Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

   

Van beroemde evangelie-prediker tot godloënaar

deur David Malan

 

In hierdie blad praat ons geloofsake, Bybelsake, Christenwaarhede. Ons uitgangspunt is fundamenteel. Net die direkte uitsprake van God se Woord bepaal wat ons sal glo. Maar op die glibberige glybaan van die wêreld se teologie word hierdie uitsprake een vir een oorboord gegooi. Hoeveel vaste Bybelse uitsprake mag mens oorboord gooi? Hoeveel leerstellings mag ons vir onsself opstel wat nie in die Bybel staan nie?

Die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika is in rep en roer oor die teologiese hoogleraars veral in Stellenbosch en Pretoria wat die Bybel nie meer as God se Woord beskou nie en wat die Godheid van Jesus Christus bevraagteken. Ons weet van die nagraadse teologiese student by Pretoria, Ferdie Mulder, wat sommige van die professore in 2005 aangekla het oor leerdwalinge omdat hulle die Godheid van Christus en veral die liggaamlike opstanding van Christus betwis. Die skokkende uitslag van hierdie aanklag was dat die kuratorium van die teologiese skool (bestaande uit predikante van die NG Kerk) hierdie professore onskuldig bevind het. Die kurratorium was van mening dat dit in die haak is as die proferssore maar net ‘n soort “geestelike” opstanding glo, al glo hulle nie dat Jesus regtig liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie. Dit is dus duidelik dat hierdie bose liberale leringe in die teologiese skole nie meer net tot die hoogleraars beperk is nie. Ook die predikante wie se taak dit is om te waak oor die suiwerheid van leer in die teologiese skole, steun nou die posisie van hierdie professore.

Dit bring ons by ‘n bnaie belangrike vraag: Waarom is so baie van die gereformeerde teoloë en predikante van die groot kerke so ontvanklik vir die liberale idees van prof. Sakkie Spangenberg se nuwe hervorming? Is dit nie dalk omdat hulle teologie hulle al van die begin af geleer het om dinge te glo wat nie in die Bybel staan nie en ander dinge wat wel duidelik daar staan, totaal te ignoreer? Daar was al ‘n lang kondisioneringsproses aan die gang wat hierdie liberale aanslag wat ons nou sien, vooraf gegaan het. Alle predikante wat ook in die verlede daar opleiding ontvang het, is geleer dat dit konserwatief en aanvaarbaar is om sekere dinge in die Bybel nie te glo nie en ook sekere dinge wat nie daar staan nie, deel te maak van jou geloofsisteem. Vandag se liberalisme gaan dus net een klein stappie verder as dit waaraan hulle reeds oor die jare gewoond geword het.

Kom ons kyk gou na ‘n paar idees wat reeds dekades gelede geleer en geglo is en wat die weg berei het vir vandag se liberalisme.

Waar in die Bybel staan dit dat die Here vooraf bepaal het wie gered sal word en wie nie? Waar staan dit dat ‘n ongeredde mens nie in geloof na die Here kan kom nie - hy moet eers in totale passiwiteit gered word sodat die geloof in hom geplant kan word ... dat die Here Jesus net vir uitverkorenes aan die kruis gesterf het ... dat ‘n kerkdenominasie die moeder van ons volk kan wees ... dat net ‘n predikant nagmaal mag bedien en mag preek en dat ander net leespreke mag aflees ... dat die kerk al die beloftes van Israel vir homself moet vat, maar die vloeke oor Israel vir Israel moet los ... dat ‘n kind wat as suigeling in die kerk water op hom gekry het, ‘n beter kans het om gered te word omdat hy nou ‘n “verbondskind” is ... dat mens ‘n kind met water moet besprenkel en dan moet dink dat sy naam op grond daarvan in die boek van die lewe geskryf is  ... dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het? En nog baie meer.

Aan die ander kant staan daar dinge in die Bybel wat hulle eenvoudig nie glo nie. Wanneer gaan hulle glo dat Israel na sy verstrooiing weer as volk van God herstel sal word? (Ps. 69:36,37; Jer. 32:37:40; Eseg. 36 en 37; Hos. 1:11; Amos 9:11-15; Sag. 8:1-8; Luk.1:67-76; Hand. 15:16,17; Rom. 11:25,26).

