Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

 

 Twee Romeinse soldate en ‘n goewerneur

 Deur David Malan

Hierdie drie Romeine in die Bybel is ‘n merkwaardige toonbeeld van die ontwikkeling van die Christendom. Ongelukkig is die tendens onder Christene vandag eerder om net morele lesse uit sodanige Bybelverhale te trek en nie om ook daarop bedag te wees dat hier groot lesse oor die ontwikkeling van die Christen-dom te leer is nie. Wat is die Christendom? Waar kom ons vandaan? Wat is die onderskeidende kenmerke van ons geloof?

En helaas, as ons die Christendom as geloofstelsel beter verstaan en ook sy ontstaan uit die Bybel begryp, sal ons tog sekerlik in ‘n posisie wees om daardie geestelike en morele lesse wat ons uit die Bybel wil leer, nog beter te verstaan en in ons hart toe te pas. Kom ons gaan leer vandag by hierdie drie Romeine iets meer oor die ontstaan van die Christendom.

Dit is merkwaardig om daarop te let dat die eerste Romeinse soldaat die eerste heiden was wat deur die Here Jesus op aarde bedien is. Die tweede Romeinse soldaat was die eerste heiden wat deur Petrus bedien is en die Romeinse goewerneur was die eerste heiden wat deur Paulus bedien is.

Die eerste Romeinse soldaat

“En die dienskneg van ‘n sekere hoofman oor honderd wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê.

“Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.

“En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen.

“want Hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.

“En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.

“Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê maar net ‘n woord en my kneg sal gesond word.

“Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.”

“Maar ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en die weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele.

“Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”  Luk. 7:2-9; Matt. 8:11,12.

Die tweede Romeinse soldaat

“En daar was in Cesarea ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leerafdeling.

“Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in gebed tot God.

“Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!

“En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my Heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.

“Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.”

“En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?

“En hulle sê: Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.”

“Die dag daarop het hulle in Cesarea aangekom. En Cornelius was hulle te wagte en hy het reeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep.”

“En hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.”

“En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,

“maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”

“En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woorde gehoor het.

“En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.” Hand. 10:1-5, 21-22, 24, 28, 34-35, 44-45.

Die Romeinse goewerneur

“En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ‘n towenaar gevind, ‘n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus.

“Hy was by die goewerneur Segrius Paulus, ‘n verstandige man. Die het vir Paulus en Barnabas laat roep en het versoek om die woord van God te hoor.

“Maar Elimas die towenaar - want so word sy naam vertaal - het hulle teengestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.

“Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:

“Kind van die duiwel, vol van bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?

“En nou, kyk, die hand van die Here is op jou en jy sal blind wees en die son vir ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei.

“Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.”

“Maar Paulus en Barnabss het vryuit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie - kyk, ons wend ons tot die heidene.

“Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.

“En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Hand. 13:6-12, 46-48.

Die eerste Romeinse soldaat

Die eerste Romeinse soldaat was ook die enigste nie-Joodse (heiden) man wat ooit deur die Here Jesus bedien is. Hierdie verhaal moet saam gelees word met Mark. 7:24-30. Dit is die verhaal van die enigste nie-Joodse vrou wat deur die Here Jesus op aarde bedien is. In Mark.7:27 sê Jesus vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie.”

Hier is nou ‘n geweldige belangrike uitspraak: “Laat eers die kinders versadig word.” Heidene was nie kinders nie. As hulle na ‘n seën van die Here gesoek het, moes hulle ‘n totaal ondergeskikte posisie inneem. Die Jode was die kinders. Die tafel was vir hulle gedek. Die heidene kon net hoop op krummels wat van die Jode se tafel af geval het.

Hierdie uitspraak moet ook vergelyk word met een wat hierbo in Hand. 13:46 aangehaal is: “Dit was noodsaaklik dat die Woord van God aan julle eers verkondig moes word.” Hier is dus ‘n sterk ooreenkoms tussen Hand. 13 en Mark. 7. Altwee laat duidelik blyk dat die bediening eers na die Jode moes gaan. Tog is daar ook in die stellings wat dieselfde klink, ‘n baie belangrike verskil. By Markus 7 en Matt. 15 is die beginsel van Jode eers in die teenwoordige tyd. Dit was die kenmerk van Jesus se aardse bediening dat dit vir die Jode bedoel was en slegs by hoë uitsondering ‘n nie-Jood kon insluit.

