Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

Selfverloëning
 

 Selfverloëning

deur David Malan

Selfverloëning is een van die mees prominente en waardevol-ste lesse wat in die Evangelies geleer word. Elkeen wat Jesus wil navolg, moet homself verloën en sy kruis opneem (Mat. 16:24). Nie alle gelowiges was dissipels nie. Die dissipels was hulle wat ‘n besonder intieme verhouding met Jesus gehad het en daagliks van Hom persoonlik geleer het. Dit verg opofferings. Maar die wins wat daardeur verkry word, is oneindig waardevol.

In Matt. 18:4 leer die Here Jesus weer sy dissipels dat elkeen wat die grootste in die koninkryk van die hemele wil wees, klein moet word soos ‘n kindjie. Vir aardse roem en grootheid is daar in die koninkryk nie plek nie.

Hierdie en vele soortgelyke lesse in die Evangelies was duidelik daarop ingestel om Israel se hart en gesindheid te verander met die oog op die instelling van die koninkryk. Jesus sê: “Leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart.” Dit is in wese die Evangelies se oproep tot bekering. Israel moes ‘n hartsverandering ondergaan. Vir die meeste het dit seker beteken om vir die eerste keer persoonlik tot die geloof te kom en gered te word en vir andere was dit ‘n geval van ‘n gelowige mens wat van sy hoogmoed ontslae moes raak, sy kruis moes opneem, klein en nederig moes word. Bekering beteken ‘n hartsverandering en totale verandering in jou houding teenoor die lewe en jou Here. Dit kan van toepassing wees op sowel ‘n ongeredde as op ‘n geredde mens.

Daar is ‘n belangrike “van toe af” in Matthéüs. Jesus se bediening vóór Matt. 13 was veral toegespits op die gelowige dissipels, maar die skare is ook aangespreek. Na Matt. 13 egter, is die ongelowiges nie meer aangespreek nie en gaan dit net om die gelowige dissipels (Matt. 13:10-17). Die bekeringsboodskap dat die hoogmoedige hart plek moet maak vir kinderlike nederigheid en selfverloëning, is dus by uitstek ‘n oproep tot bekering vir geredde mense!

Hierdie lesse van selfverloëning in die Evangelies is van onskatbare waarde, nie net vir Israel op pad na die koninkryk nie, maar ook vir ons wat deel van die kerk van Christus onder al die nasies is. Kom ons gaan lees nou verder oor hierdie saak in die briewe wat besonderlik gerig is aan die kerk waaraan ons behoort.

Let wel: Jesus en sy dissipels het sinagoges en die tempel besoek, het offers gebring, hulle belasting aan die tempel betaal en het die gesag van die wet van Moses erken. Ons is nie in so ’n posisie nie en was ook nooit, maar daar bly ander waarhede van daardie tyd wat onveranderlik deur die Bybel voortgaan en vandag ook net so op ons van toepassing is.

Selfverloëning is ‘n essensiële kenmerk van Christen-wees. Wat sou die teenoorgestelde van selfverloëning wees? Ek wil dit nie eers noem nie. Dink maar self. Dit wat teenoor selfverloëning staan, is dikwels nie dinge wat verkeerd is nie. Dit is byvoorbeeld nie verkeerd of sonde om op te eis wat wettiglik aan jou toekom nie—maar dit is ook nie selfverloëning nie. Die evangelie vra dus van jou iets wat baie meer is as om sonde te los of om die wet na te kom.

Ek is ‘n genadeprediker en nie ‘n voorstaander van wetspre-diking nie. Ek preek ook nie net oor sonde nie, maar oor genade. Genade vra meer as om op te hou sonde doen. Genade word nie net ontvang nie, maar ook uitgeleef. En om genade uit te leef, vra selfverloëning. Selfverloëning is baie meer as om reëls na te kom of om sonde te vermy. Kom ons lees nou 2 Thess 3:6-9.

“Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie.

“Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie;

“ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.

“Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.”

