Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

Die Eersgeborene uit die dode
 

Het Jesus Liggaamlik uit die dood opgestaan?

Deur David Malan

 

Ek is daarvan oortuig dat die lesers van die Wapenrusting hulle Here en Verlosser ken. As sulke Christene ‘n opskrif soos hierbo lees, dan is die eerste reaksie dat dit nou tydmors is om so ‘n artikel te lees. Jy sal sê: Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins (Fil. 1:21). Ek weet dat Jesus leef. Ek het nie nodig om nog argumente aan te hoor wat bewys dat Hy uit die dood opgestaan het nie.

Maar vriende, ons sal moet wakker slaap en kennis neem wat in die wêreld aan die gang is. Tot nou toe was dit net die teoloë wat onder mekaar geredeneer en ooreengekom het dat Jesus nie is wie die Bybel sê Hy is nie; Hy is nie maagdelik gebore nie; het nie wonderwerke gedoen nie; Hy is nie God nie en Hy het nie uit die dood opgestaan nie. Honderd en vyftig jaar gelede was daar twintig invloedryke predikante in die NG Kerk in die Kaap wat presies hierdie dinge geglo en gepreek het (Wapenrusting nommer 8 - Des. 1993). Maar die kerk het streng opgetree en daardie mense geskors. Van toe af tot nou moes predikante en teoloë wat sulke goed glo, dit in die geheim bedryf of hulle is geskors.

Maar wat is nou besig om te gebeur? Die gewone Christene en die man op straat word aktief met daardie idee gebombardeer. Dit is nie meer net ’n geheime stokperdjie van teoloë om te sê dat Jesus nie God is nie. Die stryd het nou ‘n nuwe fase betree.

Daar is nou al verskeie boeke gepubliseer wat gerig is op die populêre Christelike mark in Afrikaans (vir gewone Christene) met die doel om te bewys dat Jesus nie gedoen het wat in die Bybel staan nie en dat Hy nie God is nie. Die jongste waarvan ek weet, is “Jesus: die keuse” deur Isak du Plessis, uitgegee in 2005 deur Lux Verbi. Spasie ontbreek om die boek nou in detail te behandel en ek glo ook nie julle wil hê ek moet dit doen nie. Ek gaan net ‘n paar skokkende dele uit die boek aanhaal en dan in die res van die artikel voortgaan om die wonderlike, verligtende waarheid van die Godheid en liggaamlike opstanding van Jesus Christus voor te hou.

Reg op die agterblad van Du Plessis se boek waar die boek aantreklik gemaak en bemark word, lees ons: “Verbind jou in geloof aan Christus wat leef deur die oë en die hart en die hande van sy volgelinge vir elke tyd.” Veelseggend, is dit nie? Vir Du Plessis leef Christus nie op Sy eie nie; Hy leef maar net in die oë en die harte en die hande van Sy volgelinge.

In hoofstuk 2 betoog Du Plessis dat daar teenstrydighede in die verhale van die verskillende Evangelies is, bv. die vlug na Egipte en die ster van Bethlehem. Daarom is dit vir hom ‘n bewys dat die Evangelies nie die geskiedenis akkuraat weergee nie, maar eerder ‘n mensgemaakte verhaal van Jesus konstrueer wat die doel van die betrokke evangelieskrywer dien.

In die genesingswonder wat Jesus in Luk. 13:10-13 verrig het, sien Du Plessis dat die vrou na haar bevryding “God” geprys het. Dit word deur Du Plessis verstaan as ‘n aanduiding dat dit nie Jesus was wat die wonder verrig het nie, maar God. Jesus was maar net God se agent. Du Plessis het blykbaar nie raakgesien dat die vrou verstaan het dat Jesus eintlik God is nie.

Du Plessis haal ook ‘n paar ander teoloë se standpunte oor Jesus aan, onder andere Stevan Davies (1995):

  • Jesus het Homself nie as ‘n Goddelike wese beskou nie.
  • Dit is logies onverstaanbaar dat een persoon tegelyk God en mens kan wees.
  • As ons die leer van die twee nature van Jesus glo (God én mens) dan kan ons Hom nie meer as persoon aanvaar nie.
  • Dat Jesus God is wat vlees geword het, moet ons maar net metafories verstaan.

Stem Du Plessis dan saam met Davies? Ja, inderdaad. Hy sê:

“Enige een wat rasioneel oor Jesus nadink, sou waarskynlik tot dieselfde slotsom gekom het: Jesus is eers deur sy volgelinge tot God verhef. ‘n Christen hoef nie met geskokte weersin te reageer op sulke argumente van kritiese ontleders nie.”

Wanneer ons as Christene na ‘n gebeurtenis in Jesus se bediening verwys wat ná die kruisiging plaasgevind het, sê ons gewoonlik: “na Sy opstanding” of “na Sy hemelvaart.” Ons praat so omdat ons glo dat Jesus waarlik opgestaan het en leef. Du Plessis se woorde wat ek dikwels in die boek lees is: “Na Jesus se dood.”

Dit behoort nou reeds duidelik te wees dat Du Plessis hoegenaamd nie glo dat Jesus God is of dat Hy uit die dood opgestaan het nie. Maar kom ons gaan kyk wat hy oor die opstanding te sê het. Eers haal Du Plessis ‘n paar teoloë se standpunte aan wat die liggaamlike opstanding van Jesus bevraagteken: David Strauss, Bultmann, Schenbeekx en meer resente standpunte. (As mens te bang is om self iets te sê, dan sê jy wat ander gesê het!) Daarna gaan Du Plessis op heel ontwykende trant voort:

Het die opstanding werklik gebeur? Oor die historisiteit van die opstanding is daar reeds baie geskryf en kan daar nog baie gesê word waarop ek nie hier wil ingaan nie ... Dit sal altyd in misterie gehul bly en daarom sal dit ook altyd in geloof bely moet word en nie asof ons weet hoe dit fisies moontlik was of in werklikheid gebeur het nie.