Maar by Hand. 13 is die beginsel van Jode eers reeds aan die verbygaan. Dit is in die verlede tyd. Maar hoe kan dit moontlik wees? Die tafel is tog vir die kinders gedek? Het daar dan ‘n verandering ingetree? By die verhaal van die eerste Romeinse soldaat word die antwoord op hierdie vraag reeds duidelik aangegee: “Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis.” Israel sou hierdie posisie van God se bevoorregte of sy uitsonderlik begenadigde van hom af wegstoot en die gevolge daarvan sou rampspoedig wees. Maar onthou: In Markus en Mattheüs is hierdie oordeel nog nie voltrek nie. Hier is dit slegs ‘n voorspelling. Hulle sal uitgedryf word. In die vier Evangelies is Israel God se kinders en die res is buitestaanders wat geen reg op Jesus as die Messias gehad het nie.

Daar is ook ‘n tweede vers van groot belang by die vrou van Markus 7 en Matt. 15 waarop gelet moet word:

“Maar Hy antwoord en sê: ‘Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” Matt.15:24.

In Matt. 10:5 stuur Jesus die twaalf uit om die evangelie te gaan verkondig. Baie spesifiek kry hulle opdrag om die huise van nie-Jode te vermy en net na Israeliete te gaan.

In die lig van hierdie feite dat Jesus se aardse bediening net op Jode gerig was, is die verhaal van die eerste Romeinse soldaat tog baie merkwaardig. Hierdie man het geweet dat hy nie ‘n Jood was nie en dat hy geen reg gehad het om na Jesus te gaan nie: (1) Hy gaan nie self nie, maar stuur ‘n Jood om namens hom te praat. (2) Toe Jesus naby kom, wil hy weer nie self met Hom praat nie, maar stuur vriende om te sê dat hy nie werd is dat Jesus in sy huis kom nie. (3) Ter wille van hulle geloof en hulle God vir wie hy baie respek gehad het, het hy baie goeie dinge vir die Jode gedoen en selfs ‘n sinagoge vir hulle gebou. Hy het geweet dat die hoop op die saligheid vir hom deur Israel loop.

Hoeveel mense wat die Evangelies lees, besef dit wat hierdie Romeinse sodaat geweet het? Helaas, nie baie nie. Hoeveel mense besef dat as hulle die Evangelies lees, hulle besig is met ‘n tyd in die heilsgeskiedenis toe Jesus nie met heidene gewerk het nie, maar met Jode? Christene klim sommer halsoorkop in die Evangelies in en glo eenvoudig dat alles wat vir hulle mooi en opbouend klink, direk vir hulle geskryf is. In die Gereformeerde Kerke noem hulle dit verbondsteologie. Hulle reken om deel te wees van die verbond wat God net met Israel gesluit het en eis al Israel se beloftes vir hulleself op. In die Charismatiese Kerke noem hulle dit “Name and claim”. Alles in die Evangelies wat vir hulle soet op die oor val, veral die buitengewone tekens en wonders, wil hulle “name and claim”.

Maar in plaas daarvan moes hierdie kerkgroepe liewer iets by die eerste Romeinse soldaat gaan leer het. Hy het geweet dat die Here Jesus nie vir hom gekom het nie en dat hy hom as’t ware by Israel moes aansluit as hy op enige wyse in die seën wou deel.

Jesus Christus is Een, maar Hy verteenwoordig twee verskillende bedieninge. Op aarde het Hy eksklusief net vir Israel bedien. Rom. 15:8 stel dit so: “En ek sê dat Jesus Christus ‘n bedienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig.”

In dieselfde hoofstuk (15: 15,16) lees ons van Jesus se ander bediening - teenoor die heidene, ‘n bediening wat ons nie in die Evangelies aantref nie en wat deur die bediening van Paulus bekendgestel is: “... kragtens die genade wat my deur God gegee is om ‘n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees.”

