Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

Tradisie of Inspirasie
 

Deur David Malan

U en ek staan voor ‘n finale keuse. Die gesag van die Bybel word meedoënloos afgetakel. Kerke wat op die golf van tradisie en ervaring ry, floreer. Die aantal stemme wat vir die gesag van die Bybel staan word flouer en minder. Christene is tevrede met die stem van die kerk en die predikant. Dít is vir hulle die finale gesag.

Die uurglas is besig om uit te loop en ons ontmoeting met die Here is nou nader as ooit. Die tyd het aangebreek om uself die vraag af te vra: Hoe ver gaan u op dáárdie dag kom met die kerklike tradisie wat u nou so maklik as die finale gesag aanvaar? Dit gaan beslis nie help om dan te sê: “Nee, maar my dominee het dan so gesê” nie. Het dit nie tyd geword om ons geloofsbasis grondig van voor af in Gods Woord  te ondersoek en sodoende seker te maak dat daar geen “leringe van mense” subtiel ingesluip het nie?

Onfeilbare Woord én lering uit die Woord

Dit gaan ons nie help om vreeslik beginselvas standpunt in te neem vir die onfeilbaarheid en Goddelike inspirasie van die Bybel en dan terselfdertyd voort te gaan om onBybelse leringe en tradisies van mense voor te staan nie. Dit is nutteloos. Mense wat vir die Goddelike gesag van die Bybel staan moet nou die daad by die woord voeg en fundamenteel uit die Bybel self gaan vasstel wat wáár is en wat nié.

As u nie bereid is om dit te doen nie, beteken u standpunt van Goddelike inspirasie en onfeilbaarheid van die Bybel beslis niks nie. Hoe kan dit iets beteken, want u is dan self besig om tradisies van mense na te jaag en fundamentele Bybelse uitsprake te ignoreer.

Wat ons probeer sê is dat mooi-klinkende belydenisse oor Goddelike inspirasie nutteloos is as dit nie hand aan hand gaan met ‘n begeerte om alleen dít te glo en te predik wat letterlik deur die Bybel geleer word nie.

Leringe van mense

In Gal. 1 word die hele hoofstuk daaraan gewy om aan te toon dat Paulus sy evangelie direk uit die hemel ontvang het en dat geen mens ‘n inset gelewer het om dit saam te stel nie. In teendeel, 1 Kor. 2:5,9 sê verder ook dat die groot Christelike waarheid van vandag iets is wat nooit in enige mens se hart opgekom het nie. Dit is suiwer hemels van oorsprong.

Is dit nie ook u begeerte om hierdie suiwer evangelie te ken en te verstaan nie - ‘n Evangelie wat gestroop is van alle mens-like redenasies en op die Woord van God alleen gegrond is?

Leringe van mense is besig om hand oor hand toe te neem en diegene wat tradisies voorstaan, sal hierdie valse leringe ten prooi val. Samesprekings tussen sg. Christene en Moslems is nou al so ver gevorderd dat dit oor die televisie verkondig word dat die Moslems ook in Christus glo. Maar aan watter christus glo hulle? Een wat ‘n gewone mens en profeet was. Sekerlik nie aan die Een wat die Hoof van die Liggaam van Christus is en wat al die volheid van God in ons vervul nie.

Om die ware Christus Jesus te ken moet daar staatgemaak word op die waarheid van ‘n Goddelik-geïnspireerde Bybel en daar moet sistematies daaruit geleer word.

Die krag van ons getuienis

Ons getuienis is besig om skade te ly. Selfs tussen fundamentele Bybel-Christene is daar verdeeltheid. Klein dingetjies is besig om Christene uitmekaar te dryf. Die rede daarvoor is eenvoudig, of ons dit wil weet of nie, dat mense nie bereid is om al hulle idees aan die Bybel te gaan toets nie.

Hulle is nie bereid om die Woord te gaan ondersoek en hulle te vergewis van die onomstootlike waarheid dat daar verskillende dispensasies in die Bybel is nie. God het op verskillende tye op verskillende maniere met die mensdom gespreek (Hebr. 1:1) en dit is van die allergrootste belang om uit die Woord self te gaan vasstel wat die wese van God se spreke in ons tyd is en wat die kernwaarheid van ons Christelike praktyk is.

Die Jode het ‘n wet en ‘n tempel gehad en daar is ‘n aardse koninkryk aan hulle beloof. Ons behoort egter aan Christus op grond van sy soenverdienste terwyl daar met die vereiste van wetsonderhouding vir die saligheid weggedoen is, en ons bestemming is die hemel. Die Joodse dispensasie en die Christelike dispensasie is twee verskillende dinge wat nie sonder meer met mekaar vermeng mag word nie. Lewis Sperry Chafer, die stigter van die beroemde Dallas teologiese skool sê hiervan die volgende: “It is probable that the recognition of dispensations sheds more light on the whole message of the Scriptures than any other aspect of Bible study.” (Major Bible Themes - 1926)

Die uitdaging

Laat hierdie artikel ‘n uitdaging wees aan elke Christen om elke aspek van sy geloof opnuut te gaan ondersoek en te gaan vasstel wat suiwer tradisie was en wat op die onwankelbare Skrifwaarheid vir vandag gebou was. En as daar ander Christene is wat meen dat ons in hierdie blad ook sekere dinge glo wat leringe van mense is, dan wil ons bitter graag met daardie mense in gesprek tree en die Bybel die geleentheid gee om oor daardie sake uitspraak te gee.

Ons sien daarna uit om by wyse van korrespondensie of selfs in ‘n persoonlike ontmoeting hierdie sake met u uit te klaar.

Een ding is gewis en seker: Die finale gesag vir waarheid is nie by enige kerk te vinde nie, maar net in die Bybel. U het ‘n Bybel en ek het ‘n Bybel. Waarom sal ons dit dan nie saam ondersoek om tot eer van God minder ag te gee op tradisies en meer op die Bybel alleen nie?

Waaroor stem ons saam?

Ons kritiseer nie sommer uit beterweterigheid te nie. Ons is net intens besorg oor die eer en die waarheid van die Bybel. Ons wil sien dat Jesus Christus sentraal sal staan in alles wat ons glo. Moet ons dus nie kwalik neem nie, maar aanvaar hierdie uitdaging in liefde soos dit bedoel is.

