Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

Jesus vir vandag
 
Ken die wondere van die hemelse Christus

deur David Malan

Die doel met hierdie artikel is om aan die leser uit te wys dat Jesus vandag ‘n ander bediening het as wat Hy op aarde gehad het. Om ten volle te kan deel in wat Hy vandag vir ons wil doen, moet ons Hom ken na sy hemelse gestalte.

Ek wil u met my saamneem op ‘n heerlike ontdekkingstog na die wondere en onuitspreeklike hemelse rykdomme van Christus Jesus. Om hierdie ontdekkingstog enduit te stap, is daar sekere dinge wat jy moet agterlaat. Lees die verse onderaan aandagtig deur (Fil. 3:8-10,14). Die populêre verklaring is dat ons aardse dinge soos geld, plesier en sonde moet agterlaat

“Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prys gegee het en as verwerplik beskou, om Christus as wins te verkry

“en in Hom bevind te word, nie met my eie geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, ‘n geregtigheid wat uit God is deur die geloof;

“sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word.

“Maar een ding, ek vergeet die dinge wat agter is en ek strek my uit na wat voor is en ek jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Natuurlik moet sulke dinge agtergelaat word. Dit is ‘n absolute waarheid van die evangelie wat op talle plekke in Paulus se briewe en elders gelees kan word, maar hier in Filippense 3 is die werklike verklaring eintlik op ‘n ander vlak. Mense is haastig om die Bybel prakties toe te pas, maar is minder geïnteresseerd om te verstaan en in konteks te plaas wat daar werklik geskryf word. As ons die moeite wil doen om die Bybel te respekteer en te verstaan, sal die toepassing sekerlik ook nie uitbly nie en sal ons uiteindelik op ‘n toepassing afkom wat vir ons van geweldig groter waarde sal wees.

Dit sal dan nie net ‘n morele les wees nie, maar ‘n stuk Bybelse lering wat in die hart opgeneem word en wat rus op die onvernietigbare krag en sekerheid van die hemelse Jesus Christus.

Ja, daar is dinge wat agtergelaat moet word, maar kom ons vermy die maklike en populêre weg om te spring na ‘n praktiese toepassing. Kom ons gaan leer wat die Bybel ookal hier vir ons te leer het.

Deur Jesus Christus

Kom ons spring dadelik weg met ‘n effens anderse perspektief op Fil. 3:7. In die meeste vertalings staan daar dat Paulus die ou dinge ter wille van Christus as skade ag. Maar dit is nie Paulus nie, want die werkwoord om te ag is in die passiewe vorm. ‘n Nuwe lewensbeginsel het van Paulus besit geneem wat veroorsaak het dat sy ingesteldheid teenoor die lewe totaal verander het.

Vers sewe onderstreep dus wat ons reeds in die inleiding opgemerk het. Mense wil altyd na praktiese voorskrifte en toepassings spring en sien dikwels nie eers raak dat hier eintlik getuig word van die veranderende krag van God wat op die mens ingewerk het nie. Laat die klem dus liewer geplaas word op die insig, saamwees met en die waardering vir die Lewe wat in ons is, as om daar verbý te kyk en net op die uiterlike effek klem te lê. Ja, verseker word die klem in hierdie deel op Christus geplaas. Hy inspireer alles wat in Paulus plaasvind en Paulus se hele strewe is op Hom gerig.

As ek die Bybel vertaal het, sou ek ook nie die woorde ter wille van gebruik het nie. Dit klink so al of Paulus nou sekere dinge doen om by Christus te kan uitkom. Die Griekse woord is dia en dit beteken eerder deur of as gevolg van. Ja, dit is natuurlik so dat Paulus nog altyd meer en meer van Christus wil weet, maar dit alles is juis omdat Christus reeds die sentrum van sy bestaan ingeneem het en die oorsaak én die gevolg van sy strewe was. Kom ons sê dus liewer: “Maar wat vir my wins was, dit het deur Christus vir my skade geword.”