Die tweede Romeinse soldaat

Die verhaal van Cornelius is hoogs betekenisvol. Daar is verskeie belangrike ooreenkomste tussen die eerste en die tweede Romeinse soldate. Beide was gelowige heidene. (Kan ‘n heiden ‘n gelowige wees? Inderdaad, ja. Baie mense dink aan ‘n heiden as ‘n ongelowige voorvader- of afgodaanbidder. Dit is nie die geval nie. Volgens die Bybel is ‘n heiden eenvoudig ‘n nie-Jood, of hy nou gelowig is of nie.) (1) Beide het besef dat hulle buite Israel staan en geen aanspraak op Christus het nie. (2) Beide het besef dat hulle op een of ander manier nader aan die verlossing kan kom as hulle goed doen aan Israel en hulle dus by die Jode skaar. Maar dit is tog nie die manier waarop óns vandag gered word nie!

Maar dan is daar ook prominente verskille tussen hierdie twee soldate. Die eerste soldaat leef geheel en al in die bedeling waar heidene geen toegang tot Christus het nie (Ef. 2:12). Hy besef dit en aanvaar dit en hy beoefen sy geloof in Christus deur goed te doen aan Jode en deur Jode as tussengangers tussen hom en die Here te gebruik. Uiteindelik ontvang hy ook die seën omdat hy hom as proseliet by Israel skaar.

Die tweede soldaat is egter in ‘n ander posisie. Hier is dit duidelik dat ‘n verandering besig is om in te tree. In hierdie verhaal is die Heilige Gees die hoofakteur - nie Petrus of Cornelius nie. Wat wil die Heilige Gees deur hierdie verhaal bekendmaak?

Vir die eerste keer gebeur dit nou dat ‘n gelowige Jood in die huis van ‘n heiden ingaan. Selfs Jesus het nie in die huis van die eerste Romeinse soldaat ingegaan nie. Maar nou is hier ‘n verandering. Die Heilige Gees is die handelende persoon en Hy lei vir Petrus stap vir stap om in Cornelius se huis in te gaan. Vergelyk Hand. 10:28 en Hand. 10:34,35 noukeurig. In vers 28 is die stelling wat alle Jode goed geken het, dat dit ongeoorloof vir ‘n Jood was om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of om hom te besoek. Dan die groot teenstelling in vers 34 en 35: God is nie ‘n aannemer van ‘n persoon nie. Enige mens van enige nasie wat God vrees en geregtigheid doen, is vir Hom aanvaarbaar.

Nou goed, ons het op die vorige bladsy die ooreenkomste tussen die eerste en die tweede Romeinse soldate gesien. Maar nou het ons hier op ‘n baie groot verskil afgekom. Die eerste Romeinse soldaat bevestig slegs die afstand tussen Israel en die nasies. Daar word geen poging aangewend om dit te oorbrug of op te hef nie. Maar hier in Hand. 10 is die Heilige Gees besig om nuwe dinge aan Petrus te openbaar, dinge waaraan hy in sy wildste drome nooit kon dink nie. ‘n Jood stap nou, op bevel van die Heilige Gees, vir die eerste keer direk in die huis van ‘n heiden in om die evangelie aan hom te bedien. En waar vind dit plaas? Eers in die middel van die boek Handelinge.

Petrus se eie woorde bevestig dat hy dit nooit uit homself sou doen nie, nie eers as Cornelius se mense hom gevra of gesmeek het om dit te doen nie. Hy het dit alleen gedoen omdat die Heilige Gees hom direk gelei en hom geen ander keuse gelaat het nie. Hierdie is ‘n waterskeiding. Jesus self het op aarde nooit so ‘n opdrag gegee nie. Hy het slegs vir Israel bedien en hulle vir hulle koninkryk voorberei.

In watter bedeling leef ons nou? Wat is die onderskeidende kenmerke van ons bedeling? Soos ons in hierdie uitgawe van die Wapenrusting ook by McDonald geleer het, is die belangrikste onderskeid tussen die bedeling van die wet en die bedeling van genade nie eintlik die weg tot saligheid nie. Dit is eintlik die groot aspek van Heiden—Jood gelykheid (Ef. 2:15; 3:6). En hier in Hand. 10 vind ons die eerste tree om die nuwe bedeling in te stel. Hier is die heel eerste beweging, direk deur die Heilige Gees gereël, om weg te breek uit die Jood se eksklusiewe godsdienstige bestaan.