Wanneer gaan hulle glo dat Paulus met krag direk uit die hemel opdrag ontvang het om die evangelie van vandag te verkondig, dat dié evangelie nie deur een van Paulus se voorgangers vir hom geleer is nie en dat dit uit geen enkele deel van die Bybel vóór die tyd van Paulus gelees kan word nie (Rom. 16:25,26; 2 Kor. 12:1-5; Gal. 1:15-19; Ef. 3:2-6, 8,9; Kol. 1:25-27)?

Wanneer gaan hulle glo dat Openbaring 20 met die woord “en” begin en dus ‘n voortsetting is van die vertelling van Openbaring 19? Dat die dier en die valse profeet (die antichris) aan die einde van Openbaring 19 veroordeel word en die draak (Satan) aan die begin van Openbaring 20 en dat dit dus nog ‘n onafwendbare, vaste getuienis is dat Openbaring 20 op Openbaring 19 volg en deel van dieselfde vertelling uitmaak? Wanneer gaan hulle glo dat die duisendjarige vrederyk van Openbaring 20 dus duidelik op Openbaring 19 volg. Na die Antichris veroordeel is, sal die duiwel verseël word (verseël - niemand sal met hom kontak kan maak nie) en daar sal ‘n duisend jaar lank geen verleiding van die bose op aarde wees nie.

Wanneer gaan hulle glo dat God werklik wil hê dat alle mense gered moet word (1 Tim. 2:4)? God kan tog nie redding vir alle mense toewens en terselfdertyd besluit wie gered gaan word en wie verlore sal gaan nie.

Maar let op: Al hierdie onskriftuurlike leerstellings van die gereformeerdes is dit wat hulle nou al jare lank glo. Dit is nie die nuwe liberale leerstellings van Spangenberg en die nuwe reformasie nie.

Maar wat is nou eintlik die verskil? As die gereformeerdes hulle al die jare daarmee versoen het om groot dele van die Bybel te ignoreer en daarmee saam baie dinge te glo wat geen Bybelse gronde het nie, kan ons verstaan dat soveel teoloë en predikante nou bereid is om nog verder op die glybaan te vorder en die gesag van die Bybel direk te bevraagteken.

Die stelsel van alle gereformeerde kerke leer predikante en lidmate om baie dinge te glo waarvan daar niks in die Bybel is nie en om ander Bybeluitsprake te ignoreer of te verander. Is dit dan nie die dun punt van die wig wat mense gewoond maak om sonder die Bybel te glo nie?

En wat van die boek Genesis? Mens hoef nie ‘n Spangenberg-man te wees om te sê dat Genesis net stories is nie. Nog lank voor Spangenberg bekendheid begin verwerf het, reeds in die jare 80, is dit openlik deur Johan Simmington en ander op televisie verkondig dat Genesis net volksverhale is. Wat dan van die hele skeppingsverhaal? Wat van die God van Abraham, Isak en Jakob? Watter God is dit dié as Abraham, Isak en Jakob fiktiewe karakters in ’n volksverhaal is? Is dit nog hoegenaamd nodig om te glo dat God die aarde geskep het of is die “big bang” teorie van die evolusioniste vir baie predikante en teoloë genoeg?

My vraag in hierdie artikel is net dit: Hoe ver mag mens op die glibberige glybaan afgly voor jy wil stop en sê: “Nou is ek tevrede dat ek die Bybel reg verstaan? Is daar so ‘n stop op hierdie glybaan? Is die gewone Skriflose leerstellings wat die gereformeerdes al die jare geglo het - soos op die vorige bladsy - nie ook reeds die eerste gly afwaarts nie?

Charles Templeton

Om die vrae in die laaste paragraaf te beantwoord, wil ek graag die voorbeeld van Templeton aanhaal. Hy is ‘n soort Spangenberg in Amerika en Kanada. Kom ons kyk waar hy begin en geëindig het.

In sy boek “Farewell to God” wat in 1996 gepubliseer is, sê Templeton: “I oppose the Christian Church because, for all the good it sometimes does, it presumes to speak in the name of God and to propound and to advocate beliefs that are outdated, demonstrably untrue, and often, in their various manifestations, deleterious (nadelig) to individuals and to society”.