Wat was die norm of die standaard vir ‘n gesonde Christelike lewenswandel in daardie tyd? Vers 6 praat van ‘n oorlewering (tradisie) waaraan hulle noukeurig moes vashou. As iemand dit nie gedoen het nie, moes hulle van daardie persoon onttrek. Wat was hierdie oorlewering wat so ‘n duidelike riglyn vir hulle was? Die vers sê dit is wat hulle “van ons ontvang het.” Die “ons” verwys natuurlik na Paulus. Vergelyk dit nou met 2 Thess. 2:15: “So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur ‘n woord òf deur ‘n brief van ons.” Die gesagvolle oorlewering of tradisie wat bepaal het hoe ‘n Christen hom moet gedra, kom uit die mond of die pen van Paulus. Net dit.

Die meeste mense dink Paulus sê maar sommer dat sy lering hulle norm is omdat hy toevallig die een is wat die brief skryf. Dit gaan egter oor veel meer. 1 Kor. 14:37 sê pertinent dat geen mens homself geestelik kan ag in hierdie bedeling as hy nie die gesag van Paulus aanvaar nie.

En deel van hierdie oorlewering van Paulus was die oproep tot selfverloëning. 2 Thess. 3:9 hier langsaan sê duidelik dat Paulus wel die reg gehad het om die mense te vra om te betaal vir die werk wat hy in hulle midde as evangeliedienaar gedoen het. Hierdie beginsel geld in alle bedelings. Onder die wet is die priesters  uit die tempelbelasting betaal. Maar hier kom Paulus nou en hy sê dat hy nie op daardie stadium van sy reg gebruik wil maak nie. Hy het besluit om in die nag met sy hande te werk om vir homself ‘n inkomste te verseker.

En nou kan mense maklik kom sê: Goed en wel, dit was wat Paulus wou doen, maar dit het niks met ons te doen nie. Ons moet nog steeds voortgaan om al ons regte op te eis. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Let op: Paulus sê duidelik dat hy van sy reg afstand gedoen het om sodoende vir ons ‘n voorbeeld te stel. Watter voorbeeld? ‘n Voorbeeld van selfverloëning ter wille van die voordeel van die evangelie.

Daar is nêrens in die hele Bybel ‘n wet of reël wat sê dat ‘n mens nie mag opeis wat jou wettiglik toekom nie. ‘n Mens kan sekuur elke jota en tittel van die wet onderhou en dan nog steeds ‘n inhalige mens wees wat nie die belang van die evangelie eerste stel nie. ‘n Mens kan selfs so ver gaan om te sê dat hy heilig is en geen sonde in sy lewe het nie (baie mense meen dat heiligheid net te doen het met die afwesigheid van sonde). Wel, dit is duidelik dat God se ideaal vir ons oneindig groter is as wetsgehoorsaamheid of afwesigheid van bewuste sonde.

Die wet wat op tafels van klip gegraveer is, is uit die weg geruim. Daar is nou ‘n ander wet—’n totaal andersoortige wet wat nie uit reëls en voorskrifte en verordenings bestaan nie. Dit is ‘n wet waar een mens ook nie ’n vinger vir ‘n ander kan wys dat hy nie aan die voorskrifte voldoen nie. Goed, daar is sekerlik nog basiese dinge soos moord, diefstal, drankmisbruik en onsedelikheid, waar een Christen wel ‘n ander kan en moet aanspreek.

Maar daar was niemand wat Paulus sou kon aanspreek as hy sou verwag het om vir sy evangeliewerk betaal te word nie. Dit was sy reg. Maar hy wys dit van die hand—en die moeilike deel is dat hy hierdie optrede nou as voorbeeld vir ons nalaat. Dit beteken nie dat niemand nou meer vir sy werk as evangeliedienaar betaal mag word nie. Daar was verskeie geleenthede waar dit vir Paulus onmoontlik was om vir homself finansieel te sorg, ook toe hy in die tronk was. Toe het hy wel van sy reg gebruik gemaak en bydraes van die gemeentes ontvang.