Kom ons kry nog so ‘n bietjie meer perspektief oor wat eintlik hier gebeur. Onthou net dat Petrus al lank gelede, reeds tydens die aardse bediening van die Here Jesus, aangewys is as die leier en die spil rondom wie “die gemeente” gebou sou word (Matt. 16:18,19). En nou, soveel jare later, sien ons dat Petrus al hierdie jare aan ‘n suiwer Joodse gemeente gewerk het. Petrus se gemeente staan op die basis van die Joodse wet en is gesentreer rondom die tempel en die sinagoges. Waarom het Jesus dan nooit vir hom gesê hy moet wegbreek en uitgaan om die heidene in hierdie gemeente in te bring nie? Wel, die doel van hierdie gemeente was om Israel gereed te maak om al die groot beloftes van die koninkryk in besit te neem en hierdie beloftes gaan net oor Israel.

Daar was voor Hand. 10 eenvoudig nog geen beweging deur enige iemand om uit hierdie patroon weg te breek nie.

Of het Petrus sy opdrag as hoof van die gemeente dalk net verkeerd verstaan? Sou die ander apostels nie nou vir hom kon sê nie: “Ja, Petrus, maar jy moes dit mos geweet het. Die Here het mos vir jou gesê dat hierdie ‘n nuwe gemeente is wat uit heidene en Jode bestaan.” Nee, vriende, daar is nie van so iets sprake nie. Inteendeel, kom ons gaan lees in Hand. 11: 1-3 wat die ander apostels se reaksie was:

“En die apostels en die broeders wat in Judea was, het gehoor dat die heidene ook die woord van die Here aangeneem het.

“En toe Petrus opgaan na Jerusalem het die wat uit die besnydenis was met hom getwis

“en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.”

Die ander apostels in Jerusalem twis met Petrus: “Hoe kon jy so iets doen!” Wel, ek weet nie, ons het tog nou al duidelik gesien wat die hoof-onderskeidende kenmerke van ons bedeling is, nl. Jood—Heiden gelykheid. Die hele aardse bediening van Jesus, die ganse verhaal rondom Pinkster en alles wat daarmee saamgaan, toon geen sweempie van die hoofkenmerk van die bedeling van genade nie.

“Goed”, sal party Christene nou vir ons sê, “Petrus het nou wel so ‘n bietjie laat wakker geskrik en ‘n heiden gaan besoek, maar nou is dit ten minste gedoen. Nou sien ons tog wat die Here Jesus se eintlike plan met die gemeente was wat Hy in Matt. 16 aangekondig het.”

Nee, vriende, beslis nie dit nie. As hierdie siening wat ons nou in die vorige paragraaf aangehaal het en wat baie algemeen deur Christene aanvaar word, waar moes wees, dan beteken dit dat Petrus steeds die voorloper is en dat hy die rots of die sleuteldraer van ons kerk van vandag is. En dan is die Katolieke ook nie so ver verkeerd nie, want hulle glo dat Petrus se sleutelmag en rots- posisie wat in Matt. 16 aan hom toegeken is, aan sy opvolgers, nl. die Pouse van Rome, oorgedra is.

Die waarheid is egter dat Petrus, sover die Bybelse verslag aangaan, na Hand. 10 nooit weer ‘n heiden besoek het nie. Hy het by die Jode gebly. In Gal. 2 moes Paulus vir Petrus ernstig aanspreek omdat hy nie van sy eksklusiewe Joodse gebruike wou afstand doen wanneer hy tussen heidense gelowiges was nie. In Hand. 21:20 word Paulus ingelig oor die feit dat daar duisende Jode in Jerusalen gelowig geword het en dat hulle almal nog steeds yweraars van die wet was. Hierdie mense was onder leierskap van Petrus en so laat as Hand. 21 het hulle nog steeds nie die Jood - Heiden gelykheid van hierdie bedeling aanvaar nie. Die wet waarvoor hulle hulle beywer het, gaan grotendeels oor Joodse eksklusivisme. In teenstelling hiermee lees ons in Gal. 3: 13 dat Christus ons losgekoop het van die vloek (veroordeling) van die wet. Kol. 2:14 sê:

“en die skuldbrief teen ons (die wet), wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis van te nael.”