Goed, ek dink ons stem saam: Christus het Paulus se strewe verander en ‘n nuwe gerigtheid aan sy lewe gegee. Maar wat presies sê die gedeelte is die dinge wat hy alles prysgegee het? Let op: Nie prysgegee asof dit iets is wat vir hom belangrik is wat hy opoffer nie - nee, die goed waarvan hy praat, het ál hulle wins vir hom reeds verloor. As hy daarmee sou aangaan, sou dit vir hom net skade ingehou het. Wat is hierdie dinge?

Daar was drie groepe mense wat daarop uit was om die evangelie van God se genade so ver as moontlik te vernietig. Vers 2 praat van hulle as (1) die honde, (2) die slegte arbeiders en (3) die versnyding. Die honde is onheilige mense wat die waarheid haat. Boosdoeners is hulle wat daarop uit is om ander kwaad aan te doen en die versnyding is hulle wat die besnydenis afdwing op nie-Joodse gelowiges om hulle onder die wet in te bring.

Nou sluit Paulus by vers drie en verder aan by hierdie laaste groep, die wetsdrywers, maar hy bring hulle ook in verband met die honde en die slegte arbeiders. Judaïseerders beroem hulle daarop dat hulle heilig is en die ander honde, maar nou is daar ‘n nuwe waarheid wat deur die Judaïseerders verwerp word, nl. die evangelie van die genade van God en dus word húlle nou die honde. Hulle doen die Christene kwaad aan en daarom is hulle ook boosdoeners.

Hierdie mense beroem hulle op die vlees, maar Paulus toon ondubbelsinnig aan dat, as Christus vir ons van waarde moet wees, ons ons op geen manier op die vlees kan beroem nie. En dan gaan hy voort om die vleeslike dinge op te noem waarop hy hom beroem het: sy besnydenis, Hebreeuse afkoms, kennis van die wet, gehoorsaamheid aan die wet, ens., maar in die plek daarvan wil hy nou alleen beklee wees met die geregtigheid van Jesus Christus.

En nou moet elkeen maar met hierdie gedeelte maak soos hy goed dink. Die wat morele lesse daaruit wil leer, kan dit doen, maar vir my is dit duidelik dat elkeen wat die hemelse Christus wil eer en aanbid, vry moet wees van enige vorm van vertroue op die vlees, anders sal hy uiteindelik Christus se Naam misbruik om in sy eie vlees te roem.

Die uitdaging van Fil. 3 is nie om self groot prestasies te lewer in die geloofslewe nie, maar om ten volle ag te gee op Christus en dus geensins in jouself te roem nie. Die les wat in die Evangelies geleer word, is nog net so waar: “Gaan in deur die nou poort.” Waarom is die poort nou? Hoe nou is die poort? Baie nou. Selfs so nou soos die oog van ‘n naald. Geen mens kan daar in nie. Geen enkele deel van die vlees kan daar in nie. Alles moet agtergelaat word en saam aan die kruis sterf.

Veral die dinge wat te doen het met die wet. Die wet werk in op die vlees en wys ons die sonde en verlorenheid, maar sodra jy die wet wil gebruik om soos die Fariseërs jouself voor God aanvaarbaar te maak, is jy totaal ver-dwaal. Die wet kan geen geregtigheid aan-bring nie. As ons die wondere van Christus wil ken, moet ons die roem in die wet, die vlees en die self totaal agterlaat. Die poort is nou en slegs dit wat in die Gees is, kan daar deur.

Watter geregtigheid?

“Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.

“Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.

“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hulle aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.”

“Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

Ons moet Fil. 3 noukeurig met die eerste verse van Romeine 10 vergelyk. Wanneer Paulus ernstig bid vir die redding van Israel (10:1), dan is die eerste saak wat in sy hart opkom dat hulle ontslae moet raak van die geregtig-heid wat uit die wet is (10:3,4). Niemand kan Christus vandag deur die wet ken nie.

En nou sê baie mense: “Ja, maar dit het nou mos betrekking op Israel. Dit is hulle wat die wet so oorbeklemtoon het. Hierdie waarsku-wing is nie op ons van toepassing nie.”

Nee, ek dink hulle maak ‘n fout. Die hele boek Galasiërs, Filippense en ander dele is geskryf uit vrees vir die wettiese ingesteldheid van die Judaïsme wat op groot skaal oorgespoel het na die Christendom. Die wet kan nie red nie en die hemelse Christus bedien nie die wet nie.

