Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

'n Formidabele Erfenis
 

 Vir dié wat met die Heilige Gees verseël is

Deur David Malan (vers 14, 18 en 19)

en James van Eijk (vers 15-17)

 In Wapenrusting no. 33 het ons stilgestaan by vers 13 van Efesiërs 1.  En wat ‘n ongelooflike stelling is dit nie wat daar gemaak word nie! Alle Christene is met die Heilige Gees van die belofte verseël. Die KJV-vertaling in Engels en die ou vertaling in Afrikaans wat ons albei meestal gebruik, laat die indruk dat verseëling ‘n tweede genadewerk kan wees wat eers na verlossing kom. Die seël kom nie “nadat” jy tot die geloof gekom het nie. Die teenwoordige deelwoord word hier gebruik en dit beteken eerder “upon believing ye were sealed” of  “toe julle geglo het, is julle verseël.” Dus: Almal wat glo, is onmiddellik met die Heilige Gees van die belofte verseël. Ja, dit is dieselfde Heilige Gees wat in Johannes 16 beloof is, maar dit is nie die enigste rede waarom hierdie vers sê dat die Heilige Gees oor ‘n belofte gaan nie. Die belofte wat hier ter sprake is, word in die hele hoofstuk van Ef. 1 uiteengesit en die meeste van alles in vers 14.

Waarborg - Erfenis - Verlossing

God se Gees is vir ons ‘n onderpand of arrabon (Gr.) Laat die Bybel jou lei om hierdie woord te verstaan. Gaan lees wat dit in 2 Kor. 1:21,22 en 2 Kor. 5:4-9 (veral vers 5) beteken. In verskillende Engelse vertalings word arrabon  met earnest, pledge, instalment en guarantee weergegee. In Afrikaans is dit met onderpand (ou vertaling) of waarborg (NAB en Lewende Bybel) vertaal. Vers 14 sê dus duidelik wat “die Gees van die belofte” in vers 13 beteken. Dit is ‘n nuwe belofte of ‘n waarborg van God dat ons die volle heerlikheid van die hemelse seëninge in die toekoms sal ontvang. Die waarborg gaan daaroor dat die Heilige Gees as ‘n soort voorafbetaling nou reeds gestuur is om permanent in ons te kom woon.

As die Gees ‘n seël en ‘n waarborg vir ons moet wees, spreek dit vanself dat Hy permanent in ons moet woon. Rom. 8:9 sê ook pertinent dat die wat nie die Gees van Christus in hulle het nie, nie aan Hom behoort nie. Lees Rom. 8 verder tot by vers 15 oor die wondere van die inwoning van die Heilige Gees in ons.

As ons dit nou vergelyk met Luk. 11:11-13, sien ons dat die gelowiges in daardie tyd moes bid sodat die Heilige Gees aan hulle gegee kon word. In teenstelling hiermee is daar geen aanduiding in die sendbriewe dat ons as gelowiges moet bid sodat die Heilige Gees aan ons gegee kan word nie. As dit vandag so is dat iemand nie die Heilige Gees het nie, moet hy sy verlorenheid voor God erken en Christus tot Saligmaker aanneem. As hy dit doen, sal hy ook vir altyd met die Heilige Gees verseël word.

As die arrabon ‘n mooi woord in vers 14 is, wag dan vir die volgende een: klêronomias of erfdeel. Die woord beteken iets wat van bo af vir jou aangegee is, iets wat jy ontvang of as ‘n prys verkry het. Ons almal onthou tog seker die pragtige vers waar Dawid in Ps. 16:6 sy erfenis besing:

“Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Ek het al dikwels gewonder hoe David se Psalms sou klink as hy in ons tyd geleef het. Onthou, Dawid het in ‘n tyd geleef toe die Heilige Gees nie permanent in gelowiges gewoon het nie. Sonde was in daardie tyd nog ‘n groter probleem omdat mense voortdurend daaraan herinner is en gedurig offers daarvoor moes bring. Hulle was wel onder God se genadige beskerming, maar hulle het nie die kruis en die bloed van Christus geken nie - om nie eers te praat van die volheid van Christus wat in oorvloed aan ons openbaar is nie en ook die volle kennis van ons hemelse posisie in die bedeling van genade.