Petrus het nog nie, sover dit Handelinge aangaan, by die punt uitgekom waar die wet uitgedelg en weggeruim is nie.

Watter sin maak dit dan dat Petrus in Hand. 10 ‘n heiden besoek het? Ek dink dit is duidelik. As die Heilige Gees nie vir Petrus gelei het om by Corneluis te gaan kuier nie, sou hy (1) beslis dit nie uit eie beweging gedoen het nie en (2) hy sou ewe beslis ook nie Paulus se bediening onder die heidene aanvaar het as ‘n egte God-gewilde bediening nie. In Gal. 2:9 gee Petrus en Johannes en Jakobus aan Paulus die regterhand van gemeenskap. Hulle erken Paulus se bediening teenoor die heidene hoewel hulle hul bediening tot die Jode beperk. Hierdie ooreenkoms sou nooit moontlik gewees het sonder Petrus se ervaring met Cornelius nie.

Ons het op die vorige bladsy gesien hoe die ander apostels in Jerusalem Petrus onder kruisverhoor geneem het oor sy optrede om in die huis van ‘n heiden in te gaan. Petrus moes die hele verhaal van die begin af aan hulle uitlê en bewys hoedat dit alleen deur die direkte bemiddeling van die Heilige Gees plaasgevind het en dat hy self geen keuse in die saak gehad het nie. Dan volg die belangrike vers in Hand. 11:18:

“En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

Hierdie vers, tesame met dit wat in vers 19 gesê word, bevestig net weer dat die eerste nege hoofstukke van Handelinge ‘n direkte voortsetting van die aardse bediening van Jesus is en dat die nie-Joodse nasies nog nie in die minste as objekte van die evangelie beskou is nie.

Hierdie artikel gaan oor die ontwikkeling van die Christendom. Waar kom ons vandaan? Waar het ons kerk, die liggaam van Christus, ontstaan? Die NG Kerk saam met alle Gereformeerde kerke sien ons kerk al reeds in die Ou Testament. Hierop gaan ons op die oomblik nie eers antwoord nie. Kom ons bepaal ons net tot die mense wat meen om die Bybel ernstig en in sy normale sin reguit te lees - die mense wat glo in die wegraping, die duisendjarige vrederyk, ens. Waar sê die meeste van hulle kom die kerk van vandag vandaan?

Die hoofstroom Chiliaste, Dave Hunt en baie ander, sê die kerk van vandag is op Pinksterdag gestig. Maar hoe is dit moontlik? Tot by Handelinge 9 is alles totaal eksklusief Joods. Op Pinksterdag het Petrus nog ver nie die teken van die laken ontvang om na Cornelius te gaan nie. Watter “Kerk” is daar dan op Pinksterdag gestig? En wat meer is, die kruisevangelie waarop alles gebou is waaroor die kerk van vandag beskik, is tot voor Handelinge 13 nog totaal nie geken nie.

Nee, vriende, ek kan nie vir Dave Hunt en die ander Chiliaste navolg net omdat hulle die hoofstroom in die fundamentele Christendom vorm nie. Op hierdie punt is hulle verdwaal. Die skrif sê uitdruklik en herhaaldelik dat Jood-Heiden gelykheid die hoofkenmerk van ons bedeling is. Verder is die Skrif nog duideliker dat die kruisevangelie die absolute ononderhandelbare en onmisbare boodskap van ons bedeling is. Nie een van hierdie twee aspekte is op enige wyse op Pinksterdag aanwesig nie. En tog wil hulle die kerk daar sien. Om die kerk op Pinksterdag in te druk, is dus ‘n ernstige onskriftuurlike vergissing.

En, soos ons gesien het, was Petrus se Cornelius-ervaring ook nog steeds nie die begin van die kerk nie. Die kruisevangelie is nie aan Cornelius verkondig nie. Petrus en sy mede Jerusalem – apostels het daarna nooit weer ‘n heiden besoek nie. Dit was vir hulle net ‘n noodsaaklike voorbereiding om die koms van die nuwe bedeling wat toe op hande was, te aanvaar.

