n nuwe stelsel waar God 100% alles doen en die mens niks nie, kan vrede bring.

Bedoel ek werklik wat ek sê - is daar vir die mens niks te doen nie? Rom. 4:4,5 gaan voort om te verduidelik:

“Aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Abraham se liggaam was verstorwe en hy kon nie meer ‘n kind verwek nie. Abraham het absoluut niks meer gehad om van sy kant by te dra dat God se belofte ‘n werklikheid kon word nie (Rom. 4:18-22). Die enigste manier waarop iets sou kon gebeur, was dat God alleen en kragtig moes optree en dit sou Hy doen, as Abraham net in God sou glo. En dan volg die ongelooflik belangrike verse in 4:23,24:

“Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het.”

Is daar vir ons iets om te doen? Wat is daar om te doen? Ons moet glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het. Want sien, die opstanding van Jesus uit die dood IS vir ons die ontvangs van die nuwe lewe en die ontvangs van God se geregtigheid. Wat ‘n evangelie! Wat ‘n wonderbare, kragtige daad van verlossing. Ons hoef nie eers soos Abraham te hoop en te glo op ‘n wonderwerk wat nog moet gebeur nie. Ons wonderwerk het klaar gebeur!

En tog is daar miljoene wat dit nie glo nie en wat ons uitlag as ons dit as ons verlossing aanvaar. Dit is die mense wat op een of ander manier roem vir hulleself in die evangelie soek.

Kan ‘n kliphard-verharde sondaar vandag nog in een oomblik totaal vrede by God verkry? Ons kan die vraag ook anders stel: Is dit moontlik vir ‘n sondaar om vrede by God te kry as hy met sy nakoming van voorwaardes na die Here toe gaan?Rom. 5:1,2 antwoord:

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God”.

Ons het gesê Paulus skryf nie vir ongeredde mense nie. Hier is dit ook baie duidelik. Tog is hierdie twee verse weer ‘n kragtige en duidelike aanwysing, ook vir ongeredde mense, wat hulle moet doen om vrede by God te kan vind.

Juis as ‘n mens op hierdie wonderlike nuwe manier geregver-dig is deur self niks te doen nie en in Jesus te glo, bring dit  vrede.  Deur in die geloof te aanvaar dat God Jesus uit die dode laat opstaan het en dat daardie daad van God ook vir my persoonlik die ewige lewe beteken, bring vrede met God. Juis hierdie nuwe evangelie wat die mens roemloos laat en al die roem na God laat gaan, bring totale vrede en sekerheid.

Ek is nie meer bang dat ek môre dalk nie meer aan die vereistes gaan voldoen nie, want die mens, ek, is roemloos by hierdie vredesluiting weggeteken. Net God is in tel. En daarom het ek nou totale vrede by God wat geen mens ooit van my kan wegneem nie.

En as ek hierdie vrede het en as God se onfeilbare Woord van hierdie vrede getuig, kan en sal ek voortgaan om dit met groot vrymoedigheid vir elke verlore sondaarmens aan te bied—verniet, totaal verniet. Die mens wat wil betaal, sal hierdie vrede nooit kan smaak nie.

Maar maak ek nou nie die evangelie goedkoop om so ‘n wonderbare skat sommer net verniet weg te gee nie? Gooi ek nie nou die deure wyd oop vir sondaars en tollenaars om God se heiligdom te kom ontheilig nie? Gee ek nie nou vir Christene ‘n lisensie om aan te hou om sonde te doen nie?

Wel, eerstens is dit nie ek wat dit doen nie, want die oplettende leser sal nou reeds oortuig wees dat ek reg van die begin af letterlik net gesê het presies wat in die Bybel staan. Ek maak nie die evangelie goedkoop nie - ek sê net woordeliks akkuraat wat God se Woord van die evangelie sê.

Tweedens kan ons ook maar daardie vrees dat so ‘n evangelie tot onverskilligheid sal aanleiding gee, vergeet, want Paulus gaan self in Rom. 6 voort om te verduidelik:

“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, sodat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?