Ons sien dus duidelik dat hier ‘n nuwe wet was wat in Paulus se hart geskrywe was—een wat baie verder gegaan het as wat enige voorskrif in die Bybel gaan. En Paulus wil hê dat hierdie wet ook in elkeen van ons se harte geskrywe moet wees. Dit is die “wet” van selfverloëning. Ons is elkeen in ‘n totaal verskillende situasie in die lewe as wat Paulus was en ons situasie verskil verder ook van persoon tot persoon. Daarom kan geen mens vir ‘n ander een voorskryf wat hy moet doen vir selfverloëning nie. Hierdie is sekerlik ‘n “wet” wat nie op papier geskryf kan word nie en wat nie deur enigiemand op iemand anders afgedwing kan word nie.

Dit is ook nie ‘n wet waaroor ander Christene vir jou sal kan sê dat daar “sonde” in jou lewe is as jy dit nie nakom nie. Maar dit bly staan soos ‘n paal bo water dat hierdie ‘n wesenlike en dinamiese nuwe “wet” van die nuwe bedeling is.

Hier is slegs twee partye by hierdie “wet” betrokke - God deur sy Woord en die Heilige Gees aan die een kant en een enkele Christenmens in sy binnekamer aan die ander kant. En hierdie wet sny tot in die diepste kern van ons Christelike bestaan. Fisiese voorskrifte wat op klip of papier geskryf is en waar een Christen vir die ander een vinger wys, is net nie meer goed genoeg om in die nuwe bedeling waarin ons leef ‘n reël vir ‘n godvrugtige, dankbare en toegewyde kind van God uit te maak nie. Die Christelike lewenswandel van vandag gaan nie meer oor sonde of nie sonde nie, maar oor die dinamiese werking van God se nuwe “wet” diep binne-in ons harte. Die selfverloëning wat van jou verwag word om die  evangelie tot voordeel te wees en God te verheerlik, is nie dieselfde vir my of vir enigiemand anders nie. Dit is iets wat ek en jy alleen met die Here moet gaan uitklaar.

En tog is dit nie net opsioneel nie. Ek en jy het nie die reg om daarvan weg te skram nie. Dit is ‘n wesenlike nuwe “wet” wat God deur sy Gees in ons harte kom plaas. Moet ook nie dink dat jy nou ‘n groot, wonderlike daad vir God gedoen het wanneer jy uit selfverloëning iets vir die Here gedoen het nie. Moenie verwag om deur enigiemand of deur die Here daarvoor op die skouer geklop te word nie. Al wat Paulus vir sy voorbeeld van selfverloëning by die Thessalonicense gekry het, was om met klippe uit die stad uit gedryf te word. Hy moes soos ‘n skelm in die nag wegvlug.

En let noukeurig op wat Paulus sê van die mense wat nie sy gesag erken nie—mense wat nie bereid is om die nuwe wet van selfverloëning te eerbiedig nie. Ons het dit aangehaal: “dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie.” Ten spyte van die feit dat daar geen wet te vinde is oor selfverloëning nie, is diegene in die Christelike gemeenskap wat dit verontagsaam, “onordelikes” genoem. Wel, ek het gesê een Christen kan nie vir ‘n ander Christen hieroor vinger wys nie en tog staan hier dat mens jou van die onordelikes moet onttrek. Miskien bedoel Paulus hier meer in die algemeen diegene wat nie Paulus se gesag aanvaar om te openbaar wat God se model vir ons lewens is nie.

Aanhangers van die evangelie volgens die nuwe bedeling vir vandag soos dit deur Paulus openbaar is, word dikwels en voortdurend daarvan beskuldig dat hulle sag is oor die wet en met sonde. Ek is nie sag oor sonde nie. Ek haat sonde en ek skroom nie om dit by die naam te noem nie. Maar onthou net: Ef. 6 sê ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. En sonde kom na vore in vlees en bloed. Ek stry nie teen die sonde op sy terrein van vlees en bloed nie. Ek stry vir die triomf van God se wonderbare, dinamiese nuwe “wet” binne-in my hart. Dit is ‘n geloofstryd. Dit is nie ‘n aardse en wettiese stryd van doen dit en doen dat nie.

Maar dit is ‘n stryd wat ons, solank ons staatmaak op die volkome afgehandelde voorsiening van Jesus Christus, nooit kan verloor nie. Gaan voluit vir die Here! Mense wat nie voluit vir Hom gaan nie, is diè wat dit in die vlees doen en telkens moet twyfel. Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikhede van die vlees volbring nie.

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|