Miskien is dít die regte plek om te begin. Kom ons stel vas wat die fundamentele Bybelse waarhede is waaroor ons dit met mekaar eens is. Miskien stem ons oor meer dinge saam as wat ons geneig is om toe te gee. Miskien behoort ons nog in dieselfde kamp.

Die belydenis van ‘n fundamentele Bybelgelowige

 

Ek glo:

In die Goddelike inspirasie van die Bybel;

in die absolute gesag van die Bybel (2 Tim. 3:16).

Ek glo:

In die Godheid van Jesus Christus;

in die maagdelike geboorte en wonderwerke van Jesus;

in die plaasbekledende dood en opstanding van Jesus;

in die hemelvaart van Jesus;

in die huidige middelaarswerk van Christus (1 Tim. 3:16, 1 Kor. 15:1-8).

Ek glo:

In God as ‘n persoon;

in ‘n letterlike hemel;

in ‘n letterlike hel;

in die lewe na die dood (Open. 20,21,22).

Ek glo:

Dat Jesus terugkom aarde toe om te kom regeer;

dat Jesus krag het om gebed te beantwoord;

dat die Heilige Gees die weldade van Christus aan ons bedien;

dat Jesus God was, is, en altyd sal wees (Hand. 1:11, Joh. 14:7-14; 16:13,14; Ef. 1:13).

Ek glo:

Dat alle mense sondaars is;

dat die loon van die sonde die dood is;

dat die ewige lewe afhang van geloof in Jesus as Verlosser; dat verlossing van én oorwinning oor sondes alleen in Jesus Christus te vinde is (Rom.3:20-24; 6:23, Ef. 2:8,9).

Ek glo:

Dat alles wat die Bybel sê waar is;

As die Bybel dit sê, is die argument afgehandel en ek glo dit.

Ek is ‘n fundamentele Bybelgelowige.

Kan ons as Bybel-Christene met mekaar akkoord gaan in hierdie “geloofsbelydenis”? Indien wel, behoort ons mekaar ook nog verder te kan ontmoet wanneer ons die Skrif laat spreek oor vele Christelike tradisies wat al oor honderde jare heen op ons neergelaat is en wat ons sommer so goedsmoeds aanvaar. Sommige is minder gevaarlik as ander, maar wat hulle almal met mekaar in gemeen het, is dat hulle dit vir Christene moeilik maak om die volle prentjie van ons posisie voor God in hierdie bedeling duidelik te kan raaksien.

Christelike tradisies wat bevraagteken word

1. Werkeheiligheid

Elke greintjie werk wat vir ons saligheid noodsaaklik is, is deur Jesus aan die kruis afgehandel. Al wat vir ons oorbly om te doen, is om in geloof na Hom op te sien. Abel het die offer gebring wat vir God aanneemlik was en het dus in die geloof na God gegaan. Kain het egter ‘n offer berei wat volgens sy eie siening ‘n beter offer is as wat God vereis het en daarom is sy offer verwerp. Abel se offer wys verder op die tussenkoms van ‘n plaasbekleder. Dit was ‘n bloedoffer. Watter offer vra God vandag? (Ef. 1:7, 2:8,9). Ons aanvaarbaarheid voor God kom nie uit onsself nie. Die verlossing is van die Here alleen.

2. Die kerkgebou as die huis van God

Nee, vriende, die kerk is nie die huis van die Here nie. Ons woning as Christene is saam met God in die hemele waar Hy ons ingelei het deur die Groot Priester van Hebr. 10:19-22. Andersom weet ons ook dat God sy woning gemaak het in die lewe van Christene. Dít is waar God nou woon en ontmoet word - nie in ‘n swierige kerkgebou nie. Die Nuwe Testament spraak nie een sprook van ‘n gebou wat die huis van die Here is waar ons Hom moet ontmoet nie.

3. Opsê van die Onse Vader

Israel het die instelling van die koninkryk verwag soos deur die profete in die Ou Testament aan hulle beloof. Toe kom die Messias en Hy praat met Israel o.a. in die bergpredikasie en leer hulle ook om te bid: “Laat u koninkryk kom” - want hulle het die hele tyd, selfs nog tot in Hand. 3:19-23 die oog gehad op die instelling van die koninkryk. Ons as Christene is burgers van die hemel (Fil.3:20) en bid sekerlik nie vir ‘n koninkryk op aarde nie. Hierdie wêreld gaan oor in die hande van die Antichris.

“Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe”. As ons só vergewe moes word, sou ons vergifnis totaal gebrekkig gewees het. Daar het ‘n verandering van dispensasie plaasgevind. Ons word beslis nie vergewe soos ons andere vergewe nie. Ons vergifnis is totaal en absoluut uit genade. Ons vergewe ander mense uit dankbaarheid dat ons reeds totaal vergewe is (Ef. 4:32).

“Laat u wil geskied in die hemel soos ook op die aarde.” Wat hierdie bede betref, moet u in gedagte hou dat in Israel die kerk en die staat een was. Hulle evangelie het oor die verwesenliking van God se wil op aarde gegaan. En wat meer is, hulle het inderdaad die verwagting en belofte gehad van ‘n tyd waarin hulle as volk onder die seënende hand van God in ‘n koninkryk sal leef waarin God in reg en geregtigheid sal regeer. Hulle kan dus bid dat God se wil op aarde moet geskied. Ons is egter lede van die liggaam van Christus; ons het ‘n hemelse burgerskap en is hier op aarde nie in beheer nie en selfs nie eers tuis nie, maar in die hoedanigheid as gesante (ambassadeurs - 2 Kor. 5:20).

Baie Christene reken dat die wil van God nou op aarde geskied. Was dit God se wil dat 26 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe moes sterf? Is dit God se wil dat daar daagliks derduisende kinders in hongersnood lande gebore moet word wat geen kans op oorlewing het nie? Nee, vergeet dit. Ons is nou in die teenswoordige bose wêreld (1 Joh. 5:19) waar die kerk en die samelewing by verre nie dieselfde ding is nie. Ons sien sekerlik nie die wil van God in hierdie wêreld geskied nie en al bid ons ook dwarsdeur die nag, verseker ek u dat dít wat môre gaan gebeur grotendeels ook nie die wil van God gaan wees nie.

Mense sê die Onse Vader op by skole en kerke en dít terwyl ons juis enkele verse voor die Onse Vader in die Bybel ‘n waarskuwing het teen die ydele herhaling van woorde! Wanneer skoolkinders van wie 90% of meer somtyds ongeredde mense is almal saam hardop sê: “Onse Vader wat in die hemel is”, het hulle beslis nie daardeur Christene geword nie en ons het God ook geen eer bewys nie. Kom ons wys daardie kinders eerder die aakligheid van sonde en die liefde van God en sy vermoë om deur Jesus Christus te red .