Die wet lei nie na Christus toe nie. Die wet stel slegs godsdienstige eise waaraan die kinders van God gehoorsaam moes wees. Maar hulle kon dit nooit doen nie. Die ingesteldheid van die mens se sondige hart is altyd om homself te regverdig, homself te laat geld, homself te verontskuldig en te kompenseer vir sy foute. Hiervoor gryp hy die wet aan.

Maar selfregverdiging, selfgelding, selfveront-skuldiging en kompensasie is dade van die vlees. Wanneer Christus in jou lewe inkom, moet dit gelos word, sê Fil. 3 en Rom. 10.

Rom. 3:21 e.v., Rom. 10 en Fil. 3:9 sê dit tog so duidelik dat die geregtigheid van God met die wet totaal niks te make het nie. Die wet kan dit nie tot stand bring nie.

Dit is dan nou die rede warom ons hier sê dat daar wonderlike en heerlike waarhede van die hemelse Here Jesus Christus is - alles dinge wat alleen geken en geniet kan word as ons die Bybelse weg volg en agterlaat wat agtergelaat moet word. God se geregtigheid is een van hierdie hemelse seëninge van Jesus Christus.

Paulus bid ernstig dat Israel hierdie geregtigheid deelagtig sal word. Maar hoe? Wel, sê hy, hulle sal die wet moet los, anders kan Christus vir hulle niks beteken nie.

God se geregtigheid is te heilig, heerlik en hemels om enigsins daaraan te kan dink dat jy dit kan verdien of daarvoor kan kwalifiseer. Dit is juis wat jy totaal uit jou gedagte moet uitkry, want solank jy op enige wyse dink aan ‘n soort samewerkingsooreenkoms met God om hierdie geregtigheid tot stand te bring, dink jy aan totaal die verkeerde soort geregtigheid. Dan dink jy nog aards en wetties. God se geregtigheid is totaal volmaak en is op net een manier bewerkstellig:

Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,

“en hulle word uit genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Liewe leser, ek wil so graag die onuitspreeklike grootheid van die hemelse Here Jesus Christus aan u voorstel. Dit is my gebed dat u saam met my na niks anders sal streef nie as om Christus in al sy majesteit te ken. En dan moet ek dadelik vir u sê, soos die Bybel my leer om dit te doen, dat u nooit hierdie wonder sal deurgrond as u nog vashou aan die vlees, die aarde en die wet nie.

Ek wil nou voortgaan om enkele grepe aan te haal uit die onnaspeurlike rykdom van Christus. Lees dit aandagtig en biddend. Dit is bekende verse uit die Nuwe Testament, maar miskien gaan u vandag iets nuuts daarin lees, iets wat ‘n mens net kan verstaan as God deur sy Gees jou verstand open om die verborgen-heid van Christus te verstaan (1Kor. 2:7-10).

“Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,

“wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie - want as hulle dit geken het sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie-

“maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.

“Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” – 1 Kor. 2:7-10.

Die onnaspeurlike rykdom van Christus

Hier is miskien die belangrikste hemelse voortreflikheid van Christus, nl. dat Hy ‘n nuwe werklikheid deur die Gees aan ons openbaar – iets wat in geen mens se hart kon opkom nie, wat ‘n mens in sy natuurlike staat nie kan begryp nie en wat geheel en al van God afkomstig is. Dit is iets wat God nog altyd in Homself voorgeneem het, maar nie in die ou bedeling bekend gemaak het nie. Dit is die kroon van die Godsopenbaring. Daarsonder sou die Bybel vir ons onvolledig gewees het.

Die basis van hierdie nuwe werklikheid is die openbaring van die kruisevangelie en die ver-lossing wat daar in Christus is. Die kruisiging self het al tydens die aardse bediening van die Here Jesus plaasgevind, maar wanneer is die evangelie van die kruis die eerste keer verkondig?

Let op wat Christus aan die kruis bewerkstellig het en let ook op wanneer dit bekend gemaak en verkondig is:

1. Hy het die dood oorwin

Maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie” 2 Tim. 1:10.