Die derde Romeinse ampsdraer

Die derde Romein is in meer as een opsig die belangrikste van die drie. Die eerste twee was hoofmanne oor honderd en die derde een was ‘n goewerneur. Die eerste twee word na Israel verwys om deur bemiddeling van die Joodse geloofsisteem met die  evangelie in aanraking te kom. Die derde een word totaal sonder bemiddeling van Israel ‘n objek van God se genade.

En tog is die verhale van die eerste twee Romeine geweldige belangrike agtergrond om die derde te kan begryp. Die ontstaansgeskiedenis van die kerk is nie ‘n normale reglynige voortsetting van Israelgeskiedenis nie. Dit het ‘n radikale ingryping van God en die instelling van ‘n nuwe orde geverg om die Christendom tot stand te bring. En as ons dit nie werklik verstaan en in die Skrif raaksien nie, vermeng ons wet en genade, seremonie en geestelike lewe, tradisie en inspirasie, volksprioriteit en Jood-Heiden gelykheid en nog soveel ander kosbare waarhede.

Die eerste twee Romeine bevestig die nasionale en geestelike prioriteit van Israel (die tweede een is die voorbereiding om hierdie prioriteit te beëindig) en die derde Romein verteen-woordig ‘n radikale breuk met die geskiedenis en ‘n nuwe begin.

Saulus, Paulus en Bar-Jesus

Die goewerneur, Paulus, laat roep vir Saulus en Barnabas om met hom te kom praat en die evangekie aan hom uit te lê. Maar die Jood, Bar-Jesus probeer hulle verhinder en om die goewerneur afkerig te maak van die evangelie.

Hoe absoluut tipies en tekenend is hierdie verhaal nie as ons dit vergelyk met die werklike geskiedenis wat in daardie tyd afgespeel het nie! Die Jood is jaloers. Hy beskou die geloof as ‘n nasionale saak vir Israel alleen en staan enige poging teen om dit na die heidene uit te dra. In plaas daarvan dat Israel, soos dit van Genesis tot Jesaja en verder voorspel is, God se werktuig word om in afwagting van die koninkryk ‘n seën te wees vir die nasies, is hulle ‘n struikelblok en ‘n vervloeking. Die Jood moet eers gestraf word sodat die evangelie ongehinderd by die Romein wat ’n heiden is, kan uitkom.

En dan gebeur dit: die Jood word met blindheid geslaan en het onmiddellik in “donkerheid en duisternis” weggesink.

Sien u die geweldige verskil tussen die eerste en die derde Romein? Die eerste een moes met hulp en bemiddeling van Jode by Jesus uitkom. By die derde een moes die Jood eers gestraf en verblind word sodat die evangelie direk sonder bemiddeling of sanksie van Israel by hom kon uitkom!

Hierdie verhaal is merkwaardig en aangrypend verteenwoor-digend van die bediening van Paulus. Die Jood word verblind en die heiden gered. Dit is presies wat later in die hoofstuk ook gebeur (Hand. 13:42-47).

Gaan kyk ook in hoe ‘n mate Hand. 13 in ooreenstemming is met Romeine 11:8. Hier word direk gepraat van Israel se oë wat nie meer kon sien nie. Dan volg vers 11 met die uitspraak dat hulle val tot gevolg het dat die saligheid tot die heidene kon uitgaan - presies net soos dit in Hand. 13 beskryf word.

Saulus word Paulus

Maar hier is nog ‘n stukkie detail in die verhaal by Handelinge 13 wat ons nie moet miskyk nie. Toe Paulus die Jood bestraf en die evangelie aan die heiden meedeel, verander sy naam van Saulus na Paulus. En nou is hier skielik twee Paulusse in die verhaal. Na wie word Paulus hier vernoem? Nie moeilik om te raai nie! Paulus kry die naam van die eerste heiden wat in sy bediening die evangelie aanneem!