So het Templeton geklink toe hy die onderpunt van die glybaan bereik het. Maar let op: Die redes wat hy aangee waarom hy die Christendom teenstaan, is dieselfde dinge wat die liberales soos Spangenberg ook glo. Hulle glo ook dat die kerk vandag dinge sê wat nie waar is nie (die opstanding, hemelvaart, sonde, versoening, oordeel, ens.) en dat dit nadelig vir die kerk is om in die moderne wêreld sulke “oudmodiese” goed te verkondig. Hoe ver moet Suid-Afrika se liberale teoloë nog gly om ook soos Tempelton ‘n boek te skryf wat sê: “Farewell to God”?

Templeton is in 1915 gebore en het vroeg met sy werk as evangelieprediker begin. Hy was ‘n uiters suksesvolle prediker wat in 1946 deur die National Association of Evangelicals hoër as Billy Graham aangeslaan is. Hy was een van drie vise-presidente van die internasionale “Youth for Christ” organisasie. Hy het saam met Graham duisende in Amerika en Europa toegespreek en baie het die Here gevind deur sy prediking.

Maar Templeton het ‘n probleem gehad. Hy het een dag aan Graham gesê: “But Billy, it is simply not possible any longer to believe the biblical account of creation.” Templeton het dus, terwyl hy nog ‘n evangelieprediker was, geglo wat van kerklike kant in die jare tagtig al in Suid-Afrika op televisie verkondig is, naamlik dat Genesis volksverhale is. Nee, nie eers so erg nie - hy het net die skeppingsverhaal in twyfel getrek. Hierdie suurdeeg het egter gou begin werk en kort daarna het Templeton vir Graham gesê: “It is intelectual suicide not to question the Bible and to go on preaching God’s word as authoritative.”

Op hierdie punt het Templeton besluit om sy evangelisasiewerk eers te stop en hom verder in die teologie te gaan verdiep om te kyk of hy nie dalk sy twyfel en ongeloof kan opklaar nie. Hy gaan toe na ‘n gereformeerde teologiese skool, Princeton. Daar is hy onderrig deur beroemde teoloë soos Charles Hodge en BB Warfield. Maar Templeton sou gou agterkom dat ‘n gereformeerde teologiese skool nie juis die plek is waar ‘n mens se fundamentele geloof in die gesagvolle en algenoegsame Woord van God opgebou word nie. Vir iemand wat reeds in twyfel was soos hy, was Princeton die verkeerde plek om heen te gaan.

Princeton het nie fundamentele lering aan hom gebied oor die waarheid van die Genesis-verslag, die Godheid van Christus en die absoluute betroubaarheid van Christus se werk in die verlede, hede en toekoms nie.

Na sy teologiese opleiding het Templeton weer begin preek, maar sy twyfel oor die Bybel was groter as ooit. Hy het ernstige gesondheidsprobleme met borspyne begin ondervind. ‘n Spesialis in Pennsylvania kon egter geen fout met hom vind nie. Sy probleem was waarskynlik die ongelooflike twyfel en skuldkompleks waarmee hy rondgeloop het. Saans preek hy die Woord met ywer, maar dwarsdeur die dag worstel hy om homself te oortuig van wat hy preek.

So kon dit nie aangaan nie. Templeton het uit die bediening bedank en in sy boek “Farewell to God” noem hy die redes waarom hy die Christelike geloof verwerp. Die redes was meestal oor die “onbetroubaarheid” en “ongeloofwaardigheid” van Genesis. En dit, my vriende, is in Suid-Afrika gepropageer nog vóór Spangenberg gewild geword het. Templeton het besluit om die stryd in sy siel tot rus te bring en het opgehou om te preek uit ‘n Boek waarin hy nie glo nie.

Hoeveel predikers en teoloë het ons in Suid-Afrika wat presies dieselfde as Templeton glo, maar wat steeds voortgaan om te preek uit ‘n Boek waarin hulle nie glo nie?

Sonde en die deurmekaar wêreld

Behalwe die Genesis-verhaal, het Templeton volgens “Farewell to God” ook ‘n groot probleem gehad met die begrip sonde: “... Genetisists who say it is ‘nonsence’ to believe that the reason for all the crime, poverty, suffering and general wickedness in the world is sin.”