2. Hy het triomfeer oor owerhede en magte

Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel het en daardeur oor hulle getriomfeer het” Kol. 2:15.

3. Vir die wat glo het Hy die duiwel oorwin

... sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het - dit is die duiwel - en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” Hebr. 2:14,15.

4. Hy het ‘n ewige verlossing teweeg-gebring

Maar Christus wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê wat nie aan hierdie skepping behoort nie,

“ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.” Hebr. 9:11,12.

Die kruis en die opstanding is die basis van dit alles, maar dit gaan nog veel verder. Die uitnemendheid van die hemelse Christus bestaan in sy ewige krag en sterkte, die feit dat Hy die Hoof van die liggaam van Christus is waarin alle geredde mense in hierdie bedeling tuis is, dat ons deur die Heilige Gees verseël is met die oog op die groot dag van verlossing, dat ons saam met Hom nou reeds ons posisie in die hemel ingeneem het, dat Christus bo alle owerheid en mag verhoog is en aan die regterhand van God sit waar Hy vir ons intree. Dink biddend hieroor na:

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot Heerlikheid van God die Vader” Filippense 2:9-11.

“Hy wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” Hebr. 1:3.

“Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dit: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele” Hebr. 8:1.

“Hy is die beeld van die onsienlike God, die eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand, Hy is die hoof van die liggaam naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van die kruis” Kol. 1:15-20.

“Verligte oê van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” Ef.1:18-23.

“Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en die lengte en die diepte en die hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” Ef. 3:14-19.

Dit is die beskrywings van die uitnemendheid van die hemelse Christus. Let op dat dit beslis nie net gaan oor objektiewe en teoretiese kennis nie. Die kennis waarvan hier gepraat word, is kennis wat die Heilige Gees ons in staat stel om te begryp en dit is kennis waarby nie net die verstand betrokke is nie, maar die hele wese van die mens – jou ganse geestelike bestaan voor God word bepaal deur jou kennis van die uitnemendheid van die Here Jesus Christus.

Die aardse Jesus en die hemelse Christus

Nou dat ons gekyk het na die grootse waarhede van die hemelse Christus, is dit gepas om te let op die bediening van die Here Jesus op aarde. Hoe vergelyk hierdie twee met mekaar? Is dit dieselfde bediening? Het die Here Jesus op aarde die dinge geleer wat ons beskryf het as die uitnemendheid van die hemelse Christus?

Kom ons beskou Jesus se aardse bediening van nader en besluit dan of die twee dieselfde is. By elkeen van hierdie volgende punte wil ons ‘n aardse en hemelse aspek van Jesus met mekaar vergelyk.

1. Jesus is ‘n tyd lank (op aarde) minder as die engele gemaak (Hebr. 2:9), terwyl ons weet dat Hy nou in sy hemelse heerlikheid baie uitnemender is as die engele (Hebr. 2:4).

2. Hy het vlees geword sodat Hy vir ons sondes kon sterf, maar nou is Hy as die Eersgeborene van die Vader in ‘n onbeskryflike en onverderflike hemelse liggaam.

3. Hy was die Koning van Israel en gebore uit die geslag van Dawid en Abraham (Joh. 1:49; Mat. 1:1) om die profesieë van Israel te kom vervul, maar nou is Hy die Hoof van die liggaam van Christus wat op geen manier in ‘n sekere volk se diens staan nie.

4. Hy is gebore om aan die kruis te sterf en ook om as koning oor Israel te regeer (Hebr. 2:9, Luk. 1:29-33, 76-77), maar vir ons in die huidige bedeling is sy “geboorte” wat wesenlik vir ons van belang is, die een wat opgeteken is in Kol. 1:15-20 wat ons aangehaal het. In sy posisie van majesteit in die hemel is Hy die “Eersgeborene” van almal wat Hom na die hemel sal volg. Hierdie geboorte verwys nie na sy aardse geboorte nie, maar na sy hemelse. Lees ook Hebr.7:16 oor Christus se geboorte tot die krag van die onvernietigbare lewe en bepaal dan watter geboorte van Christus eintlik effek op ons geestelike lewe het.