4. Kinderdoop

Daar is nie een woord daarvan in die Bybel nie. Die kerk sê dit lyf die kinders in die verbond van God in en dit laat hulle name in die boek van die lewe geskrywe word. As dit egter so was, sou die Bybel dit êrens vir ons gesê het. Die Bybel weet net van een verbond en dit was God se verbond met die volk Israel soos aangegaan met Abraham en later bevestig met Moses. Ons is egter vandag totaal nie deel van die volk Israel nie. Ons word ook nie gered deur verbonde nie, maar alleen deur die bloed van Christus (Ef. 1:7).

Daar is geen verwysing in die Nuwe Testament dat God sy verbond met Israel oorgedra het na die nasies nie. Ons word vandag nie gered omdat ons sg. “verbondskinders” is nie, maar alleen as niksverdiende sondaars wat voor God om genade pleit. Om genade te ontvang, impliseer juis dat jy niks verdien nie. Nou diskwalifiseer die kerk eintlik die kinders deur hulle te doop en hulle dan “verbondskinders” te noem wat bevoorreg is en aanspraak op die saligheid het. Die Bybel weet nie van so iets nie en sê dat ons sonder verdienste uit genade gered moet word.

Die kinderdoop is ‘n lering van mense wat van die Katolieke Kerk oorgeërf is.

5. Die doop het in die plek van die besnydenis gekom

Ook dít het nie ‘n greintjie getuienis in die Bybel nie. In teendeel, die mense wat deur Johannes en deur die twaalf gedoop is, was almal mense wat ook besny was. Nie een keer is dit vir hulle gesê dat besnydenis nou plek maak vir die doop nie. Die twee het saam met mekaar voorgekom. Die gedagte van doop kom reeds in die Ou Testament voor waar mense en voorwerpe met water gereinig is. Dit is ook voorspel dat die volk as priestervolk met water gereinig sal word (Eseg. 36:25). Dít is waar die doop vandaan kom en beslis nie van die besnydenis af nie.

Kolossense sê ons het nou ‘n besnydenis van die hart. Die besnydenis word dus op geestelike wyse vervul en beslis nie met ‘n ander ritueel vervang nie. Die besnydenis van die hart is die inplanting van die Christuslewe in ons bestaan.

5. Volwasse doop

Die volwasse doop is wel in die Bybel beoefen, maar dit is gedoen “tot redding” of “tot vergewing van sondes” of “tot” bekering” (Mark. 1:4; 16:16; Hand. 2:38). Esegiël het mos al gesê dat die volk Israel met rein water gereinig sou word. U en ek leef vandag in totaal ‘n ander dispensasie. Toe die waterdoop beoefen is, het mense nog nie geweet van die reiniging deur die bloed van Christus nie (Ef. 1:7). Daarom is die beoefening van die waterdoop in enige vorm vandag ‘n verydeling van die kruis (1 Kor. 1:17).

Ja, die volwasse doop kom in die Bybel voor, maar die doop wat vandag deur grootdoop kerke beoefen word, kom net so min in die Bybel voor as die kinderdoop. Hulle doop vandag as ‘n getuienis dat hulle gered is. Getuig ‘n mens dan net een keer daaroor? As dit so was moet mens jou elke dag laat doop. In elk geval kom ‘n getuienisdoop nie in die Bybel voor nie en is daarom ‘n tradisie en ‘n lering van mense.

Ons het vandag net een doop (Ef. 4:5). Dit is die een wat wel in staat is om ons deel te gee aan die kruisiging en opstanding van die Here (Rom. 6:1-4) en dit word nie met hande verrig nie (Kol. 2:11-13), dit gaan oor die uitfasering van die ou bedeling van die wet en die heerlike toetrede van die geestelike bedeling van eenheid met Christus (Gal. 3: 23-27). Ons een kragtige doop word uitgevoer deur die Heilige Gees wanneer hy ons inplaas in die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13). Dit gebeur eenvoudig wanneer ons tot die geloof kom (Ef. 1:13). Mense wat met water doop, toon gewoonlik min begrip vir hierdie wonderlike geestelike werklikheid.

7. Bekering

Meer as 90% van die voorkoms van die woord “bekering” in die Bybel is in die gedeeltes vóór die kruisevangelie nog bekend was. Dit was dus ‘n bekering wat nie afhanklik was van die soenverdienste van die Here Jesus aan die kruis nie. Johannes die doper en die twaalf apostels het bekering gepreek terwyl hulle niks van die dood van Jesus verstaan het nie (Luk. 18:34). Dit spreek vanself dat só ‘n bekering vandag uit plek is. Ons kan ons nie vandag toekeer tot die Here sonder die geloof in die soenverdienste van Christus nie.

In sekere evangeliese kringe word die heilsorde (stappe wat geneem moet word om gered te word) só opgestel dat bekering heel voorop staan. Bedoel hulle daarmee dat die mens homself eers moet rehabiliteer vóór hy gewas en gereinig kan word deur die bloed van Christus? Dit is onmoontlik in die bedeling waarin ons nou leef (Ef. 2:1-5). Weereens moet die groot verskil in die bedeling vóór die kruisevangelie verkondig is en die bedeling daarná duidelik in berekening gebring word.

Maar by dit alles glo ek self ook nog steeds in bekering. Ek neem net in ag dat die bedeling van God se genade ‘n groot verskil aangebring het. By my is die orde nou omgekeerd. Ek bekeer my nie sodat ek gered kan word nie; ek is uit genade gered en daarom bekeer ek my.

Hoewel die begrip bekering dus ‘n suiwer Bybelse begrip is, kan ons daarvan iets maak wat kragteloos en nutteloos is as ons die nuwe bedeling nie ten volle in aanmerking neem nie. Dan is dit net ‘n lering van mense en nie ‘n openbaring van die krag van God tot redding nie (Rom. 1:16,17). Let wel: die krag van God en nie die krag van die mens nie.