Wel, hier het ons nou weer ‘n probleem wat nie net by Templeton voorkom nie, maar wydverspreid in kerke in Suid-Afrika en wêreldwyd. Predikers verkondig die evangelie Sondag tot Sondag en praat (miskien) selfs ook oor die verwoestende effek van sonde in ‘n mens se lewe en in die gemeenskap in die algemeen, maar sodra die lidmaat met ‘n probleem na die leraar gaan, verander hy in ‘n sielkundige en soek die oorsaak in die geskiedenis, sy skool, sy opvoeding, sy ouerhuis of wat ook al, maar nie in sy gehoorsaamheid aan die Bybel nie. Of meer nog, die predikant verwys die lidmaat na ‘n sielkundige soos wat dit daagliks gebeur.

Wat doen so ‘n predikant? Waarom is hy ‘n predikant? Of kan so ‘n persoon nog hoegenaamd as ’n “bedienaar van die Goddelike Woord” bestempel word? Gebruik hy die Woord as die algenoegsame volle waarheid van die mens se Maker? Gebruik hy die Bybel as die volkome handleiding wat geskryf is deur die Een wat die mens gemaak het?

Templeton het nie meer geglo dat die breuk tussen God en mens verantwoordelik is vir die chaos waarin ons ons bevind nie. Hy het nie geglo dat die Bybel antwoorde verskaf op die meeste vrae van die lewe nie. Hy het geglo dat “genetisists” beter weet en beter antwoorde het as die Bybel. Weereens maak ek die bewering dat honderde of selfs duisende predikante dieselfde is as Templeton. Hulle preek wel nog die Bybel (miskien) maar hulle glo nie aan die algenoegsame, praktiese waarde van God se Woord nie. Hulle noem die woord “sonde” miskien per geleentheid op die kansel, maar hulle glo nie daaraan om uit die Woord vir iemand te wys dat sy probleem sonde is nie.

En wie is nou die gevaarlikste? Templeton wat openlik vir God vaarwel toegeroep het, of die predikant wat “in God glo” en “in die Bybel glo”, maar met presies dieselfde probleme sit wat Templeton oortuig het om sy rug op die kerk en die Bybel te draai? Wie is die gevaarlikste? Dink hieroor na.

Die Verlossingsboodskap

Templeton se probleme met die Genesis-verhaal het hom ook in die hart van sy evangeliese geloof verlam. Hy het ontdek dat ‘n mens wat nie die Genesis-verhaal glo nie, ook nie meer die evangelie kan of mag verkondig nie. Templeton het nie meer geglo dat Eva regtig vir Adam verlei het om te eet nie. Hy het nie geglo dat Adam en Eva se sonde hulle direkte kommunikasie met God beëindig het en hulle uit die paradys uitgedryf het nie. Hy het nie meer geglo dat Adam en Eva se kinders se kinders en hulle kinders op grond daarvan in dieselfde posisie van geestelike dood geplaas is nie.

Dit gaan dus nie net meer oor Adam en Eva nie, maar ook oor Nuwe Testamentiese dele soos Rom. 5:12-21. Omdat hy Genesis nie meer as betroubaar en waar beskou het nie, het hy ook nie meer geglo dat sonde deur een mens in die wêreld ingekom het nie (Rom. 5:12). Hy het dus nie meer aan iets soos die erfsonde en ons as mense se basiese geestelike doodsheid geglo nie (Ef. 2:1). En as jy dit nie glo nie, wat is dan die hele punt om iemand tot wedergeboorte en versoening met God op te roep?

Templeton stel hierdie rede waarom hy sy rug op die Christendom draai, soos volg: “Those Christians who reject any advance in science or learning that contradicts the Genesis account of the creation of the world, the disobedience of Adam and Eve in the garden of Eden, and God’s curse on the world and humankind ... and who believe that the only deliverance from this curse and eventual banishment to an eternal hell is to be born again.”

(Sakkie Spangenberg het in Beeld van 15-7-2002 sy standpunt oor hierdie sake gestel: Adam, Eva en die slang bestaan nie en is net verhaalkarakters. Adam en Eva het nie sonde in die wêreld ingebring nie. Die mens is nie in sonde gebore nie. Hy moet maar net self kies om reg of verkeerd te doen. Sakkie, dit is totaal duidelik dat jy ál Templeton se besware teen die Bybel en die Christelike kerk met hom deel. So, wanneer kan ons jou openbare "Farewell to God" verwag?)

Hoe lees óns Genesis?