5. By sy aardse geboorte kom verkondig Jesus vrede op aarde (Luk. 2:11,14). Dit was as vervulling van Jes. 9:6,7 waar daar voorspel is dat hy as Vredevors werklik fisies vrede tot stand sal bring. Tot aan die einde van sy aardse bediening was die vrede van Jerusalem vir Hom baie na aan die hart en het Hy geween toe Hy besef dat hulle Hom verwerp het en dat alles behalwe vrede op hulle wag (Luk. 19:42). Vir ons is Hy vandag op totaal ander wyse Vredevors. Vir ons gaan dit om vrede met God te hê deurdat Jesus aan die kruis die vyandskap tot niet gemaak het (Kol. 1:20; Rom. 5:1).

6. Jesus het op aarde in diens gestaan van Israel om die beloftes van die vaders te vervul (Rom. 15:8). Dink maar net hoeveel keer daar geskryf staan dat Hy iets gesê of gedoen het “sodat vervul mag word” wat daar van Hom geskryf staan. Mat. 5:17 en 18 sê ook dat Hy gekom het om die wet en die profete te vervul. Nie een jota of tittel van wat geskryf is, sal onvervuld verbygaan nie. Maar in die huidige bedeling word daar niks vervul wat opgeteken is nie. Ons bestudeer nou juis die “onna-speurlike” rykdom van God. Dit kan nie in die Ou Testament nagespoor word nie. Jy sal dit nêrens in die Ou bedeling geprofeteer kry nie. Dit was bedek en verborge en nou vir die eerste keer geopenbaar (Rom. 16:25; Ef. 3:1-3; 1 Kor. 2:7-10).

7. Vir ons bedeling is daar net een evangelie waardeur ‘n mens gered kan word (1 Kor. 15:1-4). Dit gaan oor die kruis en die opstanding van Christus. Maar in Luk. 9:1-6 is die dissipels uitgestuur om “die evangelie van die koninkryk” te gaan verkondig. Dit het gegaan oor bekering vir Israel omdat die Messias van die koninkryk gekom het. Van die evangelie van die kruis het hulle toe nog niks geweet nie (Luk. 18:31-34).

8. Die wederkoms van die aardse Jesus word op verskillende plekke in die Bybel voorspel - baie duidelik in Sag. 14 en Open. 19, maar ook in die Evangelies soos in Matt. 24:29,30. Hierdie wederkoms gaan gepaard met oordeel en vernietiging van God se vyande. Omdat hierdie gebeurtenis so dikwels voorspel word, weet ons redelik baie oor hoe dit sal gebeur. Daar sal eers vir ‘n tydperk van sewe jaar groot verdrukking en benoudheid op die aarde wees met allerlei oordele en peste soos in Matt. 24 en Openbaring beskryf. Die Antichris kom ook in die tyd prominent op die voorgrond om eers as vredemaker en later as diktator en moordenaar te regeer.

Maar die wederkoms van die hemelse Jesus Christus soos wat die kerk as die liggaam van Christus Hom te wagte is, is nooit in die profesie voorspel nie. Hierdie wederkoms vir die kerk word ook die wegraping genoem n.a.v. 1 Thess. 4:16,17. Die geredde kinders van God sal onverwags opgewek of verander word en die Here in die wolke tegemoet gaan. Die wegraping is anders as die sigbare wederkoms van Matt. 24, nie ‘n gebeurtenis van oordeel nie, maar van vreugde en blydskap (1 Thess. 4:18).

Opgebou in die eenheid van die Liggaam

Elke Bybelstudent wat die profesie verstaan, ken die verskille tussen Israel en die kerk. Sonder hierdie basiese onderskeiding, maak die Bybel weinig sin. En hieruit volg dit dat daar tog ook ‘n verskil moet wees tussen Jesus se bediening vir Israel en sy bediening vir die kerk. Ons het tog gewys op verse soos Rom. 15:8; Matt. 15:25; Matt. 23:37; Luk. 19:41,42 en Hand. 3:19-21 wat duidelik aantoon dat Jesus op aarde in ‘n bediening vir Israel gestaan het, met die oog op die instelling van die koninkryk.