“aangesien ... ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus ...”

Rom. 6 maak dit duidelik dat daar nou dat ons gered is, sekere goed is wat ons moet weet. Ons moet dus uit die Woord leer en ons kennis van die Godsaligheid voortdurend opbou. Ons moet toeneem in kennis, waardering en bewondering vir Hom wat hierdie heerlike Godswonder in ons tuisgebring het. Ons moet leer hoe die saligheid in ons tot stand gekom het. Hierdie kennis sal ons inspireer om aan God toegewy te lewe, die sonde te oorwin en uit te leef wat ons werklik geglo het die dag toe ons tot die geloof gekom het.

Christene is in hierdie wêreld in ‘n sekere sin in ‘n moeilike situasie. Geestelik gesproke het ons die totale oorwinning en absolute vrede met God, maar in die praktyk is ons nog deel van die wêreld en moet ons die vlees onderwerp deur gehoorsaamheid aan die Gees. Ons moenie net sekere dinge weet nie, ons moet ook sekere dinge reken.

Ons het saam met Christus aan die kruis gesterf. Dit is ‘n  geestelike feit. Nou kom die uitdaging om dit te reken (6:11), m.a.w. om iets wat ‘n geestelik-onomstootlike feit is, so sterk vas te hou en te koester dat dit ook prakties ‘n lewenswyse sal word. Ons sal nou daagliks die vlees die stryd aansê met die wete dat ons nie meer nodig het om na hom te luister nie, want ons reken dat ons ook prakties dood is vir die sonde en die vlees.

So sal ons algaande groei en sterk word in heiligmaking. In elk geval bly dit steeds ‘n feit dat ons nou ‘n baie beter kans het om deur die Gees en deur die nuwe evangelie by praktiese geregtigheid van lewenswandel uit te kom as wat mens sou hê as jy dit deur voorskrifte, voorwaardes of deur die wet sou probeer doen. Rom. 8:3,4 verduidelik:

“Want God het—wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees - deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Dit wat die wet wou doen, maar nie kon regkry nie, sal nou gedoen word, maar beslis nie meer deur die wet nie! Die wet werk deur die vlees en die vlees het by die kruis gesterf. Nou sal ons die dinge van die Gees bedink en só die reg van die wet vervul.

Wat ‘n blye verlossingsboodskap is dit nie! Ons het dus nou nog baie meer om vir ‘n verlore sondaar te sê as net dit wat in Rom.3:21 en 5:1 staan. God skenk nie net vir hom die gawe van die nuwe geregtigheid en van vrede met God en los hom dan om self, alleen, teen die sonde te stry nie! Daar is hoop! Ons kan en sal inderdaad ook hier op aarde as Christene die stryd teen die vlees en die sonde wen.

Geen sondaar hoef terug te deins en te twyfel of hy in staat sal wees om. nadat hy gered is, die sonde te oorwin nie! Is dit dan nie ook die rede waarom Rom. 1:16 reg aan die begin al die evangelie die krag van God genoem het nie? Wanneer ‘n sondaar hom vandag tot God bekeer deur Jesus in die geloof aan te neem, ontvang hy onmiddellik ook daarmee saam die vrug en die krag tot heiligmaking. Dit is tog wat Rom. 6 duidelik uiteensit. Ons het nie by die kruis net vergifnis van sondes gekry nie - ons het ook daar by dieselfde kruis saam met Christus gesterf. En dit is hierdie sterwe wat die werklike krag inhou om oor die sonde en die vlees te kan triomfeer.

Dit alles, ook wat hier in Rom. 6 en 8 as oorwinning oor die sonde en die vlees aangebied is, kom van God af. God het nie witbroodjies wat Hy voortrek bo ander nie. Al hierdie dinge is vandag net so vir jou en my en almal beskikbaar. Ook jy kan jou vandag met ‘n nuwe loflied hierin verbly:

“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? … Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus , onse Here, is nie” (Rom. 8:31-39).

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|