Templeton self het jare lank die skeppingsverhaal verwerp, maar aangehou om mense kragdadig tot selfondersoek, bekering en versoening met God op te roep. Maar dit het hom siek gemaak en hy het dit stopgesit. Is dit nie nou vir ons ‘n baie duidelike illustrasie hoe hierdie verdoemende glybaan in die praktyk werk nie? Wat is die waarde van ‘n prediker wat self die waarheid van sekere dele van die Bybel betwyfel? - watter dele van die Bybel dit ook al mag wees. Is dit nie ‘n kragtige wekroep tot elke Christen om opnuut erns te maak met die Woord van God nie? En dit is ook nie nodig vir Christene om die wetenskap te ignoreer en net die Bybel te lees nie.

Ek glo beslis dat die Bybel wel versoenbaar is met verantwoordelike wetenskap. Dit is ook nie nodig dat die aarde net 6000 jaar oud moet wees nie. Dit is wel moontlik dat daar ‘n gaping tussen Gen. 1:1 en 1:2 kan wees. God kon wel die aarde aan die begin geskape het (nie deur evolusie nie) (1:1) en daarna kon die destydse aarde deur ‘n ramp getref gewees het en dan is dit moontlik dat die res van die verhaal wat van Gen. 1:2 af vertel word, die herskepping van die aarde kon wees wat wel net in duisende jare getel kan word.

 Sommige publikasies soos die "Creation magazine" glo net aan `n jong aarde en sê dat die aanvanklike skepping van die aarde net in duisende jare getel moet word. Hulle sal ook sê dat mense wat ruimte laat vir die "gap theory", soos ek dit kortliks in die vorige paragraaf gestel het, ook reeds op Templeton se glybaan is en die waarheid van die Bybel in gedrang bring. Ek wil self nie `n besliste standpunt inneem oor die vraag of die aarde net in duisende jare getel moet word en of dit op grond van die "gap theory" wel baie ouer as duisende jare kan wees nie.  Ek hoop nie daar is te veel mense wat my hieroor veroordeel nie. Die Skrif gee nie `n duidelike uitspraak nie en ek dink nie ek is onBybels as ek ruimte laat vir die moontlikheid van `n gaping tussen Gen.1:1 en 1:2 nie.

Wat wel vir my ononderhandelbaar is, is dat die Bybelse skeppingsverhaal nie ‘n storie is nie, maar die waarheid; dat Adam en Eva werklike persone was wat deur God geskape is en dat die erfsonde die basis is waarop die hele verlossingswaarheid van die Bybel berus. As ek dit nie kan glo nie, sal ek myself nie aan maagswere en borspyne blootstel soos Templeton jare lank gedoen het nie. Dan sal ek liewer sommer dadelik doen wat hy uiteindelik gedoen het en dit is om die Bybel weg te smyt. Mag God dit verhoed!

Die alternatiewe is duidelik: Vat die hele Bybel, of gooi die hele Bybel weg. Met die hele Bybel bedoel ek natuurlik ook al daardie teksverse waarna ons op bladsy 2 en 3 verwys het. Is daardie verse werklik deel van die gereformeerdes se Bybel? Hulle sê so, ja, maar ek glo dit nie! Daar is ‘n massiewe klomp verse in die Bybel - baie, baie meer as dié waarna ons verwys het - wat sê dat Israel herstel gaan word, presies hoe dit gaan gebeur, ens. ens. Glo hulle dit? Nee! Nie in die minste nie! Op grond waarvan ignoreer hulle dit? Hulle sê Israel bestaan nie meer nie en die kerk kry nou alles wat vir Israel bedoel was. Maar wie gee hulle die reg om dit te sê? Ek weet nie; gaan vra hulle self. Wat die Bybel betref, word die onderskeid tussen Israel, die kerk en die nasies daarbuite regdeur gehandhaaf (1 Kor.10:32).

Daar is geen sweempie getuienis in die Bybel dat Israel se beloftes weggeneem sal word en vir die kerk gegee word nie. In elk geval is dit onmoontlik om dit vir die kerk te gee. Hoe gaan jy nou die kerk op aarde laat optrek na Jerusalem om die beloofde land in besit te neem? Maar net omdat die teoloë so sê, moet dit geglo word, al kan hulle nie een enkele vers ter stawing van so ‘n ongelooflike, drastiese ingryping in die Bybel aangee nie.

