Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

 
Hoe naby was die koninkryk werklik?

Vier merkwaardige verse in die Evangelies


As gevolg van gebrekkige vertaling is daar vier uitsprake in die Evangelie van Matthéüs wat ongekende vewarring onder Christene veroorsaak het:

Voorwaar Ek sê vir julle: julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie” (Matt. 10:23).
Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (16:28).
Ek sê vir julle, julle sal my van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here” (23:29).
Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (24:34).

U moet eerstens oplet dat ons onverdeelde aandag in al vier gevalle vereis word deur die woorde: “Ek sê vir julle”. In drie van die vier gevalle word die woord “voorwaar” ook nog daaraan toegevoeg. Ons kan dus met goeie reg sê dat al vier uitsprake van buitengewone belang is, dat ons deeglik moet verstaan wat hier gesê word en dat ons nie die betekenis mag verdraai of wegredeneer nie.

Tweedens word hier nie ‘n gewone negatief gebruik nie, maar die sterkste negatiewe vorm (“sekerlik nie”) kom in al vier gevalle voor.

Verder moet u oplet dat die Griekse woordjie “an” by al vier die verse in die tweede deel van die sin voorkom. Hierdie woordjie dra altyd die element van onsekerheid en voorwaardelikheid en maak die hele bysin dus hipoteties. Laastens moet u ook let op die “voordat” of “totdat” wat in elke geval voorkom.

Mattheus 10:23

Die dissipels word uitgestuur om die evangelie (van die koninkryk) te verkondig in die stede van Israel en dan word daaraan toegevoeg dat hulle sekerlik nie sal klaarkry voor die koms van die Seun van die mens nie. Sou dit die dissipels dan 2 000 jaar neem om die evangelie in Israel te verkondig? In elk geval word niemand op die oomblik toegelaat om Jesus as Messias in Israel te verkondig nie.

William Hendriksen, ‘n kommentator wie se geskrifte deur die meeste predikante gebruik word, sê dat die Pinkstergebeurtenis reeds die begin was van “die koms van die Seun van die mens”. Matt. 10:23 is dus vervul omdat die dissipels nog nie klaar was toe Pinkster aangebreek het nie. Hierdie verklaring is uiters vergesog aangesien ons konsekwent in Matthéüs lees dat die koms van die Here net van die wederkoms praat en niks anders nie (16:27,28; 19:28; 24:27,30,37,44, ens.). Wat meer is, ons lees ná Pinksterdag nog steeds van die koms van die Here wat op presies dieselfde wyse aan Israel verkondig is (Hand. 3:19-21). Daar word nie gesê dat Pinksterdag dié koms op enige wyse vervul nie.

Dit is nou die probleem van diegene wat leer dat die kerk van vandag reeds in Matthéüs verkondig is en op Pinksterdag gestig is. Beide die gedeeltes is absoluut gerig op die vervulling van die beloftes, die koms van die Messias en die instelling van die koninkryk. Pinkster is tog nie ‘n “voorlopige vervulling” van Matt. 10:28 nie, maar is ‘n herhaling van dieselfde vooruitsig, nl. die koms van die koninkryk. Let noukeurig op Hand. 3:19-21:

Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en die tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom en Hy Hom mag stuur wat voorheen aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van sy heilige profete.”

Hierdie “herstelling” en “wederoprigting” is tog so heeltemal duidelik dieselfde as wat Petrus in Hand. 2 in sy Pinksterpreek voorgehou het as die herstel van Dawid se troon. Dit is die vervulling van die koninkryksbeloftes soos die profete dit aan Israel verkondig het. Pinkster bevat nog geen uitstel van die koninkryk en instel van die kerk nie. Die kerk is hier nie ter sprake nie.

Inteendeel, ons sien ‘n direkte verband tussen Matt. 10:23 en Hand. 3:19-21. Ons het u reeds gewys op die Griekse woord “an” wat in al drie die verse in Matthéüs voorkom. Die probleem is net dat die werklike voorwaarde wat met die woordjie “an” gestel word, nie in die vier verse in Matthéüs gestel word nie. Tog word die voorwaarde dikwels in Matthéüs geïmpliseer, ook hier in Matt. 10 waar bekering aan Israel verkondig word, gekoppel met die aankondiging van die koninkryk. In Hand. 3 het ons gesien dat die voorwaarde pertinent gestel word: Israel moet bekeer; dan sal die Here terugkom en die koninkryksbeloftes vervul.