8. Onderhouding van die wet

Wet of nie wet nie, is al ‘n baie ou diskussie tussen Christene. Maar as ons die feite van die nuwe bedeling in aanmerking neem, is dit ‘n heel eenvoudige saak. Die wet is aan Israel gegee om sodoende aan die hele wêreld te bewys dat geen mens deur die wet gered kan word nie (Rom. 3:19,22). Daardie bewys is nou gelewer. Dit was nooit die doel van die wet om regverdig te maak nie (Gal. 2:21). Die wet het nou bewys dat almal voor God doemwaardig is en het sy rol vervul. Niemand is nou meer onder die wet nie (Rom. 6:14; Hebr. 10:1,9,10). Vir ‘n baie meer volledige bespreking van die doel van die wet en waarom dit beëindig is, kan u in die Wapenrusting Nr. 12 van bl. 18-23 lees wat M R de Haan sê  (vra hierdie uitgawe aan @ R3.50 as u dit nie het nie. Die hele boek Galasiers word daarin behandel).

Om Christene vandag onder die wet te plaas, is soos Gal. 2:21 sê, om die offer van Christus te misken.

Maar dit wil nie sê dat ons wetteloos is nie. Ons word nie deur die wet gered nie en ook nie daardeur in stand gehou nie want ons ganse lewe is deur die geloof in Christus opgesluit (Kol. 3:3). Tog sal ons uit innerlike begeerte om God te behaag van ganser harte daarna streef om die goeie werke wat God berei het, voort te bring  en ons sal andere ook so leer (Ef. 2: 8-10).

Wetsprediking wat die nuwe bedeling van genade soos verduidelik in Galásiërs, Romeine, Efesiërs en Hebreërs nie ten volle in aanmerking neem nie, is bloot tradisionele lering van mense.

9. Tekens en wonders

Christene wat tekens en wonders voorstaan, weet gewoonlik nie wat die duidelike Bybelse doel was waarvoor die tekens en wonders gegee was nie. Hulle reken jy spreek net ‘n woord en dan moet die dinge gebeur. Hulle sien dit as ‘n krag wat aan Christene gegee is om die grootsheid van hulle geloof ten toon te stel en om as Christene ‘n lekker lewe hier op aarde te hê. Hiervan weet die Bybel niks en dit is weereens net ‘n lering van mense.

Wat is dan die groot saak om ten opsigte van tekens en wonders te verstaan? Net soos die doop was dit geprofeteer as iets wat gepaard sou gaan met die koms van die Messias en die gevolglike begin van sy koninkryk op aarde. U moet onthou dat, volgens die profesie van die Ou Testament, die koninkryk op aarde dadelik ingestel sou word met die koms van die Messias. Die feit dat die koninkryk toe nie ingestel is nie, is die gevolg van Israel se verwerping van sy Messias en sy weiering om hom te bekeer.

“Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.

“Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok en die tong van die stomme sal jubel; want uit die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” (Jes. 35:5,6)

Lees die hele hoofstuk en u sal sien dat daar nie van dinge gepraat word wat nou aan die orde is nie, maar van die Messias wanneer Hy op aarde sal regeer. Nog vele hoofstukke soos Jes. 11 lewer ook getuienis van daardie tyd.

En toe kom die Messias en rig met sy werke ‘n groot teken op vir die volk Israel. Dowes het gehoor, blindes het gesien en dooies het opgestaan. Mag is ook aan die dissipels gegee om bose geeste uit te dryf en sodoende te begin skoonmaak om die koninkryk te kon instel.

Wat het gebeur toe Johannes die Doper in die gevangenis gesit het en begin twyfel het of Jesus waarlik die Messias was wat al daardie wonderlike dinge vir Israel kom doen? Die Here het hom geantwoord en aangehaal uit daardie selfde vers uit Jesaja waarna ons verwys het (Matt. 11:5). Dit is tog ‘n duidelike bewys dat die wonderwerke wat die Here gedoen het, gerig was op die koninkryk wat ingestel sou word. Maar Israel het sy Messias gekruisig en na Pinksterdag voort-gegaan om die getuienis van die Heilige Gees stil te maak deur Stefanus te stenig.

Ons leef vandag sekerlik nie soos in daardie tyd in afwagting op die instelling van die koninkryk nie en ons leef nog minder nou in die koninkryk soos die groot gereformeerde kerke dit wil hê. Nadat Israel nie gekry het wat hulle wou hê nie (Rom. 11:7), is ‘n nuwe bedeling ingestel. Paulus wonder tereg of die mense almal al kennis geneem het van die nuwe bediening (Eng.: “dispensation”) van die genade van God wat aan Hom openbaar is (Ef. 3:2,3).

Ons wonder nou nie net nie, maar is jammerlik oortuig dat die oorgrote meerderheid Christene vandag geen kennis het van die dispensasie waarin ons leef nie. In Paulus se briewe het ons nie opdragte om tekens en wonders te doen nie. Ons vind inteendeel in plekke soos Romeine 8:18 e.v. dat ons saam met die skepping gebuk gaan onder die beperkinge en ellendes wat daar is en dat ons uitsien na ons ontmoeting met Christus wanneer al hierdie dinge opgehef sal wees.

Die Here is vrymagtig om na sy wil wonders te kan doen, ook in ons bedeling. Maar enige Christen wat te kenne gee dat hy die gawe het en soos Petrus na willekeur kreupeles kan oprig en deur ‘n paar woorde te bid, ongeneeslike siektes te kan genees, mislei homself en die mensdom en is sekerlik nie besig om God se wil te volbring nie. Die Bybel én die praktyk maak dit oorvloedig duidelik dat ons nou eenvoudig nie in daardie tyd leef nie.

10. Die gee van tiendes

U het nou reeds kennis geneem van die feit dat in die bedeling van Israel die kerk en die staat één was. Die tiendes was bedoel vir kerklike én staatsuitgawes. In die tyd van Jesus was dit weer anders aangesien Israel toe onder die Romeine verkneg was en hulle toe staatsbelastings én hulle bydra aan die tempel moes gee.

Ons is nie nou in ‘n kerk-staat bedeling nie. Israeliete was eenvoudig almal Judaïste. Maar al die Afrikaners is nie Christene nie. Vandag is Christenskap nie iets wat beheer, gereglementeer en deur wette beskerm mag wees nie.  Christendom verval as hy beskerm word en blom as hy vervolg word. Christenskap is ‘n vrywillige individuele geloofsaak.  As ons dus na ‘n model uit die Ou Testament wil gaan soek om die aard van ons kerklike bydrae uit te beeld, sal dit beslis nie die tiendes van die Israeliete wees nie.