Tog word Dawid liries oor sy lieflike erfenis wat die Here hom laat toekom het. As ek die groter gawe wat ons vandag besit met dié van David vergelyk, dan wonder ek of daar nie nog ‘n groter bundel met lofliedere aan die Here, groter as die Psalms, in ons deel van die Bybel moes wees nie? Ek dink dit is aan jou en my oorgelaat om elke dag ons eie lofliedere en dankgebede teenoor die Here uit te spreek.

O, dat ons tog die geestelike oë mag ontwikkel om ons lieflike erfenis in die Here te ken, raak te sien en na behore te waardeer. Wat ‘n onbeskryflike gawe is dit nie om God se Gees as arrabon in my om te dra nie!

Ons hoef nie te raai wat ons erfenis in hierdie vers alles behels nie. Dit word duidelik uitgespel: “om sy eiendom te verlos tot die lof van sy heerlikheid.”  Hoe het die Here ons as eiendom verkry? Hoe het ons sy eiendom geword? Julle ken tog seker die antwoord. Hy het ons met sy bloed gekoop (1 Kor. 6:20; 7:23; Openb. 5:9). En tog staan hier dat hierdie mense wat reeds sy eiendom is, deur Hom verlos gaan word! Word ons dan twee keer verlos? Eers met sy bloed gekoop en daarna verlos? Ja! Toe ons Jesus die eerste keer ontmoet het, is ons ook verlos, maar ons GROOT verlossing lê nog voor! Hierdie verlossing wat voorlê, is so ‘n ongelooflike groot en heerlike gebeurtenis dat God vir ons sy Gees as arrabon gestuur het om ons te verseël tot daardie dag van verlossing.

Die derde Griekse woord wat ons nou leer, is apolutrosis (verlossing). Die woord lutron het in buite-Bybelse Grieks baie dikwels voorgekom (en ook in die Bybel). Dit vorm die kern van die woord apolutrosis. Lutron betekn net ‘n losprys of ransom in Engels.

In die oer-klassieke Griekse werk, die Illias van Homerus, is daar ‘n afdeling van die verhaal wat onder die opskrif: “Die losprys van Hectoros” verskyn en dan word die woord lutron vir losprys gebruik. Dit gaan oor die betaling van ‘n prys om die dooie liggaam van Hectoros, ‘n Trojaanse generaal wat deur die Grieke gevang is, aan Troje uit te lewer.

Maar die woord apolutrosis kom baie minder buite die Bybel voor en steeds baie in die Bybel. Die woord beteken ook baie meer as lutron. Dit gaan nie net oor die betaling van die prys nie, maar ook oor die toekomstige status van die persoon wat sodanig losgekoop is. In die slawehandel het die betaling van ‘n losprys die persoon in ‘n totaal nuwe posisie geplaas. Hy was ‘n bevryde mens. Die klem word dus beslis MEER op die nuwe werklikheid as op die ou een waaruit jy bevry is, geplaas.

En nou wonder ek net. As ons in Afrikaans van verlossing praat,  sê ons altyd “verlos van die sonde” - net dit. Maar ek is bevrees apolutrosis wil baie meer as dit sê - baie, baie meer. Daardeur verkleineer ek nie die waarde van verlossing uit sonde nie. Dit is op sigself ‘n onbetaalbare groot gawe. Tog praat apolutrosis van geweldig baie meer as dit. Apolutrosis gaan oor die erfenis. Daardie een wat Dawid laat sing het van vreugde: “my erfenis is vir my mooi.”

Verlossing in Bybelse sin praat van die nuwe werklikheid waarin die verloste geplaas is. Maar die Here het geweet en ek en jy weet dit ook, dat die werklikheid om ons partykeer maar taamlik vaal en uitsigloos daar uitsien. Baie onaangename takies moet verrig word, sorge en bekommernisse moet verwerk word, pyn en ellende moet hanteer word. Die grootste bewys van hierdie dinge kan in die kroeë van die wêreld gesien word. Die mense wat nie die apolutrosis het om aan vas te hou nie, wend hulle tot drank.