Vir Du Plessis is dit duidelik waarom daar ‘n opstandingsverhaal in die Bybel moes wees. Jesus het (as martelaar) gesterf vir die waarheid van God en daarom kon Sy verhaal nie net daar so stomp eindig nie. Daar word ‘n opstandingsverhaal bygevoeg om die dinamiese voortgang van Jesus se lewe en sy prediking deur sy navolgers moontlik te maak. Maar die vraag of dit werklik histories plaasgevind het, is vir hom nie ter sake nie.

Meer as ‘n Jesus

Die historikus Philip Schaff het ‘n groot waarheid uitgespreek. “Dit sou meer as ‘n Jesus vra om ‘n Jesus uit te dink.” Prof. Du Plessis en sy kollegas in die verskillende teologiese skole en hulle navolgers glo blykbaar dat dit die Evangelieskrywers was, tesame met die tradisie van die tyd wat Jesus uitgedink het soos Hy in die Bybel beskryf is.

Maar het hulle met so ‘n naïewe idee rekening gehou met al die feite? Vir hulle was die werklike Jesus van die geskiedenis net ‘n gewone leermeester (rabbi) van sy tyd. Het Du Plessis al vir homself afgevra waar die bergrede vandaan kom? Hy glo waarskynlik ook dat dit nie die direkte woorde van Jesus was nie, maar deur Matthéüs aan Jesus toegedig is. Kom ons luister wat JT Fisher, ‘n psigiater, van die bergpredikasie te sê het:

As jy die somtotaal van alle gesaghebbende artikels wat nog ooit deur die mees bekwame sielkundiges oor die onderwerp van geestesgesondheid geskryf is, sou neem, as jy hulle sou kombineer en verfyn en die oortollige woorde sou uitsny, as jy dan hierdie stukkies onbesoedelde suiwer wetenskaplike kennis presies sou laat weergee deur die mees bekwame digters en jy vergelyk dan die eindproduk met die bergrede, dan sou dit maar net ‘n lompe en onvolledige samevatting van die bergrede wees. Byna 2000 jaar lank al hou die Christelike wêreld die volledige antwoord vir die mensdom se rustelose en vrugtelose verlange in sy hande. Hier lê die bloudruk vir die suksesvolle menslike lewe met optimisme, geestesgesondheid en tevredenheid.

Wat Fisher dus sê, is dat ‘n gesamentlike poging van al die wêreld se sielkundiges en digters nie daarin sou kon slaag om so ‘n volledige, waar en verhewe stuk werk in so ‘n kort bestek te kon skryf nie. Is dit nie nog ‘n getuienis dat die werklike outeur van die bergrede waarlik God was nie? Tog reken Du Plessis dat die skrywer van die bergrede óf ‘n Jesus was wat nie God is nie, óf sommer net Matthéüs wat dit toedig aan die Jesus wat nie God is nie. Vergelyk Fisher se verklaring hierbo nou met Du Plessis se niksseggende verklaring van wat die bergrede is:

Jesus is inderdaad beskou as ‘n wyse man wat sy prediking aangebied het in ooreenstemming met die tipiese wysheids-onderwys van daardie tyd: In kort, pittige uitsprake. Die evangelies teken Jesus as ‘n wyse man wat die mense geleer het oor geluk, liefde vir die vyand, om goed te doen, te bid, te seën, die ander wang te draai, om vrylik aan mense te leen en om aan ander te doen soos jy wil hê dat hulle aan jou moet doen.

Die heel eerste Christelike belydenisse

Du Plessis beweer dat Jesus self nooit aanspraak gemaak het dat Hy God was nie en dat dit die evangelieskrywers was wat eers twee geslagte later Godheid aan Jesus toegedig het. Maar wat dan van die heel eerste ou Christelike belydenisse oor die Godheid van Jesus Christus wat bestaan het nog lank voor die Evangelies op skrif gestel is? Bybelkenners het in die Nuwe Testament dele identifiseer wat hulle glo gedeeltes is van vroeë Christelike geloofsbelydenisse wat geformuleer en mondelings oorgelewer is lank voordat dit in die boeke van die Nuwe Testament opgeteken is. In sy boek: “Verdict of History” fokus Gary Habernas op verskeie geloofsbelydenisse wat in die Nuwe Testament ingebed is en wat dus eintlik voor-Nuwe Testamentiese materiaal is en van die vroegste bronne oor die lewe van Jesus. Luk. 24:34:

“Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.”

Dit was nie sommer Lukas wat dit uitgedink het dat Jesus aan Petrus verskyn het nie. Die boek I Korinthiërs is lank voor Lukas geskryf en dit staan reeds daar dat Jesus aan Petrus verskyn het (I Kor. 15:5) en let op dat Paulus dit beslis ook nie uitgedink het nie, want hy sê in I Kor. 15:3 dat dié waarhede deur ander aan hom oorgelewer is! Inderdaad! Hier het ons nou die bevestiging. Luk. 24:34 is dus ‘n baie ou Christelike belydenis! Die heel eerste gelowiges in die tyd van die opstanding het dus geglo en bely dat Jesus opgestaan het en aan Petrus verskyn het!

“Aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid wat met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here” Rom. 1:3,4.

Oor hierdie vers sê Habernas die volgende:

Paulus sou nie na Jesus as die seun van Dawid verwys het nie en hierdie dubbele verwysing as die Seun van Dawid en die Seun van God, dui waarskynlik daarop dat Paulus hier ‘n ou belydenis aanhaal. Dieselfde Jesus wat gebore is in tyd en in ruimte, is volgens hierdie ou belydenis ook uit die dood opgewek en daardeur in die openbaar as Christus en Here verklaar. Oscar Cullman voeg by dat die verlossing en finale verheerliking ook ingesluit is in hierdie betekenisvolle belydenis.

“Ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking” Rom. 4:24,25.

Selfs Bultmann wat nie in die liggaamlike opstanding van Jesus glo nie, is van mening dat hierdie stelling duidelik voor Paulus bestaan het en aan hom oorgelewer is.

Ander gedeeltes in Paulus se briewe wat geïdentifiseer is as voor-Pauliniese formuleringe is die volgende: I Kor.11:23-26 (hierdie verse bevat sommer heelwat woorde wat nie gewoonlik by Paulus voorkom nie); Fil.2 :6-11; I Tim 3:16, 6:13; II Tim. 2:8; ook in die algemene briewe: I Petr. 3:18; I Joh. 4:2.

Onthou asseblief dat Paulus se briewe lank voor die vier Evangelies op skrif gestel is. En nou het ons hier in die briewe duidelike getuienis van belydenisse wat nog voor Paulus se briewe bestaan het. Bestudeer gerus hierdie verse en vergewis uself van al die aspekte van Jesus se lewe wat hier uit vroeë belydenisse bevestig word! Die aanspraak van Du Plessis en sy makkers dat die vier Evangelies meestal net opgemaakte stories sonder geskiedkundige waarde is, hou nie stand nie! Hierdie is die vroegste getuienis van die vaste Christelike oortuiging dat Jesus as sondelose God-mens werklik geleef, gesterf en uit die dood uit opgestaan en na die hemel opgevaar het vir die verlossing van enigeen wat Hom as Here bely en waarlik glo dat God Hom uit die dood opgewek het. Ten minste sommige van hierdie belydenisse kan teruggelei word na Jesus self en die getuienis van die apostels. Hierdie belydenisse is dus nie net baie oud nie, maar ook gebaseer op ooggetuies se weergawe van Jesus se aardse lewe.

Jesus se aansprake op Godheid

Uit die voorafgaande weet ons nou dat die verslag van die Evangelies betroubaar is. Dit word bevestig deur die oudste Christelike belydenisse wat baie ouer as die Evangelies self is. Ons kan dus maar gerus Jesus se aansprake op die Godheid soos dit in die vier Evangelies voorkom, baie ernstig opneem en daaruit leer wie die ware Jesus was. En wanneer ons dit doen, sal ons ook nog sterker onder die oortuiging kom dat, alhoewel daar onderling verskille in die verhaaltrant van die vier Evangelies voorkom, hulle dit oor hierdie saak dodelik eens is: Jesus is God!

Sy verhoor

“Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester vir Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die Geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En U almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig! Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was” (Markus 14:61-64).

Die Godheid van Jesus is nie sommer net ‘n terloopse saak wat, soos Du Plessis beweer, deur skrywers by die verhaal bygevoeg is nie! Maak tog ‘n indringende studie van die verhoor van Jesus. Die Godheidsaanspraak is nie sommer terloops hieraan toegevoeg nie. Dit is die hele essensie van wat eintlik in hierdie verhoor plaasvind! En al die Evangelies stem hieroor saam! Josh Mc Dowell sê:

Hierdie is ‘n unieke kriminele hofsaak waar nie die dade nie, maar die identiteit van die aangeklaagde die hoofsaak is. Die kriminele klag wat teen Christus gelê is, die belydenis of getuienis, of eerder, die daad in teenwoordigheid van die hof op grond waarvan Hy skuldig bevind is, die ondervraging deur die Romeinse goewerneur en die inskripsie en proklamasie aan sy kruis tydens die teregstel-ling, gaan alles oor een vraag: oor Christus se ware identiteit en waardigheid. Wat dink jy van Christus? Wie se seun is Hy?

Hilarin Felder het die volgende te sê:

Hierdie ondersoek van die verhoor van Jesus behoort genoegsaam te wees om aan ons die onoorwinlike oortuiging te gee dat die Verlosser sy ware Godheid voor sy regters bely het.

In die verse wat hierbo uit Markus 14 aangehaal is, verwys Jesus duidelik na die profesie oor Hom in Dan. 7:13,14. Hoewel Jesus hier deur aardse regbanke verhoor word, is dit Sy boodskap aan hulle dat Hy self die groot Regter is wat met mag en heerlikheid sal kom om die hele aarde te oordeel. En hierdie uitspraak kom nie net in Markus voor nie. Ons kan ons kwalik indink dat Jesus ‘n sterker aanspraak as dit op sy Godheid kon maak. Die term “Seun van die mens” en daarmee saam “Seun van God” is werklik baie belangrik. Dit kom uit Daniël en is gelaai met hemelse krag en Godheid.

Robert Anderson skryf:

Geen bevestigende getuienis is meer oortuigend as die van vyandige getuies nie en die feit dat die Here aanspraak gemaak het op Godheid is onaanvegbaar bevestig deur die optrede van sy vyande. Die Jode was ‘n hoogs gekultiveerde en godsdienstige volk en as húlle vir Jesus aankla dat Hy aanspraak maak op Godheid, kan ons dit ernstig opneem. Sonder een teenstem het die Sanhedrin Hom op die klag veroordeel.

Ons sien dus dat Jesus gekruisig is omdat Hy is wie Hy werklik is, omdat Hy die Seun van God is. ‘n Ontleding van Sy getuienis toon dit baie duidelik. Sy getuienis bevestig dat Hy die Seun van die Geseënde is. Hy is die een wat aan die regterhand van die Almagtige sal sit (nou sit). Hy is die Seun van die mens wet op die wolke van die hemel sal kom.