Aan ons wat lede is van die liggaam van Christus, is daar nooit ‘n koninkryk hier op aarde beloof nie. Ons oproep is alleen om uit hierdie wêreld verlos te word en ons gedagtes en verlange totaal in die hemel te vestig (Gal.1:4; Kol. 3:1-3).

Ook word ons nooit aangespreek as lede van die volk Israel nie, maar as lede van die Liggaam van Christus waarin daar geen onderskeid tussen volkere en nasies is nie. Hierdie liggaam is ons eer en roem. Daar is geen hemelse gawe wat groter of heerliker is as die voorreg om opgebou te wees as lid van die liggaam van Christus nie.

Die oue en die nuwe

Onderaan haal ons Ef. 2:11 e.v. aan wat die proses beskryf waarvolgens die liggaam van Christus tot stand gekom het. Ons wat lede van die heidennasies is, was voorheen totaal afgesny van God se bemoeienis met Israel. Ons was vreemdelinge, afgesny van die verbond, aan die verkeerde kant van die middelmuur van skeiding en uitgesny uit die beloftes aan Israel.

"Daarom , onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,

“dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

“Maar nou in Christus Jesus het Julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.

“Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

“deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan ..”

Maar al hierdie dinge is nou opgehef. ‘n Nuwe bedeling het begin. Een nuwe mens is geskep. Die middelmuur van skeiding is afgebreek. Ook die vyandkap tussen God en mens wat bestaan het as gevolg van die wet van gebooie en insettinge, is tot niet gemaak. Iets totaal nuut en hemels is in die plek daarvan geplaas.

Van hierdie dinge, my liewe leser, kry u totaal niks tydens die aardse bediening van Jesus nie. Dit was toe nog nie geopenbaar nie. Die middelmuur van skeiding het toe nog bestaan. Die wet was toe nog ten volle van krag. Jesus het Israel bedien en het die gesag van die Fariseërs erken (Matt. 23:1-3). Nie een van die nuwe dinge wat hier in Efesiërs staan, kry ons in die Evangelies nie.

Om die lidmaatskap van die liggaam van Christus ten volle te ken en te geniet, is dit dus ook volgens Ef. 2 noodsaaklik om te weet hoe dit eers was en hoe dit nou is. Die verskil in dispensasie is van wesenlike belang. Kom ons gaan kyk nou naderby na die struktuur wat God geskep het waardeur u en ek nou wesenlik deel van die hemelse Christus kan wees.

“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,

“gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

“in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,

“in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Ef. 2:19-22).

Die eerste saak wat hier genoem word, is burgerskap. Soos dit was in die tye van die Nuwe Testament, is dit ‘n besonderse voorreg om burger te wees van ‘n sekere land. Paulus het hom by meer as een geleentheid beroep op sy Romeinse burgerskap. So is dit ‘n heilige, godgegewe voorreg om burger van die hemel te mag wees.

Dit is iets wat mens moet verstaan en ten volle jou eie moet maak. Dit is juis die gebed van Paulus, reeds in Ef. 1:18 e.v. dat hulle insig sal hê in die wondergawes van God se genade, dat hulle sal verstaan wat die hoop is van hulle roeping en wat die rykdom is van die heerlikheid van hulle erfdeel in die Here.

Die heel belangrikste ding vir ‘n mens om te weet, is dat jy gered is. Jy moet jou sonde bely en Jesus as Verlosser aanneem. En daarna, wanneer jy gered is, is die grootste en belangrikste ding om te verstaan, ons voorreg van hemelse burgerskap.

Waarom verlang Christene dikwels terug na die wêreld en om in tel te wees by die instellings van hierdie wêreld?

Waarom is die onderskeid tussen gered en ongered dikwels so vaag en onsigbaar?

Waarom is Christene dikwels afgunstig op die voorspoed en rykdom van die wêreld?

Waarom so daarop ingestel om met die wêreld op sy gebied mee te ding?

Daar is werklik net een antwoord op hierdie vrae:

Ons weet nie wie onsself is nie

Ons verstaan nie ons eie voorregte en verhewe hemelse posisie nie

Ons weet nie regtig wat lidmaatskap van die liggaam van Christus behels nie.