Dit was iets totaal anders. Ons moet eerder gaan kyk na die vrywillige bydraes wat van die volk gevra is toe die tabernakel in die woestyn en die tempel van Salomo gebou is. Die mense het met blydskap en oorvloediglik bygedra soos vir die Here self, sonder om te vra hoeveel die een gee wat langs hom woon.

Mense wat in ons tyd tiendes vra, begryp nie die wese van die Christelike diensbetoning nie en gee ook nie plek vir die beginsel van genade wat in die nuwe bedeling op die troon is nie. Hoe dra ons dan by?

“Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief” (2 Kor. 9:7).

Bydraes kan meer of minder as ‘n tiende wees. Die hoeveelheid word bepaal deur jou vermoë, jou toewyding en liefde vir die Here en jou dankbaarheid vir dit wat jy op geestelike gebied totaal verniet van Hom ontvang het en by die wegraping nog sal ontvang.

11. Die gesalfde van die Here

Wat van die gesag van die predikant in ‘n gemeente?  So baie Christene of kerklidmate se hele Christelike belewing draai rondom die persoon van hulle predikant. As ons byvoorbeeld met ‘n blaadjie soos hierdie ‘n suiwer Bybelse idee aan mense wil oordra, wat doen die mense dan? Hulle gaan spreek die leraar en vra sy advies. As hy sê dis reg is dit reg, maar as hy sê dis gevaarlike sektariese leesstof, sê hulle: “Ja, dominee, ek het ook so gedink” en dit word weggegooi. Die predikant se opinie is die finale gesag. Bitter min sal dit waag om dit self te gaan vergelyk met die Bybel en in persoonlike omgang met die Bybel die waarheid vas te stel.

Ken die Bybel so ‘n posisie van totale gesag aan ‘n predikant toe? Die mense van Berea (Hand. 17:10,11) het daagliks die Skrifte ondersoek om uit te vind of die nuwe waarheid wat Paulus aan hulle meegedeel het, die waarheid was of nie. En vir hulle was dit baie moeilik om dit te doen, want hulle het net ‘n Ou Testament gehad waarin die nuwe bedeling nie beskryf is nie. Hulle kon alleen gaan vasstel of dit wat Paulus verkondig het, te rym was, nie in konflik was met die Ou Testament nie.

Maar die nuwe bedeling is in al ons Bybels opgeteken en dit is alleen dáár waar u dit sal raaksien. Ja, dit is so dat die predikant ses of sewe jaar studeer het, maar onthou, hy het by ‘n professor studeer uit wie se hand hy kon geëet het soos u nou uit sy hand eet en so staan die Bybel steeds op die kantlyn. As mens werklik wil seker wees, dan gaan jy na die hoogste gesag en dit is sekerlik die Bybel.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing en tot onderwysing in die geregtigheid,

“sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16,17).

Stel vas uit Hebreërs wie in die plek van die priesters van die Ou Testament gekom het. Is dit die predikant? Sekerlik nie. Ons het nou net een Groot Priester en dit is Jesus Christus, soos Hy in die Bybel aan ons openbaar is. ‘n Predikant beskik oor geen enkele gawe wat hom ‘n hoër gesag maak op enige gebied nie. Beskik ‘n predikant oor magiese krag om nagmaal te seën en uit te deel? Die Bybel weet daarvan niks nie. Nagmaal is ‘n gesamentlike fees vir Christene sonder die tussenkoms van ‘n priesterlike bedienaar.

Dit is elke Christen se taak om op te groei in kennis “tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13) en om almal die vlak van kennis van ‘n leraar te bereik (Hebr. 5:12).

Ek is self ‘n predikant en probeer nie die werk van ‘n predikant totaal uitskakel nie. Maar mense mag hom nooit blindelings navolg nie. Hy is ‘n blote mens. Lidmate moet altyd die volwassenheid aan die dag lê om self die “lendene met die waarheid te omgord” (Ef. 6:14) en “die swaard van die Gees, die Woord van God” (Ef. 6:18) te hanteer. As u dit nie doen nie, staan u bloot vir ‘n tradisie van mense waarvan u self nie veel begryp nie.

12. Die Christelike Sabbat

Die meeste Christene is daarvan bewus dat Sondag die opstandingsdag van die Here is en dat dít die rede is waarom Christene begin het om op die Sondag bymekaar te kom. Let egter op dat die Sondag aanvanklik ‘n gewone werksdag was en dat dit eers in die tyd van Konstantyn, toe die Christendom amptelik as staatsgodsdiens verklaar is, ‘n “kerkdag” geword het waarop mense nie gewerk het nie.

Daar bestaan geen voorskrifte in die Bybel met betrekking tot die viering van ‘n Sondag nie. Die enigste voorskrifte wat daar is, is vir die Joodse Sabbat wat nog altyd op ‘n Saterdag geval het. En nou plaas mense die voorskrifte van die Sabbat oor na die Sondag - of so dink hulle. Die voorskrifte vir die viering van die Sabbat was tien keer strenger as die bloot mensgemaakte voorskrifte wat nou vir die Sondag geld.

Onthou: Die besnydenis het nie oorgegaan na die doop nie. In die plek van die besnydenis kom Jesus Christus. Dit is oorvloedig die boodskap van Galasiërs. Maar wat nou van die Sabbat? Die Sabbat gaan beslis ook nie oor na die Sondag nie. Die Sabbat word vervul in ‘n wonderlike geestelike rusdag wat elke dag en nag van ‘n Christen se lewe insluit (Hebr. 4:4-12).

Wat hierdie saak betref, neem ek nie standpunt in teenoor die groot kerk nie. Ook hulle is veronderstel om dit so te verstaan. ‘n NG Kerk - publikasie “Hoe lief het ek u wet” stel dit so: “Die sewende dag (Sabbat) het nie rus gebring nie. Sommige het deur hulle ongehoorsaamheid nie ingegaan in die rus van Kanaän nie. Josua kon die rus nie gee nie (Hebr. 4:6,8). Daarom moes ‘n ander dag bepaal word, ‘naamlik vandag’, die dag van genade, sodat ons kan ingaan in die ewige rus. Ook hierdeur word gesê dat die Sabbat van die Ou Testament nie meer aan die nuwe tydperk se vereistes voldoen nie.”