Wat sê Du Plessis van hierdie dinge? Bl. 205:

Met die oog op die huidige Jesus-debat sou mens kon sê dat Lukas die verhaal vertel vanuit die oortuiging dat Jesus as gewone mens so deur God gebruik is as sy agent, dat sy volgelinge Hom later met groot vrymoedigheid as die Seun van God verkondig het. Die feit dat hier sprake is van drie titels vir Jesus, (Christus, Seun van God, Seun van die mens) wys hoe onseker mense was oor presies wie Jesus was. Lukas vertel egter sy verhaal vanuit ‘n spesifieke agtergrond - die van die volgelinge se geloof. So moet ons ook hierdie verhaal verstaan.

Weereens is die waarheid oor Jesus vir Du Plessis van minder belang. Dit gaan vir hom oor die boodskap en die geloof van die volgelinge. Jesus was duidelik vir hom net ‘n gewone mens. Du Plessis verstaan die term “Seun van die mens” wat Jesus veral in Lukas vir Homself gebruik as ‘n aanduiding dat Jesus homself as ‘n gewone mens beskou het. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Ons het reeds na die oorsprong van die term uit Dan. 7:13,14 gewys wat duidelik ‘n verhewe Goddelike benaming is. Ek en jy sou ook kon sê dat ons seuns van die mens is (van die orde van die mens), maar Jesus was nooit ‘n Seun van die mens nie”; Hy is Die Seun van die mens, die een unieke Seun van die mens. Na sy menslike natuur was Hy ook van die orde van die mens, maar nog steeds ook “die Seun van God” (van die orde van God). As Hy dus na Homself verwys as die Seun van die mens, is Hy nog steeds die een unieke Seun van die mens wat ek en jy nooit kan wees nie.

Ander aansprake op Godheid

Eenheid met die Vader

Ek en die Vader is een. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig ... Oor godslastering, omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:30-33).

Die eenheid tussen Jesus en die Vader is ‘n duidelike aanspraak op Godheid. As daar nog enige twyfel daaroor kan bestaan, dan bevestig die Jode se reaksie dit. Hulle het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Waarom? Hulle het dit inderdaad so verstaan dat Hy Hom aan God gelykstel en hulle wou Hom doodmaak oor sy Godslastering.

“... My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het” Joh. 5:17,18.

Jesus het die siek man van Betesda op die sabbat genees en hiervoor wou die Jode Hom doodmaak. Jesus se verweer was, soos hier aangehaal, dat “sy Vader” tot nou toe werk. Sy Vader werk dus op die sabbat en Hy werk saam met Hom (want Hy is een met Hom). Die Jode het dit presies so verstaan en dan noem Hy God boonop “sy Vader”. Hoewel enigiemand God Vader kon noem, is Jesus se aanspraak natuurlik anders. Vir Jesus is dit ‘n persoonlike eenheidsband. Hy praat ook nie van Vader in die hemel soos dit vir mense gebruiklik was nie, maar net “My Vader.” Liberales wat Jesus se Godheid verwerp, kan tog nie ligtelik by hierdie uitsprake verbykom nie. Dit is duidelik nie later aangeplak dat Jesus God was nie, maar intens in die verhaal ingeweef. Die vyandige Jode het dit beslis ook so verstaan.

“Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig ...” (Joh. 8:58).

Jesus maak hier aanspraak op absolute Godheid. Die woorde “Ek is”, is baie goed deur die Jode verstaan as die eksklusiewe Naam Van God (Ex. 3:14). God se Naam wat geweldig baie in die Ou Testament voorkom en met “Here” vertaal word, is “Jahwe” wat letterlik “Ek is” beteken. Vandaar dat hulle Hom weer wou stenig en Hy moes vinnig uit hulle midde ontglip.

Dieselfde eer aan Jesus as wat God toekom

“sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie My woord Hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” Joh. 5:23,24.

Ook in die verse wat die aanhaling voorafgaan, kom dit na vore dat die Jode moes besef dat hulle haat teenoor Jesus hulle nie ver gaan bring nie. Die Vader het die Seun lief en het die oordeel aan die Seun oorgelaat. As hulle die Vader eer, moet hulle dus die Seun ook eer. Die Vader kan geen eer aanvaar as dit nie ook met eer aan die Seun gepaard gaan nie.

“Julle ken My nie en ook nie My Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook My Vader geken het” Joh. 8:19.

Om Jesus te ken en te sien, is gelykstaande daaraan om die Vader te ken en te sien. Jesus is die volmaakte openbaring van die Vader omdat Hy van die Vader se essensie is en as sy Seun in verhouding met Hom staan.

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My” Joh. 14:1.

Hierdie vers, tesame met vers 6, teken die weg tog so duidelik. Geloof in God is van weinig waarde as dit nie gepaard gaan en gekanaliseer is in geloof in Jesus Christus nie. Die dissipels was ontsteld. Jesus het reeds sy verraad, kruisdood en spoedige heengaan aan hulle bekend gemaak. Om in sulke omstandighede hulle op te roep tot geloof in Hom, is merkwaardig en uniek. Die implikasie is duidelik. Hy is nie net ‘n mens nie. Die dood beteken vir Hom nie die einde nie. Inteendeel, sy dood beteken ‘n nuwe lewe wat wag, beide vir Hom en vir hulle.

“Maar Ek sê vir julle ...” Matt. 5:20,22,26,28,32,34,44.

Was Jesus maar net ‘n profeet soos baie liberales beweer? Nee, Hy was nie! Wanneer profete met gesag praat, dan sê hulle: “So sê die Here”, maar Jesus sê: “Ek sê vir julle ...” Hy praat dus met direkte hemelse gesag.

Jesus is aanbid as God

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” Matt. 4:10 en Luk. 4:8.

En tog - Jesus het as God aanbidding ontvang en dit aanvaar.