Om ‘n hemelse burgerskap te besit, beteken:

Gemeenskaplike lojaliteit van alle Christe-ne. Kerkisme en ‘n oorbeklemtoning van aardse kerkorganisasies breek hierdie lojaliteit af.

Afgesonder en duidelik uitgesonder van die res.

Nie gebonde aan grense, tyd, mense, aardse beperkinge, bedrog, korrupsie en struwelinge nie. Ons gaan dit alles te bowe.

Hoe swaarder dit gaan, hoe meer opgewonde en vasberade gerig op die toekoms (Fil. 2:10,11).

Alle geestelike seëninge in die hemel, insluitende die onverbreekbare eenheid met Jesus Christus.

Reg van toegang tot God

Die heel grootste nood onder Christene vandag is ‘n regte Bybelse verstaan van wat die Christelike kerk is. Die meeste kerklike denominasies versper Christene se uitsig op die ware hemelse kerk.

Maar om ‘n burger van ‘n sekere land te wees, beteken ook dat jy bugerlike verantwoordelikhede het om na te kom.

Trots op jou herkoms

Ambassadeurskap

Vreemdeling in enige ander koninkryk

Die hemel eerste en ek self altyd tweede

Staan by die beginsels en gebruike van jou land van herkoms.

Huisgenote van God

Ons aangehaalde verse gaan nog verder by die idee van burgers van ‘n land verby en sê dat ons huisgenote van God is. Die eenheid is nou nog meer intiem en persoonlik. Christene behoort nie net tot dieselfde land nie, maar ook tot dieselfde familie. Hulle is nie net kennisse nie, maar deur bloed aan mekaar verbind. As alle Christene dit maar wou weet dat daar in God se huishouding nie verskillende families bestaan nie, maar net een familie!

Binne die huisgesin is die verhouding met die Vader nie een van vrees en onderworpenheid nie. Beslis ook nie ‘n wettiese verhouding waar ‘n familielid uitgewerp kan word as hy nie aan die voorwaardes voldoen nie. Nee, die verhouding word gedra deur liefde, medever-antwoordelikheid, onderrig en teregwysing, geborgenheid en sekuriteit.

Eers as ons ervaar wat dit is om in die familie van God opgeneem te wees, sal ons die wondere van God se genade begryp. Alle mense is uit hulleself helverdiende sondaars, maar die bloed het ‘n verandering gebring. Let asb. op: Die bloed van Jesus het ons nie alleen van die hel verlos nie, maar ons waardig gemaak om opgeneem te word in die huishouding van God. Sonder Jesus Christus, sou daar nooit eers ‘n familie van God bestaan het nie. Hy het die verandering gemaak!

En onthou: God het nie spesiale voorregte vir sekere van sy kinders terwyl Hy ander kinders op ‘n afstand hou nie. As jy ‘n kind is, is jy volkome kind en deel in alles in sy huishou-ding. Die enigste rede waarom sommige op ‘n afstand huiwer, is omdat hulle nog onder die vrees van die wet is. Hulle weet nie of hulle genoeg gedoen het om hulleself voor God aanvaarbaar te maak nie. Hierdie saak het ons in die eerste bladsye reeds breedvoerig hanteer. Asseblief, vriende, in die huis regeer die wet nie. Jy het nie jouself ingebring nie. Jy is ingebring deur die Middelaar, Jesus Christus. As jy die wet wil saamsleep, is daar in die huis vir jou geen plek nie.

Wie het jou ingebring? As jy dit nie weet nie, het jy ‘n probleem. Dit is beslis nie jou ouma op die dag toe jy ten doop gebring is nie. Ook nie die persoon wat die evangelie aan jou uitgelê het en die weg tot saligheid aan jou duidelik gemaak het nie. Ook nie jou ouers wat voor die preekstoel “namens” jou “ja” geantwoord het nie. Ook nie die dominee wat die water op jou kop laat val het nie. En natuurlik ook nie jyself deur die heel mooiste dade wat jy ookal gedoen het nie.