As ons in ag neem hoe belangrik en betekenisvol name in die Bybel en in die klassieke wêreld was, is die implikasie duidelik. Iemand se naam word nie sommer maklik verander nie. Abram het Abraham geword toe God hom aangestel het om ‘n nuwe dispensasie te begin. Abraham word die vader van die bedeling van die belofte toe hy sy ou lewe die rug gekeer het, selfs op die end sy familie agtergelaat het om God se roeping na te volg.

Saulus word Paulus toe hy sy nuwe opdrag aanvaar om die apostel onder die heidene (Rom. 11:13) te wees, die boumeester te wees wat die fondament lê waarop die nuwe gebou opgerig moet word (1 Kor. 3:10), die verkondiger van die bedeling van genade (Ef.3:2).

Wie sal ooit die radikale nuwe begin en dispensasionele verande-ring met die roeping van Abraham ontken? Maar tog weier Christene vandag om met nog meer getuienis die nuwe dispen-sasie wat deur Paulus by Hand. 13 ingelui word, raak te sien.

Petrus se ervaring met Cornelius het nie direk ‘n nuwe dispensasie tot gevolg nie. Petrus word nooit die boumeester van die nuwe gebou, die openbaarder van die nuwe dispensasie of die apostel van die heidene genoem nie. Hy gaan rustig voort met sy bediening wat tot die grense van Israel as volk beperk is. Petrus se ervaring met Cornelius word nie deur die Bybel geïnterpreteer as die begin van ‘n nuwe bedeling nie. Tog was dit wel die noodsaaklike ervaring wat Petrus in staat gestel het om Paulus se bediening te aanvaar.

Maar wat word daar in die Bybel gesê van Paulus se wedervaringe in Hand. 13? Lees Hand. 14:27 aandagtig:

“En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het.”

Sien u dit? Hier, eers by Hand. 13, is die deur van geloof vir die heidene geopen. Dit is dan die rede waarom baie vandag na die blindheid van Bar-Jesus verwys as die groot dispensasionele wonderwerk van die Nuwe Testament. Hand. 13 is ook die hoofstuk in die Bybel waar Paulus vir die eerste keer sê: “Kyk, ek wend my tot die heidene.” Voor hom was daar ook geen iemand anders wat ooit iets soortgelyks gesê het nie.

My vriend, as jy nie van Joodse afkoms is nie - en ek glo nie jy is nie - dan is Hand. 13 die plek in die Bybel waar die deur van die evangelie vir jou oopgemaak is! Nee, dit beteken nie dat Sergius Paulus die eerste heiden is wat ooit gered is nie. Daar is baie nie-Jode voor hom wat die ewige heerlikheid saam met God en Christus sal deurbring, insluitende die eerste twee Romeinse soldate. Maar hulle is gered sonder dat die kruisevangelie aan hulle verkondig is, deur bemiddeling van Jode en deur goed te doen aan Jode. Maar vanaf Sergius Paulus is mense gered deur geloof in Jesus Christus en sonder die werke van die wet (Hand. 13:38,39). En wat meer is, die vers sê ook Jesus kom regverdig ons nou van alles waarvan die wet ons nooit kon regverdig nie!

Maar is die deur van die evangelie nie alreeds by die Kruis van Golgota vir ons oopgemaak nie? By die Kruis het die allernoodsaaklike offer plaasgevind en die versoening is in beginsel voltrek. Maar hierdie waarheid is eers “op die regte tyd” bekend gemaak (Titus 1:3, 1 Tim. 2:6,7).

Die versoening van die wêreld

Die deur van die evangelie vir die heidene is eers geopen toe die blindheid van Israel aangekondig is. Bar-Jesus moes eers met blindheid geslaan word voor Sergius Paulus die evangelie kon aanneem. Die blindheid van Israel beteken die versoening van die wêreld (Rom. 11:15).

Hierdie leer van Israel se dispensasionele verblinding wat saam-val met die versoening vir die nasies, moet elke mens op aarde onder die besef bring van die werklike betekenis van die bedeling waarin ons leef. Gryp die geleentheid aan om self met God versoen te word en om die boodskap van versoening uit te dra:

“Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word, nou dat ons versoen is” (Rom. 5:10).

“En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het” (2 Kor. 5:18).