“En daar het ‘n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil kan U my reinig” Matt. 8:2.

Die man wat blind gebore is, het, nadat Hy genees is, neergeval en Jesus aanbid (Joh. 9:35-39).

“Toe kom die wat in die skuit was en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God” Matt. 14:33.

“En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” Joh. 20:28.

Vervulling van OT Profesieë

Die heel grootste bewys vir die Godheid van Jesus Christus en die waarheid van die Bybel as Woord van God, is die vervulling van profesieë. Geen ander persoon in die geskiedenis van die wêreld kan hierin met Jesus vergelyk word nie. Jesus het nie maar net plotseling op die toneel verskyn nie; die mense het vir Hom gewag! Hulle het geweet Hy kom! Die Ou Testament is daarvan vol! En in daardie profesieë is Hy dinge genoem soos “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader en Vredevors.”

Moet asseblief nie hier net dink aan die profete wat laat in die Ou Testament geskryf het nie. Gaan kyk ook hoe die verhaal in die Ou Testament van die vroegste tye af op Jesus Christus gerig is. Gaan kyk hoedat die pasga in Exodus die kruisdood en die belangrikste beginsels van die evangelie van vandag simboliseer. Gaan kyk hoedat die stelsel van die Joodse feesdae in Lev. 23 almal op verskillende aspekte van Jesus se lewe en werk gerig is. Gaan kyk hoedat die kruis van Jesus Christus in skaduwee-vorm in die OT tabernakel en tempel afgeëts is. OT geskiedenis het vandag vir ons baie meer betekenis in die lig van die vervulling wat reeds in Jesus plaasgevind het.

Bestudeer die profesieë, skaduwees en tipologiese heenwysings van Jesus in die Ou Testament en vergewis jouself daarvan dat:

  • Daar ‘n Groot Goddelike intellek agter die eenheid tussen Ou en Nuwe Testament is.
  • Die Godheid van Jesus totaal bevestig word.
  • Die inspirasie en Goddelike oorsprong van die Bybel bevestig word.

Met goeie reg het Jesus in Luk.4:21 gesê: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”

Die Wapenrusting het onlangs ‘n lang artikel publiseer wat die profesieë wat na Jesus heenwys, tesame met die vervulling daarvan in vergelykende kolomme aanbied.

Die opstanding van Jesus Christus

Hier kom ons nou by die crux van die saak. Dit is waar die waarheid van die Bybel en ons ewige hoop op die saligheid staan of val. I Kor. 15:17,18 stel dit so: “As Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos ... dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.” En ek kan u verseker dat Paulus hier nie van ‘n simboliese opstanding praat soos Du Plessis en ‘n menigte ander Afrikaanse teoloë nie. Daarvoor stel hy dit te duidelik dat Jesus na sy opstanding aan Cefas en die twaalf verskyn het en ook aan oor die honderd mense tegelyk (I Kor. 15:5,6). Hoe ver moet ‘m mens nou as teoloog geleerd wees om soos hulle te kan sê dat Paulus daardeur maar net vir ons wil sê dat Jesus metafories of simbolies opgestaan het?

In sy inlyding oor hierdie onderwerp sê Josh McDowell dat hy alle aspekte en aansprake oor die opstanding van Jesus 700 uur lank bestudeer het en dat hy tot die gevolgtrekking kom dat daar net een van twee moontlikhede is: Die opstanding van Jesus Christus is een van die boosste, wreedste en harteloosste grappe wat ooit aan die verstand van mense afgesmeer is, OF dit is die mees fantastiese en wonderbare feit en waarheid van die geskiedenis.

Goed, Du Plessis kies nie vir een van die twee opsies nie. Hy sê dit is ‘n simbool. Maar daar is geen vae aanduiding in die Bybel dat dit as simbool bedoel is of verstaan moet word nie. Dit word 100% konsekwent as geskiedenis aangebied. Ons moet dus erken, McDowell is reg. Daar is net twee opsies: Grap of geskiedenis.

Die sleutelbelang van die opstanding van Jesus Christus vir die ganse Christelike geloofsisteem is deur die geskiedenis deur talle mense erken. Wilbur M. Smith sê: “As ons Here gereeld en met groot beslistheid en detail gesê het dat Hy doodgemaak sou word, maar dat Hy op die derde dag uit die graf sou opstaan en hierdie voorspelling waar geword het, het dit nog altyd vir my gelyk dat alle ander dinge wat ons Here ooit gesê het, ook waar moet wees.” Maar as die voorspelling nie bewaarheid is nie, of net simbolies plaasgevind het, hoeveel geloofwaardigheid sou Jesus dan kon hê?

W.J. Sparrow-Simpson sê: “As die opstanding nie ‘n historiese feit is nie, bly die mag van die dood onverbreek en daarmee saam die effek van die sonde; ook die betekenis van Christus se dood bly onbevestig en gevolglik is gelowiges steeds vasgevang in hulle sonde, presies waar hulle was voor hulle van die Naam van Jesus gehoor het.”

Die “Dictionary of the Apostolic Church” sê: “As die opstan-ding wegval, val alles weg wat lewensbelangrik en essensieel in die Christelike geloof is; as dit bly, bly alle ander dinge. En so was die opstanding deur die eeue, van Celcius af verder aan, die middelpunt van die aanval op die Christelike geloof.”

Ek vertrou dat die leser nou meer begin begryp met watter bose en vernietigende doel ons eie Afrikaanse teoloë nou besig is om te propageer dat Jesus se opstanding nie regtig gebeur het nie, maar net ‘n simboliese getuienis is.

Toe Jesus om ‘n teken gevra is oor sy waarheid en egtheid, het Hy net na die opstanding verwys. Niks anders nie. Wat beteken dit? Wat beteken dit vandag vir jou?