Dieselfde publikasie wat heeltemal reg aantoon dat die Sabbat reeds vervul is in ons geestelike rus, gaan egter voort om sonder een teksverwysing op mensgemaakte wyse voorskrifte te gee vir die Sondag. Hulle sê: die Sondag is ook vir ons ‘n dag om te heilig, maar kan geen jota of titteltjie daarvoor uit die Bybel aanhaal nie.

Inteendeel, Paulus sê al die dae is gelyk (Rom.14:5) en hy sê dat ons nie oor die Sabbat geoordeel mag word nie en dat die Sabbat ‘n skaduwee was van die toekomstige dinge (Kol. 3:16,17). Inderdaad was die Sabbat ‘n skaduwee wat heengewys het na die volle rus wat ons in Christus sou ingaan. Mense wat steeds aan die skaduwee vashou en nou net ‘n ander dag vat wat ook ‘n dag met wettiese voorskrifte moet wees, het nog nie die nuwe dag van rus, die bedeling van God se genade, raakgesien nie en is besig met tradisies en leringe van mense.

Wettiese evangeliepredikers wat die “Christelike Sabbat” aangryp om nog wette en voorskrifte aan Christene voor te hou, is besig met leringe van mense.

Ons het die heilige rusdag ingegaan en is veronderstel om elke dag van die week geestelik volkome rus in die Here te vind en elke oomblik heilig aan Hom toegewy te wees - beslis nie net op ‘n Sondag nie.

13. Christelike Kommunisme

Is die gebeure rondom Pinksterdag deel van die tyd van die kerk van vandag? Nee, ons glo nie so nie aangesien die kruisevangelie wat vir ons onmisbaar is, toe nog nie verkondig is nie; aangesien nét Jode op Pinksterdag aangespreek is en aangesien mense toe nog gedoop is “tot bekering” (Hand. 2:38). Maar daar is meer. Mense het na Pinksterdag hulle eiendom verkoop en al hulle bates na ‘n sentrale kas gebring en in ‘n soort Christelike kommunisme geleef (Hand. 2:45). Is dit vir ons die norm?

Onthou dat Israel toe nog nie verwerp was nie (Paulus kondig eers hulle tydelike verwerping in Rom. 11 aan) en dat hulle toe beslis nog op die instelling van die aardse koninkryk gewag het (Hand. 1:6; 3:19-23). In voorbereiding dáárvoor het hulle alles verkoop, want in die koninkryk sal daar nie privaatbesit wees nie. Almal sal in harmonie saamleef en uit die hand van God onderhou word.

Nadat die nuwe bedeling ingestel is, kry ons ‘n baie meer praktiese benadering wat pas by die omstandighede waarin óns leef. Elkeen moet ordelik en verantwoordelik leef en sy eie sake behartig (1 Thes. 4:11,12) en elkeen moet in staat wees om vir sy eie mense te sorg (1 Tim.5:8).

14. Verkeerde verstaan van sekere Skrifgedeeltes

Ons praat nou veral van Skrifgedeeltes wat voorkom in dié dele van die Bybel vóór “die evangelie van die genade van God” en die algenoegsame soenverdienste van Jesus Christus nog verkondig is. Sekerlik is dit so dat daar ‘n groot verskil bestaan tussen die voor en die na kruisevangelie van Jesus Christus. Soveel so dat iets wat in een deel van die Bybel as heilige opdrag gegeld het, in ‘n ander deel as ‘n teken van afvalligheid en ongeloof geld (Gal 5:2).

En Galasiërs 5:2 is beslis nie die enigste sodanige geval nie. Ons het u ook reeds op 1 Kor. 1:17 gewys waar Paulus sê dat hy die kruis sal verydel as hy sou voortgaan om te doop. Dit is dus moontlik om letterlik aan ‘n woord uit die Bybel vas te hou, maar steeds daarmee verwyder te wees van die waarheid. Iets wat in die tyd van Israel ‘n goddelike waarheid was, kán nou bloot ‘n tradisie van mense wees.

Hier volg nog ‘n paar voorbeelde:

a)  Bid en vir julle sal gegee word

Die meeste Christene het al probleme gehad met uitsprake soos hierdie in die Bybel. Om vandag ongekwalifiseerd aan jong Christene so ‘n belofte voor te hou, sal uiters onverantwoordelik wees en kan lei tot frustrasie en selfs ongeloof. Ook die uitspraak van Markus 11:22-24 (“... elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see - en nie in sy hart twyfel nie ...”) kan nie vandag aan Christene gegee word soos dit daar staan nie.

Die antwoord op die probleen is eenvoudig die verborgenheid, die bedeling van die genade van God. Die Evangelies sê: “enige iets” wat ons in sy Naam vra, sal ons kry. En dan het mense baie reekse verklarings waarom dit nie eintlik so gebeur nie, maar die feit is: dit gebeur nie! Waarom nie? Gedurende die aardse bediening van die Here Jesus is die volk gereed gemaak om die koninkryk te ontvang. Hierdie beloftes was deel van die evangelie van die koninkryk!

Let bv. op Jes 65: 24. Die Here sal antwoord en verhoor nog voordat hulle roep. Baie Christene sê hulle ondervind dit so, maar ek twyfel. Gaan lees maar Jes. 65. Die hele hoofstuk is ‘n beskrywing van die koms van die Koning vir Israel. Ons leef nie vandag in die koninkryk nie, maar in die teenswoordige bose wêreld. Natuurlik kan die Here ons vandag ook dinge gee wat ons nie gevra het nie, maar dit is tog nie van ons wat  Jesaja in daardie hoofstuk praat nie.

Die verhoring van gebed in die koninkryk en in ons situasie vandag is twee verskillende dinge.

Waarom sal die Here in die koninkryk so direk op gebed reageer? Want dan sal mense in ‘n geestelik gesuiwerde atmosfeer leef. God sal dan in werklikheid oor alles regeer. Vandag is die oppergesag ook in sy hand, maar Hy regeer nie nou nie. In die koninkryk sal God direk gesag voer oor die drie grootste teenstanders van die Christen, nl. die wêreld (Openb. 11:15), die vlees, (Jes. 65:20) en die duiwel (Openb. 20:2,3). Dít is die rede waarom die antwoord op gebed in daardie tyd ‘n totaal ander saak sal wees. Dit is daardie tyd wat die tye van verkwikking genoem word en waarna die apostels in Hand. 3:19,20 nog so hartlik uitgesien het.