Nou kan ons Matt. 10:23 tog verstaan! Dat hulle nie met die stede van Israel sou klaarkry nie, was ‘n vaste sekerheid, maar die koms van die Seun van die mens was voorwaardelik. Israel moes eers bekeer en dit het hulle nie gedoen nie! Eers daarna, toe die verwagting van Israel tersyde gestel is deur die aankondigings van Paulus in Hand. 13, Rom. 11, ensovoorts, is die verborgenheid, die kerk van vandag, aangekondig.

Let dus deeglik op dat Matt. 10:23 geensins die verborgenheid in ag neem nie. Hy praat net van Israel se opdrag en sy verwagting van die koninkryk wat toe al sou realiseer as hulle net bekeer het en die Messias aangeneem het.

In die lig van Hand. 3 is Matt. 10 nie meer ‘n probleem nie en leer dit ons baie van God se plan met Israel. As u egter die stigting van die kerk op Pinksterdag indruk en die band tussen Matt. 10 en Hand. 3 verbreek, sal Matt. 10 altyd vir u ‘n probleem bly en dan sal u maar saam met William Hendriksen moet sê dat Pinksterdag alreeds die voorlopige vervulling van die wederkoms is!

Mattheus 16:27,28

Matt. 16:27 praat baie duidelik van die wederkoms. Dit sal tog eers daar gebeur dat die Here saam met sy engele sal kom en dit sal ook eers by die wederkoms gebeur dat die Here elkeen sal oordeel volgens sy dade. Hendriksen se chaotiese metode van verklaring laat hom egter nog steeds toe om te sê dat Matt. 16:27,28 reeds op Pinksterdag vervul is! Hy maak gebruik van ‘n mensgemaakte teologiese term om die verskynsel van hierdie verse te verklaar. Hy noem dit: “Prophetic foreshortening”! Hy meen dat, as hy die geleerde woord aangehaal het, alles wat by die wederkoms sal gebeur, eintlik reeds op Pinksterdag plaasgevind het!

Net omdat Hendriksen en duisende ander Christene nie wil glo dat die verborgenheid eers lank na die tyd van Mattheus geopenbaar is nie, moet hulle ‘n duidelike Bybelse uitspraak verdraai en geweld aandoen.
Die verklaring van Matt. 16:28 is eenvoudig as ons net weer die Griekse woordjie “an” raaksien en besef dat Israel toe nie bekeer het nie, dat die wederkoms dus ook nie toe plaasgevind het nie en dat Paulus in plaas daarvan iets nuuts en “onnaspeurliks” aangekondig het, nl. die bedeling van genade (Rom. 16:25; Ef. 3:1-9; Kol. 1:25-27).

Op die stadium toe die wederkoms voorwaardelik sou plaasvind, was daar sekerlik nog van dié wat die woord van Matt. 16:28 aangehoor het wat nog geleef het.
Erken die verborgenheid en u sal die moeilikste Bybelverse kan verstaan en nie nodig hê om u Bybel in frustrasie toe te klap of om die skrikwekkende verklarings van vandag se teoloë na te volg nie.

Mattheus 23:39

Dit is uiters noodsaaklik om die verband tussen Matt. 23:39; 24:2; 24:3 en 24:30 te sien. Matt. 23:39 praat van die wederkoms terwyl 24:2 weer van die val van die tempel in 70 n.C. praat. Maar het die Here op daardie stadium dit so vir hulle aangebied dat die twee gebeurtenisse 2 000 jaar van mekaar geskei sal wees deur die toetrede van ‘n ander bedeling, nl. die verborgenheid? Nee, sekerlik het Hy dit nie gesê nie en Hy kon ook nie, want die verborgenheid was nie sy bediening nie (Rom.15:8).