Michael Green stel dit duidelik: “Die opstanding is nie net een van baie leerstellings van die Christelike geloof nie. Sonder die opstanding is daar geen Christelike geloof en ook geen ander Christelike leerstelling nie! Die Christelike kerk sou daarsonder nooit ontstaan het nie. Die Jesus-beweging sou met sy teregstelling soos ‘n nat klapper doodgeloop het. As jy die opstanding verkeerd bewys het, het jy ontslae geraak van die hele Christendom.”

Wilbur M. Smith sê verder: “Die opstanding is die leerstelling wat die wêreld in die eerste eeu totaal en al omgekeer het, wat die Christelike geloof uitmuntend bo die Judaïsme en die ander godsdienste van die Mediterreense wêreld verhef het. As dit wegval, moet alle ander dinge wat belangrik en uniek in die evangelie van Jesus Christus is, ook wegval.”

Historiese bewyse vir die opstanding

Josefus, ‘n Joodse geskiedskrywer, het teen die einde van die eerste eeu geskryf. Hy was die Christene nie goedgesind nie en wou eerder die Romeine tevrede stel. Hy het geen rede gehad om positief oor Jesus te berig nie. Die volgende aanhaling uit Josefus sou hy dus sekerlik nie geskryf het as dit nie waar was nie:

Daar was in hierdie tyd Jesus, ‘n wyse man, as dit geregverdig sou wees om hom ‘n man te noem, want hy het wonderlike dade gedoen, ‘n leermeester van mans wat die waarheid met vreugde ontvang. Hy het baie Jode na hom toe aangetrek en ook baie Grieke. Hierdie man was die Christus. En toe Pilatus hom tot die kruis veroordeel het, nadat hy beskuldig is deur die belangrikste mans onder ons, het die wat hom van die begin af liefgehad het, hom nie in die steek gelaat nie, want hy het op die derde dag weer lewend aan hulle verskyn, soos die Goddelike profesie hierdie en tienduisende ander wonderlike dinge oor hom voorspel het. En selfs nou het die groep Christene, so na hom vernoem, nie uitgesterf nie.

Thomas Arnold, ‘n beroemde historikus, het onder andere ‘n drie volume werk oor die geskiedenis van Rome geskryf. Hy was professor in moderne geskiedenis aan Oxford. Oor Jesus se opstanding sê Arnold die volgende:

Ek is jare lank ingespan om die geskiedenis van ander tye te bestudeer en om die bewyse van die wat daaroor geskryf het, te ondersoek en te oorweeg. Ek weet van geen enkele feit in die geskiedenis van die mensdom wat deur beter en vollediger bewyse gestaaf word as die groot teken wat God ons gegee het dat Christus gesterf en uit die dode opgestaan het nie.

WM Morrison het ‘n boek geskryf met die titel: “Who moved the stone?” Hy wou aanvanklik die boek skryf om aan te toon dat die opstanding en vele ander gebeurtenisse in Jesus se lewe net mites was - soos die gelukkige einde van ‘n feeverhaal. Maar toe hy die feite sorgvuldig begin oorweeg, moes hy van plan verander. Sy eerste hoofstuk word genoem: “The book that refused to be written.” Dit was uiteindelik vir hom totaal onmoontlik om die boek te skryf wat hy eintlik beplan het. Die boek word toe uiteindelik een van die skerpsinnigste en bes geskrewe waardebepalings van die waarheid van Jesus se opstanding.

Dit laat ‘n mens nogal ook dink dat Du Plessis en ander wat so gemaklik die historiese feit van Jesus te opstanding onder die tafel in vee, geweldig verhard moet wees in hulle oortuiging dat die Bybel ‘n feeverhaal is - so verhard dat die werklike, oorvloedige geskiedkundige feite en die inwerking van die Heilige Gees op hulle geen indruk kon maak nie.

Die effek van die rasionalisme

Die era van die rasionalisme het laat in die 1700’s aangebreek, om en by die tyd van die Franse Revolusie. Een van die gevolge van hierdie nuwe filosofiese benadering was dat alle bonatuurlike gebeurtenisse in die Bybel as mites afgemaak is. Die aanslag teen die waarheid van die liggaamlike opstanding van Jesus Christus vanuit die geledere van predikante en teoloë het dus in die 1800’s reeds baie fel gewoed. Maar kom ons kyk nou na ‘n persoon wat in daardie tyd een van die kragtigste verdedigers van die waarheid van Jesus Christus was.

Hy was Simon Greenleaf (1783-1853), beroemde professor in die  regte aan Harvard. Die uitstaande posisie as een van die mees prominente regsfakulteite in die VSA word vandag nog aan Harvard toegeken - meestal op grond van die werk van Story (Greenleaf se voorganger as hoof van die fakulteit) en Greenleaf. In 1846 skryf Greenleaf ‘n boek met die titel: “An Examination of the testimony of the four Evangelists by the rules of evidence administered in the the courts of justice.” In hierdie boek ondersoek Greenleaf die waarde van die apostels se getuienis oor die opstanding van Christus. Lees die volgende aanhaling aandagtig. Dit is deur ‘n gesaghebbende geskryf:

Die groot waarhede wat die apostels verkondig het, was dat Christus uit die dood opgestaan het en dat slegs deur berou oor sonde en geloof in Hom die mens kan hoop op verlossing. Hierdie leerstelling het hulle eenstemmig verkondig, oral, nie net ten spyte van die grootste teenstand nie, maar ook in die aangesig van die mees weersinwekkende foute wat aan die verstand van die mens gebied kan word. Hulle Meester het kort tevore gesterf as 'n misdadiger, gevonnis deur 'n openbare regbank. Sy godsdiens het die godsdienste van die hele wêreld probeer omverwerp. Die wette van elke land was teen die leringe van sy dissipels. Die belangstellings en passies van al die regeerders en groot figure in die wêreld was teen hulle. Die konvensies van die wêreld was teen hulle.