Maar die koninkryk het toe nie aangebreek nie. Israel het sy Messias verwerp. As u wil weet hoe gebed vandag werk en hoe God antwoord, moet u beslis nie in ‘n koninkryksge-deelte van die Bybel gaan lees nie.

Vandag regeer die bose (Joh. 12:31, 16:11, 2 Kor. 4:4), maar God het nog die oppergesag en kan alles ten goede laat meewerk (Rom. 8:28) en laat uitwerk volgens die raad van sy wil (Ef. 1:11).

Maar laat ons nie net staan op Rom. 8:28 nie, laat ons ook 8:26 aanvaar. Laat ons die Gees toelaat om ons gebed te skik volgens die wil van God en laat ons God dan toelaat om enige moeilike omstandigheid ten goede te laat meewerk. Volg verder die raad van Fil. 4:6,7 en laat ons nie aan God voorskryf nie, maar laat ons Hom toelaat om te doen ver bo wat ons bid of dink.

Die reel geld dus ook hier: As u die nuwe bedeling verstaan, sal u weet hoe om te onderskei tussen die voorskrifte vir gebed wat in die verskillende dele van die Bybel gegee word.

b)  Volhard tot die einde toe en jy sal gered word.

Waar staan hierdie woorde opgeteken? (Matt. 24:13). Dis by die beskrywing van die oordele wat gedurende die eerste helfte van die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Net daarna lees ons van die gruwel van verwoesting wat in die tempel opgerig sal word. Dan 9:27 het al voorspel dat die gebeurtenis in die middel van die tydperk van die Antichris se bewind op aarde sal plaasvind. Dit sal swaar tye wees en net dié wat volhard tot die einde sal gered word.

Maar die groot kerke glo hoegenaamd nie wat in die profesie opgeteken staan nie. Vir hulle is dit sommer vae en algemene beskrywings wat vergeestelik moet word en in ons tyd ingepas moet word. Daarom pas hulle die woord wat hier bo staan ook in ons tyd toe: Dié wat volhard tot die einde, sal gered word. Vir Israel sal dit waar wees, want hulle verlossing sal aan die einde van daardie tydperk aanbreek wanneer die Here in mag en heerlikheid sal verskyn (Sag. 12:10; Matt. 24:30).

Maar is dit hoe ons ook vandag gered word? - deur te volhard tot die einde toe? Nee! - Ons word gered deur te glo in Jesus Christus (Hand. 16:31) en ons word gered uit genade en sonder verdienste (Ef. 2:5,8).

Maar natuurlik sal ek ook volhard. In my lewe sal ek nie weer een millimeter afwyk van my posisie van geloof  in die volmaakte offer van Jesus Christus nie, maar dit is nie volhárding wat my red nie. Die volharding is in my geval die vrug van ‘n lewe wat vir tyd en ewigheid klaar gered is.

c)  Die sagmoediges sal die aarde beërwe

Wanneer sal dit gebeur? Israel het wel in die verwagting gestaan dat hulle die aardse koninkryk sal ontvang. Maar hulle was in hulle sonde verhard en het hulle steeds beroem op die koninkryksbeloftes wat aan hulle gemaak is. Hierop reageer die Here en stel dit onomwonde dat hulle nie hulleself belangriker as ander moet ag omdat God hulle as volk uitverkies het nie. Hulle sal eers in ‘n gees van nederig-heid en sagmoedigheid voor hulle Messias moet staan voor daardie aardse beloftes gestand gedoen sal kan word.

Maar wat nou van ons? Ons beërf hoegenaamd nie die aarde nie, maar moet eerder hieruit verlos word (Gal. 1:4). Ons bestemming en strewe is totaal hemels (Kol. 3:1,2; Fil. 3:20). As ons dit besef, sal ons ook ons plek op aarde beter verstaan en nie dink dat ons as Christene veronderstel is om hier die botoon te voer nie.

d) Die skape en die bokke sal geskei word

Die groot kerke neem nie kennis van die onwankelbare profetiese woord van die Bybel nie. Wederkomsprediking is byna totaal afwesig. Kennis van wat die Bybel vir die toekoms voorspel, bestaan gladnie. In die plek daarvan word net ‘n paar uitsprake uitgesonder en die hele konsep van die wederkoms word daaromheen gebou.

Die skape en die bokke van Mat. 25 is een voorbeeld. Die kerk sê dat alle mense op ‘n dag tegelyk sal opstaan. Die gelowiges sal hemel toe gaan en die ongelowiges veroordeel word. Wat hulle egter vergeet, is dat die kruisevangelie in Mattheüs nog nie verkondig is nie en die Christendom nog hoegenaamd nie bestaan het nie. Wat dus in Mattheüs beskrywe word, is Israel se bestemming, die toegang tot die koninkryk. Sommige sal toeglaat word en andere sal weggewys word.

Vir Christene is daar ‘n heel ander verwagting wat nie in Mattheüs beskryf word nie, nl. die wegraping. Voordat die oordele onder die bewind van die Antichris ‘n aanvang sal neem, sal dié wat in Christus gesterf het, eerste opstaan, die Here tegemoet in die lug (1 Thes. 4:13-17).

Dit staan in teenstelling met die ongelowiges (“maar”) wat nie in hierdie grootse gebeurtenis sal deel nie. Oor hulle sal die dag van toorn, die dag van oordeel baie skielik kom (1 Thes. 5:1 e.v.). Ons wat aan die Here behoort, het dan reeds ons bestemming bereik. Ons is nie vir die toorn bestem nie (1 Thes. 5:9). As die Christen se bestemming reg geleer word, sal die wederkoms weer iets word waaroor Christene bly en opgewonde kan wees en wat ons geloofslewe oneindig kan versterk.

15. Kersfees

Die datum 25 Desember is van suiwer afgodiese oorsprong. Op daardie dag het hulle offers gebring aan die songod uit dankbaarheid dat die son (in die noordelike halfrond) weer omdraai en terugkom.

Jesus is beslis nie in die winter gebore nie want die herders het in die nag in die oop veld oor hulle skape wag gehou. Ons het geen opdrag in die Bybel om “kersfees” te vier nie. Die wyse waarop die dag totaal ontaard het en teruggeval het na sy antichristelike oorsprong, bewys net verder dat ‘n Christen nie daar hoort nie.

Jesus se geboorte het gegaan oor die koms van Israel se Messias-koning (Luk. 1:32,33) en word daarom nooit deur Paulus aangehaal nie. Die aspekte van Christus se lewe wat vir ons van wesenlike belang is, is die kruis, opstanding en hemelvaart. Ons ken Christus nou nie meer na die vlees nie (2 Kor. 5:16), maar as hemelse Priester wat vir ons intree.