En wat van Paulus? Die konsensus onder teoloë is dat hy dìt wat hy verkondig, uit die tradisie van sy tyd ontvang het (nog ‘n poging om van die Bybel net ‘n menslike tradisie te maak). 1 Kor. 15:3 sê wel dat Paulus die evangelie “ontvang” het, maar beteken dit juis dat hy dit van mense ontvang het? Verseker nie! Die verse wat ons op bl. 3 aangehaal het, sê baie duidelik waar hy dit ontvang het en waar nie. Glo hulle daardie verse? Is dit deel van hulle Bybels? Nee, dit is nie.

En so kan ons aangaan. Maar teen hierdie tyd kan ons daarvan seker wees dat die teoloog of predikant wat hierdie artikel lees, ons lankal as “biblisiste” en “fundamentaliste” afgekam het. So, wat beteken hierdie twee terme?

Biblisisme en fundamentalisme

Ek kan nog goed onthou hoe prof. Willie Jonker - in die kweekskool op Stellenbosch - in antwoord op ‘n vraag in verband met dr. Willie Marais, gesê het dat lg. as gevolg van sy biblisistiese Skrifgebruik nie eintlik tuishoort in daardie soort teologiese geselskap nie. (Ek wonder of Sakkie Spangenberg dit nog onthou; hy was saam met my in die klas.) Ek glo nie ek weet self presies wat die twee terme vir die teoloë beteken nie. My persepsie is dat biblisisme vir hulle verwys na die praktyk om `n vers in die Bybel buite konteks aan te haal, nie die hoofstuk se boodskap waarin dit voorkom, in ag te neem nie en dan watter idee ook al aan daardie vers te koppel en dit te verabsoluteer.

Ek sal hiervolgens eerder sê dat hulle self biblisisties optree, want in die voorbeeld hierbo sê hulle op grond van 1 Kor. 11:23 en 15:3 dat Paulus sy evangelie by ander mense hoor. Dit staan egter nie daar nie. Hulle moes dus nie op biblisistiese wyse hulle eie gevolgtrekkings gemaak het nie, maar die wyer konteks van Pauliniese briewe geraadpleeg het. Dan sou hulle wel deeglik uitgevind het by Wie Paulus sy evangelie werklik ontvang het.

Ek beskou myself volgens hulle verstaan van die woord sekerlik nie as ‘n biblisis nie. Maar die woord biblisis is afgelei van Bybel en daarom moes dit eintlik ‘n positiewe betekenis gedra het. As ‘n biblisis byvoorbeeld iemand was wat weier om leerstelling of praktyk op die tradisie van sy kerk of familie te grond, maar dit suiwer, enkel en alleen op die Bybel bou, is ek gewis ‘n biblisis en trots daarop.

En wat van fundamentalis? Dit is baie dieselfde. Lesers van die Wapenrusting weet dat ons altyd op die laaste blad sê dat ons by die fundamentele waarhede van die Bybel staan. Ons is trots om fundamentaliste te wees, maar in die teologiese wêreld is dit nog `n groter vloekwoord as biblisisme. Weereens weet ek nie so mooi wat hulle bedoel nie, maar hulle verstaan dit waarskynlik as `n beskrywing van mense wat hulle blindstaar teen die letter en woorde wat in `n vers staan.

As mens jou so blindstaar, sal jy, volgens hulle, nooit by die ware, egte, diepere betekenis van ‘n vers uitkom nie. Teoloë wil met so ‘n uitspraak vir hulle ‘n baie lekker groot gaping ooplaat om waar ook al ‘n vers iets sê waarvan hulle nie hou nie, te sê, nee, maar die letterlike betekenis van die vers is biblisisties en fundamentalisties. Hulle is slim teoloë en sal vir jou sê wat die vers eintlik beteken.

Nee, vriende, ek is jammer. Dan staan ek liewer reg daarvoor om as fundamentalis gebrandmerk te word. Die Bybel moet self die gesag hê om te kan sê wat bedoel word. (Dit is ook `n vergete gereformeerde beginsel dat die Bybel homself moet uitlê.) Ons kan nie toelaat dat teoloë met slim terme soos biblisisme en fundamentalisme vir hulleself die godheidsprerogatief toe-eien om te mag verander en besluit wat enige vers beteken nie. En as jy nie inval by hulle siening nie, wat dit ook al mag wees, dan is jy eenvoudig `n betekenislose fundamentalis.