Die gestruktureerde kerk praat van dooplidmate en belydende lidmate. By hulle maak die doop en die aanneming jou deel van die kerk. Dit is beslis baie ver verwyder van die waarheid van die kerk van die Bybel. Die aardse kerk het homself met onBybelse leringe ver verwyder van die kerk van die Bybel en daardeur dit vir die mense bitter moeilik gemaak om hulle lidmaatskap van die Bybelse kerk te verstaan en te geniet.

As geredde kind van God is jy deel van die huishouding van God. Dink hieroor na en laat die Heilige Gees ons uitlei uit al die mensgemaakte strukture en beperkinge en ons van vooraf leer wat dit beteken om lede van sy kerk te wees.

Die gebou van God

Ons vers gaan voort om te sê dat die liggaam van Christus soos ‘n gebou is wat aan God toegewy is en jy is ‘n lewende steen daarin. Heiligheid is die hoofkenmerk van hierdie gebou. God woon daarin. Soos by burgerskap, soos in die huishouding, maar veel meer nog hier in die gebou, is al die Christene een. Funksioneel en natuurlikerwys sal Christene op mekaar aangewese wees en die eenheid van hulle roeping en strewe bo alles beklemtoon.

Die hart van hierdie gebou is die Gees van God self. Meerderwaardigheid, beterweterigheid, strydlustigheid, arrogansie, geestelike hoog-moed, afguns, veroordeling en al daardie dinge is totaal ondenkbaar. Hoe kan jy as steen ingemessel wees in God se gebou en dan nog steeds die gedagtes en ingesteldhede van die mens vertoon?

Soos elke gebou het hierdie een ook ‘n fondament. Ons het reeds gekyk na die vorige verse in Ef. 2 wat die een nuwe mens beklemtoon. Die verdeeldheid wat die bedeling van Israel gekenmerk het, bestaan nie meer nie. Hierdie is ‘n heel nuwe dispensasie wat die ou een vervang het. Hierdie is nie ‘n gebou wat verder opgebou word volgens die maatstawwe van die ou bedeling nie.

En as dit nie genoeg is nie, kan die verse wat in Ef. 3 direk hierop volg, ook gelees word. Paulus kondig daar ‘n nuwe bediening aan (Eng. “dispensation”) en hy vra dan die vraag of die mense al daarvan gehoor het. Ja, vriende, die liggaam van Christus verteen-woorig ‘n heel nuwe dispensasie en word deur die hemelse Jesus Christus vanaf sy troon van heerlikheid aan die apostel Paulus openbaar om aan die mense bekend te maak.

Vergelyk nou ook ons vers met 1 Kor. 3:10 (Paulus is aan die woord.)

Volgens die genade van God wat aan my gegee is , het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê en ‘n ander bou daarop, maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.”

Die gebou van Ef. 2 se fondament is deur Paulus gelê. Niemand kan daarby verbykom nie. ( U hoef nie te skrik as ek dit sê nie. Ek sê beslis nie dat Paulus die fondament is nie.) Dit beteken maar net dat al daardie grootse en onbeskryflike hemelse waarhede van die verrese en verheerlikte Jesus Christus wat ons reeds aangehaal het, die inhoud en die wese van hierdie gebou vorm. Om dus na te dink oor die hemelse Christus, is beslis nie ‘n veraf teoretiese saak nie. Dit is uiters prakties en gaan oor die beginsels wat deel geword het van jou en van my bestaan. Ons is lewende stene van die gebou van God.

Ons as Christene het nie in hierdie bedeling reg op hierdie wêreld nie. Ons is van ‘n ander wêreld. Maar ons kan vreesloos gaan sê wie ons is en wat ons hoop en roeping is. En as ons die burgerskap, die huisgesin en die gebou verstaan, en ook die fondament van die gebou aanvaar en daarop bou, dan sal ons ook in ware eenheid en harmonie optree en God se gebou in hierdie wêreld sigbaar maak. Wat ‘n uitdaging! Gaan ons die Christendom nog verder verdeel en versplinter en uitlewer aan mensgemaakte organisasies en idees, of gaan ons aanvaar dat God iets nuuts daargestel het, gebou op ‘n duidelike fondament, wat ons moet aanvaar en dan die hemelse glorie daarvan skromeloos verkondig?





|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|