In hulle verkondiging van hierdie nuwe geloof, selfs op die vreed-saamste manier, kon hulle niks verwag behalwe minagting, teenkan-ting, verguising, bittere vervolging, slae, gevangenskap, marteling en wrede dood nie. Tog het hulle hierdie geloof ywerig verkondig; en al hierdie ellende het hulle onverskrokke, nee, vreugdevol verduur. Soos die een na die ander 'n miserabele dood gesterf het, het die oorlewendes slegs hulle werk met groter ywer en vasbeslotenheid voortgesit. In die annale van militêre oorloë is daar skaars nog voorbeelde soortgelyk aan hierdie heldhaftige standvastigheid, geduld en moed wat vir niks stuit nie. Hulle het elke denkbare motief gehad om die basis van hulle geloof en die bewyse van die groot feite versigtig te heroorweeg en hierdie motiewe is gereeld onder hulle aandag gebring.

Dit was daarom onmoontlik dat hulle kon volhou om die waarhede te bevestig wat hulle verkondig het as Jesus nie werklik uit die dood opgestaan het nie en as hulle hierdie feit nie so seker geken het soos hulle enige ander feit geken het nie. As dit vir hulle moreel moontlik was om ten opsigte hiervan mislei te wees, het elke menslike motief saamgewerk om hulle te lei om hulle fout te ontdek en te bely. Om vol te hou met so 'n groteske valsheid, nadat dit aan hulle bekend geword het, was nie net om lewenslank voor al die boosheid van buite wat die mens kan toedien te staan te kom nie, maar om ook al die pyne van innerlike en bewustelike skuld te verduur; met geen hoop op toekomstige vrede, geen getuienis van 'n goeie gewete, geen verwagting van eer of aansien by mense, geen hoop op geluk in hierdie lewe of in die wêreld wat sal kom nie.

Meer nog, so 'n houding by die apostels sou uiters onversoenbaar gewees het met die feit dat hulle ook maar net gewone mense soos ons was. Tog wys hulle lewens dat hulle wel mense soos alle ander mense was; beheers deur dieselfde motiewe, aangevuur deur dieselfde hoop, beïnvloed deur dieselfde vreugdes, neergedruk deur dieselfde hartseer, geteister deur dieselfde vrese en onderwerp aan dieselfde passies, versoekings en swakhede as ons. En hulle geskrifte wys dat hulle mans met goeie insig was. As hulle getuienis dan nie waar is nie, was daar geen moontlike motief om dit te fabriseer nie (Greenleaf, TE, 28-30).

Vreesbevange dissipels

Nou wil ek hier iets byvoeg oor die karakter van die dissipels wat soos die aanhaling van Greenleaf, ‘n vaste getuienis is oor die waarheid van die opstanding. Albert Roper praat van Simon Petrus as “ineengekrimp onder die treitering van ‘n diensmeisie in die binnehof en met ’n eed ontken hy dat hy hierdie man ken van wie sy praat.” Roper sê verder:

Hulle was Galileërs, die meeste van hulle vissermanne, almal min of meer vreemdelinge vir die stede en die maniere van die stadslewe. Een vir een het hulle volgelinge van die jong Leermeester van Nasaret geword en hulle toegewy aan sy lewenstyl. Hulle het Hom vol vreugde en aanbidding gevolg tot ‘n krisis aangebreek het. Toe Hy aan die buitewyke van die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, het hulle almal Hom in die steek gelaat en weg- gehardloop, oorweldig deur die fakkels en die lawaai en gekletter van sabels.

[Die dissipels] het gaan wegkruip en ons hoor niks weer van hulle nie tot Magdalena die verstommende nuus aan hulle bring op die oggend van die derde dag. Hierna het twee - en net twee - die waagmoed gehad om uit te gaan en self uit te vind of die nuus wat Maria aan hulle gebring het waar kon wees soos sy dit oorvertel het en of dit net, soos hulle self geglo het, “ydele praatjies” was. Die gedrag van die dissipels spreek van volslae vrees en selfbehoud.

As hierdie bang, beangstige klompie apostels wat op die punt was om alles agter te laat om in wanhoop na Galilea te vlug; as hierdie arbeiders, skaapwagters en vissermanne, wat hulle meester verraai en verloën en Hom toe jammerlik in die steek gelaat het, oornag skielik verander kon word in ’n sendelinggemeenskap vol vertroue, oortuig van hulle verlossing en in staat om met soveel meer sukses te werk ná die paasfees as voor die paasfees, is geen visioen of hallusinasie genoeg om so ’n revolusionêre transformasie te verduidelik nie. Vir ’n sekte of ’n skool of ’n orde sou ’n enkele visioen dalk genoeg gewees het, maar nie vir ‘n wêreldgodsdiens wat in staat was om die weste te oorwin danksy die paasgeloof nie.

Verskynings en stilswye van die vyande

Vanaf Markus 16:9 en Joh. 20:14 tot Op. 1:10-19 verskyn die opgestane Christus 16 keer aan verskillende mense. Voor hierdie verskynings was die apostels vreesbevange en het weggehard-loop. Hulle was totaal nie in ‘n posisie om die opstanding skielik te vervals en aan mense voor te hou nie. Ook die vroue wat na die graf gegaan het, het nie gegaan om te kyk of Hy opgestaan het nie. So, waar kom die verskyningsverhale van Jesus regtig vandaan? Is daar enige ander moontlike verklaring as dat dit die waarheid is?