Matt. 23:39 stel, soos die ander verse, ‘n sekerheid en ‘n onsekere voorwaarde. Die sekerheid is dat hulle Hom ‘n tyd lank nie sou sien nie (veronderstel binne hulle leeftyd) en die onsekerheid is die wederkoms van die Here. Omdat Israel hulle nie bekeer het nie, is die tydperk (:38) waarin Israel se huis vir hulle woes gelaat is, baie langer uitgerek as wat die apostels dit op daardie dag verwag het en het die tyd van die verborgenheid uit God se genade die ruimte kom vul.

Mattheus 24:34

Al vier die verse uit Matthéüs wat ons hier bespreek, behoort tot dieselfde orde. Hulle praat van ‘n onmiddellike belofte van die koninkryk en die koms van die Here met ‘n bepaalde voorwaarde daaraan gekoppel. Ook die taalkundige konstruksie van die uitsprake kom merkwaardig ooreen, soos reeds aangedui.

Tog kom Hendriksen hier by Matt. 24 met ‘n totaal ander interpretasie as by die eerste twee gevalle. Hy maak nou nie meer gebruik van sy “prophetic foreshortening” nie, maar rek eerder die verwysing na “hierdie geslag” uit sodat dit dui op iets wat 2 000 jaar of langer kan duur totdat die Here weer kom. Hierdie interpretasie is ewe verkeerd, want die geslag wat die Here daar aangespreek het, verwys tog sekerlik na daardie spesifieke mense met wie Hy gepraat het, soos dit ook by die ander drie verse die geval was. As die Here sê julle en daarna hierdie geslag, praat Hy tog van presies dieselfde groep mense.

As Israel hom bekeer het (Hand. 3:19-21), sou alles wat die profete voorspel het, in vervulling gegaan het en sou daardie geslag sekerlik nie uitgesterf het sonder om die beloftes in vervulling te sien nie. Dit is presies die betekenis van die Griekse “an” wat ‘n onsekere voorwaarde stel en wat weereens in die vers voorkom.

Die onderbreking van profesie

Al hierdie verse in Mattheus staan suiwer in die profetiese program. Die profete het geweet van die lyding van die Here en van sy koninkryksheerlikheid daarna (1 Petr. 1:10,11). Dat daar ‘n onderbreking sou wees en dat die Here na sy lyding en voor sy heerlikheid op die troon van Dawid eers van die aarde vervreem sou wees en deur die Liggaam van Christus die wêreld in genade sou aanspreek, het die profete én die apostels nie geweet nie en die Here self het dit ook nie op aarde aangekondig nie.

Ons vier verse uit Matthéüs maak dit baie duidelik. Israel moes hom net bekeer en die koninkryk sou voortgaan.

Kom ons kyk ook na enkele voorbeelde uit die Ou Testament:

Miga 5:1,2: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat die barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.

En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die Here, in die majesteit van die Naam van die Here sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.”

Miga weet van die menswording van die Here en hy verbind dit direk met sy heerlikheid as Koning wat oor die hele aarde sal regeer en Israel sal laat terugkeer en rustig sal laat woon. Van die groot bedeling van genade wat tussenin kom, weet hy niks nie, maar ons weet vandag dat profesie deur die verborgenheid onderbreek is.

Jes. 53:7; 54:3,5: “Hy is mishandel hoewel Hy onderworpe was en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders - ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”
Want jy sal regs en links uitbreek en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk. Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.”

Ja, inderdaad, die profete het geweet van die lyding van die Here en van sy aardse heerlikheid daarna (1 Petr. 1:10,11). Dat Hy egter ‘n lang tyd (nou reeds byna 2 000 jaar) op sy troon van genade in die hemel sou sit en deur middel van gesante (ambassadeurs) ‘n aanbod van versoening met God aan al die nasies sou maak, was vir die apostels en profete bedek.

Matt.16 het reeds aangekondig dat die dag waarop die Here elkeen sal oordeel vir sy dade, op hande is. Daardie dag is egter uitgestel omdat die Here op sy troon van genade gaan sit het. Elke oomblik wat hierdie dag nog langer uitgerek word, moet gesien word as nog genade en nog ‘n kans om die wonderbare boodskap van versoening uit te dra.






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|