Kersfees is onrehabiliteerbaar vermeng met afgodiese tradisies. Selfs die boom is ‘n oeroue afgodstradisie (Jes. 44:14-17). Gee dit liewer terug vir die ongelowiges en aanbid die hemelse Christus.

Die aankondiging by Jesus se geboorte word so maklik losgeskeur uit die konteks waain dit voorkom. Die “vrede op aarde” en “God met ons” was direkte vervulling van koninkryksbeloftes wat aan Israel gemaak is. Die vrede op aarde het nog nie gekom nie.

U ken Miga 5:2 se voorspelling van Bethlehem as die plek van geboorte. Maar kyk nou verder by 5:7. Israel sal soos ‘n leeu onder die nasies wees. Vers 9 sê die perde en strydwaens sal uitgeroei en vernietig wees. Miga sê: Die gevolg van Bethlehem is dat Israel in vrede en rustigheid, sonder wapentuig, die leier onder die volke sal wees. Ek glo my Bybel en ek weet daardie tyd moet nog kom. Dit móés eintlik na Jesus se geboorte gewees het, maar Israel het Hom verwerp. Ons is nie nou in die tyd van vrede op aarde wat by die geboorte aangekondig is nie.

Die profete het die lyding én koninkryksheerlikheid van die Messias voorspel (1 Petr.1:10). Maar dit wat ons nou het is nie die koninkryksheerlikheid nie.  Ons is nou in ‘n bedeling wat toe nog totaal onbekend was (Rom. 16:25).

Ja, ek is ook bly dat Jesus na die aarde gekom het, mens geword het sodat Hy nou vir my ‘n middelaar in die hemel kan wees. Maar ek onderskei die koninkryksaspekte wat nie direk vir my bedoel is nie en ek verwerp die afgodiese invloede wat kersfees lelik gemaak het.

16. ‘n Tradisie van ongeloof

Van hierdie feit kan niemand wegkom nie: Ook ons land se teologiese opleidingskole is vandag tot soveel as 100% vol van die modernistiese idee dat die Bybel nie die Woord van God is nie en dat die verhaal in die Evangelies ‘n saamge-flanste storie is wat nie so gebeur het nie. Ook op die preekstoele is hierdie idee baie sterker verteenwoordig as wat die meeste mense besef.

Ons sluit dus ons boekie af met die heel gevaarlikste menslike tradisie van almal, nl. ongeloof in die Bybel, en dit kan baie verskillende vorme aanneem. Soos ons aan die begin gesê het, as jy glo dat die Bybel die Woord van God is, moet jy die daad by die woord voeg en alles glo wat daarin staan. Let maar op in die koetante. Daar was al meer as een voorbeeld waar verteenwoordigers van antichristelike godsdienste saampraat en saamstem met sg, “Christene”.  Wat ‘n skriwekkende paradoks: Kerkmanne wat met antichristelike godsdienste hartlik saamstem oor Jesus Christus!

En wat is die implikasie daarvan vir die evangelie? Iets wat ons nou al van die kansels af hoor is ‘n karakter evangelie in plaas van ‘n evangelie wat suiwer gebou is op die Godheid, sterwe en opstanding van Jesus Christus.

Meer as die helfte van die preke wat vandag gehoor word, kan net so in enige tempel gepreek word en het nie die soenverdienste van Jesus Christus nodig as die ruggraat en wese van ons ganse Christelike bestaan nie. Paulus is die openbaarder van die een evangelie wat vir vandag geldig is. Geen ander evangelie mag geduld word nie (Gal.1:8). En sy evangelie gaan natuurlik oor Jesus Christus wat hy verdedig van begin tot end (Fil. 1:17-20).

En nou vra ek u: Waar staan u wat betref Jesus Christus? Ek vra nie of u rook en drink en of u ‘n mooi lewe lei nie. Daar is duisende Moslems wat nie rook nie en nie drink nie en wat ‘n mooi lewe lei en hulle is vir ewig verlore. Nee, daar is net een vraag te vra: Waar staan jy ten opsigte van Jesus Christus? “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins”

Is Christenskap ‘n belydenis of is dit ‘n lewenswyse? Ja, ons leef dit uit, maar om daarvan bloot ‘n lewenswyse te maak is nutteloos. Nie net moderniste nie, maar ook van sekere evangeliese kansels hoor ons die gedagte dat dit wat ons glo nie eintlike saak maak nie, maar dit wat ons doen. En ek is bevrees, dit is die boodskap waarmee u van nou af in die Christelike kerk meer en meer gekonfronteer gaan word: Gedra jou net en almal is tevrede met jou.

Maar kom ek gee u die fundamentele Bybelse siening: Geen mens het nog ooit die nuwe lewe manifesteer as hy dit nie eers ontvang het nie en hy ontvang dit deur te glo in die waarheid (2 Thes. 2:13). Dit is ‘n belydenis.

Die modernis en wetsprediker sê: doen en lewe; die funda-mentalis leer: “lewe en doen”. “Hy wat in die Seun van God glo, het die ewige lewe” (Joh. 3:36).

Die wat in die vlees is kan God nie behaag nie (Rom. 8:8). Ons moet dus deelgenote wees van die lewe van Christus (2 Petr. 1:4). Die nuwe skepping, die liggaam van Christus, moet by elkeen persoonlik realiseer (2 Kor. 5:17).

Maar hoe kry ons deel aan die Christuslewe? Die modernis sê: ons moet volg in die voetstappe van Jesus, ons moet daagliks streef om in karakter en optrede te wees soos die Een wat God heilig verklaar het sonder om noodwendig sy offer aan die kruis te aanvaar as volkome voldoening by God. Die fundamentalis sê: nee, sekerlik nie so nie, maar deur te glo en Christus sodoende as lewensbeginsel te ontvang.

Die natuulike mens is in sonde gebore en kan God nooit behaag nie. Dit kan alleen gebeur deur ‘n nuwe geboorte, totale wegkyk van jouself en jou onvermoë en ‘n hartlike toekeer tot Jesus as die enigste gewer van God se geregtigheid. Die Christuslewe is ‘n volmaakte lewe. Wie kan dit volbring? Ek en jy kan as ons soos Paulus kan sê:

“Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

 



  




|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|