En in hierdie hele situasie is die vyande doodstil. Kom hulle miskien met ‘n teenaanval om te beweer dat Jesus se opstanding net ‘n storie is? Nee, niks daarvan nie. Josh MacDowell skryf:

In Handelinge 25 sien ons Paulus in die tronk in Cesarea. Festus het ... op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus voor hom gebring moet word. Toe Paulus binnekom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ‘n hele klomp ernstige dinge beskuldig wat hulle nie kom bewys nie (v. 6-7). Presies wat was dit omtrent Paulus se evangelie wat die Jode so geïrriteer het? Watter punt het hulle geheel en al vermy in hulle aanklag? As Festus die saak aan koning Agrippa verduidelik, sê hy alles draai om “ ...’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe” (Hand. 25:19). Die Jode kon die leë graf nie verduidelik nie.

Hulle het allerhande persoonlike aanvalle op Paulus geloods, maar die objektiewe bewyse vir die opstanding vermy. Hulle daal af tot die vlak van ’n subjektiewe uitskellery, maar vermy die woordelose getuienis van die leë graf.

Die stilswye van die Jode praat harder as die Christene, of soos Fairbairn opmerk: “Die stilswye van die Jode is net so betekenisvol soos die woorde van die Christene.”

Die kerk is gestig op grond van die opstanding en om die opstanding te weerlê, sou die hele Christelike beweging vernietig het. In plaas van enige sulke teenbewyse is Christene egter deur die hele eerste eeu gedreig, geslaan, gegesel en doodgemaak as gevolg van hulle geloof. Dit sou soveel eenvoudiger gewees het om hulle stil te maak deur Jesus se liggaam te voorskyn te bring, maar dit is nooit gedoen nie.

Soos John R.W. Stott dit so goed stel: Die stilswye van Christus se vyande “is net so ’n welsprekende bewys van die opstanding soos die apostels se getuienis.”

Die leë graf, die stil getuienis van Christus se opstanding, is nooit weerlê nie. Die Romeine en die Jode kon nie te voorskyn kom met Jesus se liggaam of verduidelik waarheen dit verdwyn het nie. Tog het hulle geweier om te glo. Mense verwerp steeds die opstanding, nie as gevolg van die gebrek aan bewyse nie, maar ten spyte van die genoegsaamheid daarvan.

E.H. Day skryf: “In daardie leë graf het die Christendom nog altyd ’n belangrike getuienis oor die redelikheid van geloof gesien. Christene het nooit getwyfel dat dit in werklikheid leeg was op die derde dag nie; die Evangelieverhale beklemtoon dit ook almal; dit [die bewyslas] ... rus nie op dié wat die tradisie handhaaf nie, maar op dié wat óf ontken dat die graf leeg was óf die afwesigheid van die liggaam verduidelik deur die een of ander rasionele teorie.”

James Denney, soos aangehaal deur Smith, sê: “Die leë graf is nie die produk van ’n naïewe apologetiese ingesteldheid nie, ’n ingesteldheid wat nie tevrede is met die bewyse van die opstanding wat vervat word in die feit dat die Here verskyn het aan sy eie en hulle aangevuur het tot ’n nuwe, onoorwinlike, onafhanklike en spontane deel van die apostoliese getuienis.”  

Veranderde lewens

Kyk na die lewe van Jakobus, die broer van Jesus. Voor die opstanding het hy alles verag waarvoor sy broer gestaan het. Hy het gedink die aansprake van Jesus was blatante pretensie wat net die familienaam skade aangedoen het. Na die opstanding vind ons Jakobus egter saam met die ander dissipels waar hulle die evangelie van hulle Here verkondig. Sy sendbrief beskryf die nuwe verhouding wat hy met die Here gevind het baie goed. Hy beskryf homself as ‘n dienaar van God en die Here Jesus Christus (Jak.1:1). Die enigste moontlike verandering in sy lewe is die een wat Paulus gee: “Daarna het Hy aan Jakobus verskyn ... (I Kor. 15:7).

Maar belangriker nog as die lewe van Jakobus, is my en jou lewe. Het die opstanding ook jou lewe verander? In konteks van die opstanding sê Paulus in I Kor. 15:31: “Ek sterf dag vir dag broeders, sowaar as ek op julle roem in Christus Jesus onse Here.” Die opstanding van Jesus maak Paulus bereid om dag na dag te sterf. Hy wil sterf vir die wêreld en die sonde om Christus as wins te verkry. Christus se opstanding bring oorvloedige lewe vir elke Christen, maar om dit deelagtig te word, moet jy sterf aan jou eie lewe. Omdat hy sterf en die Christus-lewe deelagtig word, is sy roem, belangstelling en ideale in die lewe ook totaal anders. Hy roem in een ding, in die mense wat in sy bediening die Here gevind het. Daar was vir hom geen groter blydskap en vreugde as dit nie.

In Filippense 3:10,11 brei hy hierop uit: “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde, terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.” Die opstanding van Jesus het ‘n radikale en blywende merk op Paulus gelaat en hy streef daarna om elke dag meer en meer aan die opstanding deel te hê. Jesus se opstanding beteken nuwe lewe en die dood van die ou lewe.

“’n Natuurlike liggaam word gesaai en ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam en daar is ‘n geestelike liggaam.” Let asseblief op dat hier twee aspekte van die geestelike liggaam ter sprake is. Ons sal almal ‘n geestelike liggaam by die wegraping ontvang wanneer ons verander gaan word. Maar die geestelike liggaam bestaan tog nou ook reeds. As ek nou kan sê “ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”, wat beteken dit anders as dat ek nou reeds essensieel in my geestelike liggaam leef? Ja, die vleeslike dop is nog daar, maar hy moet deur die geestelike liggaam beheers word.

Het die opstanding van Jesus ook jou lewe verander? As dit het, dan sal jy nie nog enige ander bewyse nodig hê dat Jesus inderdaad uit die dood opgestaan het nie. Jou eie lewe is ‘n bewys daarvan.

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|