Abraham, Moses, Paulus

Kom ons kyk weer na die belofte wat God aan Abraham gemaak het en die bedeling wat dit ingelui het en op grond waarvan ons Abraham steeds die vader van die Belofte noem. Sou ons daardie belofte en die implikasies daarvan reg verstaan het as ons Abraham uit die prentjie weglaat en byvoorbeeld dink dat dit Moses of Noag was wat die vader van die belofte was? Natuurlik nie! Ons sou ‘n totale wanpersepsie van die bedeling van die belofte hê!

Is dit nie dalk om presies hierdie selfde rede gebiedend noodsaaklik dat ons fundamenteel uit die Bybel uit gaan uitvind wie die vader of die openbaarder van die bedeling van genade is nie? Of noem dit dan die bedeling van die kerk of die bedeling van versoening of wat ook al. Ek noem dit die bedeling van genade (Ef. 3:2). ‘n Naam is net ‘n naam. Maar watter boodskap word daaraan gekoppel? Kan mense ‘n egte en akkurate konsep van ons bedeling hê as hulle die verkeerde man openbaarder van die nuwe bedeling maak?

Hoeveel Nuwe Testament-skrywers is daar wat eksplisiet sonder enige twyfel verklaar dat hulle geroep in om ‘n verborgenheid aan die lig te bring, ‘n nuwe waarheid wat nooit voorheen geken is nie? (Ef. 3:6-9, Kol. 1:25-27, 2 Tim.1:9-11, Titus 1:2,3).

Hoeveel predikers van die Nuwe Testament maak daarop aanspraak dat hulle tot in die derde hemel opgeroep is waar groot en onuitspreeklike openbaringe aangesig tot aangesig met hulle gekommunikeer is? (2 Kor. 12:1-4).

Hoeveel predikers van die Nuwe Testament waag dit om aan te kondig dat die voorskrifte van die wet, besnydenis, seremonies, feesdae, ens. verbygegaan het en dat daar nuwe dinge in die plek daarvan gekom het? Daar is te veel aanhalings. Gaan kyk maar self. Sou die skrywer van die Hebreërs werklik in Heb. 9:9-12 gesê het wat daar staan as hy dalk Petrus of Johannes of so iemand was? Staan daar sulke dinge in Petrus en Johannes?

Hoeveel predikers van die Nuwe Testament maak die aanspraak dat hulle as boumeesters die fondament van die nuwe gebou van God gelê het (1Kor. 3:10)?

Hoeveel skrywers van die Nuwe Testament kom herhaaldelik met kragtige oproepe om vas te staan in die beginsels van die nuwe evangelieboodskap wat aan hulle openbaar is en nie weer terug te val in die ou beginsels van die wet nie? (Gal 5:1-10).

Israel was vir 1 500 jaar onder die wet. Hoeveel skrywers van die Nuwe Testament is daar wat vir ons ‘n pragtige, volledige, gesistematiseerde teologie opstel om die beginsels van die wet te verstaan en dan van daaruit die beginsels van die nuwe bedeling uit te wys en vergelykend te behandel? (Rom. 3:20,21; 7:5,6; Rom.8:3,4; Rom. 10:1-3; Gal. 3:21-23).

Hoeveel skrywers van die Nuwe Testament kondig aan dat Israel tersyde gestel is en dat die heil nou na die nie-Joodse nasies uitgaan? (Rom. 11).

En wat sê Handelinge, ’n boek wat nie deur Paulus geskryf is nie? Wie was instrumenteel om die deur van geloof vir die heidene te open? Wie is deur die Heilige Gees afgesonder om na die heidene te gaan? Wie het volgens Handelinge die bediening van die Here Jesus ontvang om “kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God” (Hand. 20:24)?

Of gaan ons nou sommer soos 95% van alle Christene hierdie oorweldigende getuienis dodelik ignoreer en sê nee wat, Petrus is my man. Hy het wel in Jerusalem gebly en net met Jode gepraat, maar dit maak nie saak nie, hy is die man! So vee ons die onweerlegbare Skrifgetuienis oor die openbaarder van ons bedeling van die tafel af en ons slaag daarin om Christene van die diepgaande essensie van die nuwe evangelie te beroof.     o

 

 

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|