Sola Scriptura

Sola scriptura (die Skrif alleen) is veronderstel om ’n grond-beginsel van die gereformeerde wêreld te wees. Soos reeds aangetoon, is daar egter talle leerstellings en praktyke in hulle geledere wat Skrifloos is. Wat beteken sola scriptura dan nou eintlik vir hulle? Prof. Pieter Potgieter wat twee keer moderator van die algemene sinode was, sê in die Kerkbode van 5 April 2002 dat biblisisme en fundamentalisme gelei het tot verkeerde standpunte. Hy verwys waarskynlik na die tyd toe die kerk gestaan het vir aparte kerke vir verskillende volke en toe hulle die wet teen gemengde huwelike goedgekeur het.

Hoe dit ook al sy, wanneer daar ook al ‘n fout gemaak is, kry biblisisme en fundamentalisme die skuld. Dit is dus weer duidelik dat hierdie twee woorde totale vloekwoorde geword het. En eintlik staan beide die terme vir mense wat groot respek vir die Bybel het en alles sal doen om God se wil in leer en lewe soos in sy Woord bekendgemaak, te laat heers.

Waar staan ons nou? Teoloë is meer op hulle hoede om dalk van biblisisme of fundamentalisme beskuldig te word as wat hulle daarop uit is om waarlik sola scriptura uit te leef. Wat is die gevolg? Die gevolg is dat sola scriptura nie meer beteken dat mens jou leer en lewe direk op die Bybel moet grond nie (dit sou biblisisme en fundamentalisme wees). Nee, nou beteken sola scriptura maar net dat mens die Bybel moet gebruik om met nuwe paradigmas en slim woordspelings by ‘n boodskap vir vandag uit te kom wat dikwels ver verwyderd is van dìt wat in die Bybel staan. In elk geval MAG die Bybel vir hulle nie iets sê wat téén die belydenisskrifte van 400 jaar gelede is nie.

Kan prof. Potgieter nie liewers teen ‘n ander –isme waarsku nie? Kom ons waarsku liewer teen liberalisme wat alles in sy vermoë doen om God se gesag deur sy Woord af te breek en ‘n geleerde teoloog in Sy plek te plaas. Is dit regtig biblisisme en fundamentalisme wat ‘n gevaar inhou vir sola scriptura, of is dit eerder die liberalisme en modernisme van Templeton en die honderde ander Templetons wat nog preek terwyl hulle nie meer in Genesis en ander Skrifuitsprake glo nie? Kom ons hou op om mense soos dr. Willie Marais as gevolg van "biblisisme" uit die kweekskole te weer. Kom ons weer liewers die talle liberale en modernistiese teoloë uit die kweekskole. Húlle is die gevaar. Hulle steur hulle aan geen enkele Bybelse uitspraak nie.

Ek het nog in die laaste jaar voor hy afgetree het (1974) by prof. Tobie Hanekom klas gehad. Ons het ‘n volledige kursus oor die gevare van kerklike liberalisme, soos dit in die geskiedenis voorgekom het, by hom ontvang. Na sy aftrede was dit ‘n leemte. Ek glo nie iemand het weer van die leerstoel af die liberalisme die stryd aangesê soos hy dit gedoen het nie.

Nege hoogleraars van Bloemfontein se teologiese skool het in Beeld (23-5-2002) verklaar dat hulle by die Bybel as Woord van God staan. Tog trap prof. Potgieter (een van hulle) ook maar in die strik om eerder teen biblisisme en fundamentalisme te waarsku as teen liberalisme en modernisme. Sakkie maak ook ernstig beswaar teen fundamentalisme (Beeld 29-5-2002) en as Bloemfontein se 9 dit ook doen, is daar weinig verskil tussen hulle en hom. En wat doen Sakkie eintlik as hy oor fundamentalisme kla? Ons weet dit almal: Hy kla daaroor dat mense nog in die Bybel glo.

Ten spyte van my kritiek, wil ek tog my hoed lig vir Bloemfontein se 9 wat bly staan het by die Bybel as God se Woord. Sover ek weet was daar nie ‘n verklaring van Stellenbosch of Pretoria se kweekskole dat enige van hulle nog die Bybel as gesagvolle Woord van God beskou nie.

 

Die feite in verband met Templeton se lewe is aangehaal uit “The Slippers slide to unbelief”, gepubliseer in “Creation” 22 (3) van Junie - Augustus 2000.






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|