Ja, die Here het geweet die hele nuwe werklikheid is nog nie vir ons gegee nie en daarom het ons die Heilige Gees as waarborg. God kan nie lieg nie - en boonop gee Hy sy Gees as seël en waarborg - dat ons binnekort, baie gou, die volle werklikheid van sy Goddelike verlossing voor ons oë sal aanskou. Wat ‘n dag sal dit nie wees nie! Wat ‘n dag!

‘n Uitsiglose kerk

Nou spreek dit vanself wat ‘n patetiese, tragiese situasie dit is om as Christen in te wees as jy in ‘n uitsiglose kerk vasgevang sit. Die onderpand (arrabon), het net waarde vir ‘n mens met die kennis en lewende verwagting van dit wat in die toekoms vir jou gegee gaan word (lees weer die meegaande hoofstuk 7 van MacDonald oor die wegraping).

Die uitsiglose kerk is die een wat weier om te erken dat die Here ‘n afspraak gemaak het met sy liggaam (die liggaam van Christus) om op ‘n sekere dag ons in die lug te ontmoet sodat ons altyd by die Here kan wees. Die uitsiglose kerk ontken hierdie gebeurtenis totaal. Hulle sê daar is nie so iets soos die wegraping nie. Hulle sê ons gaan saam met sondaars en verlorenes opstaan en saam met hulle voor ‘n regbank verskyn om beoordeel te word. Hulle sê ook dat die Christene die oordeel van die Groot Verdrukking en die malle diktatuur van die Antichris saam met die sondige wêreld moet deurgaan. Is dit die erfenis waarop ons wag? Is dit waarop die waarborg (arrabon) gerig is? Is dit wat die apolutrosis vir ons inhou?

Die uitsiglose kerk is ook die een wat byna niks van die wederkoms weet nie en bitter min daaroor preek. Dit is die kerk wat direk in sy leerboeke sê dat ons in die Bybel geen verstaanbare verslag het van hoe dit gaan werk met die wederkoms nie. Dit is ook die kerk wat talle predikante en leraars in sy midde huisves wat totaal nie in die minste meer aan die wederkoms glo nie.

Dit is nou wat gebeur as ons bereid is om kompromie te maak en bereid is om die pad saam te stap met die uitsiglose kerk. Dit is nie net tekste oor die wederkoms in die Bybel wat in die gedrang kom nie. Dit is nie net die profete van die Ou Testament, die profetiese rede in die Evangelies en die boek Openbaring wat van die tafel afgevee word nie. Nee, die evangelie word ook in sy hart verlam.

Ef. 1:14 is nie deel van die profetiese dele van die Bybel nie. Dit gaan hier net oor die betekenis van die evangelie vir vandag. En tog, ek dink ons het dit duidelik genoeg aangetoon dat die uitsiglose kerk wat glo dat ons nou in die koninkryk is, die waarheid van Ef. 1:14 totaal misloop. Wat moet die uitsiglose kerk met ‘n arrobon doen? Hulle is tevrede en gelukkig genoeg hier op aarde. Hulle is nou in die millenium-koninkryk hier op aarde. Wat maak jy nou met ‘n arrabon as jy al klaar in die koninkryk leef?

Dit het tyd geword om die uitsiglose kerk te ontmasker vir wat hy werklik is. Hy is nie net ‘n vyand van die suiwere Skriftuurlike verkondiging van die wederkoms nie, maar met sy uitsigloosheid verswelg en versmoor hy ook gewone evangeliese werklikhede soos die arrabon, die apolutrosis en die klêronomias.

Paulus se gebed vir die Efesiërs

(1v15) “Daarom, vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges –

(v16) hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie,

(v17) dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring van kennis van Hom mag gee, ...”  

In Efesiërs 1:1-14 vind ons seker die volledigste en omvangrykste leerstellige opsomming in die Bybel. Dit is daarom ook verstaanbaar waarom die tweede helfte fokus op wat ons reaksie of respons daarop moet wees. Paulus, onder inspirasie van die Heilige Gees, doen dit deur middel van ‘n gebed.

As ‘n mens die eerste gedeelte woord-vir-woord aandagtig lees en oordink, is dit nie moeilik om saam met Paulus dan later oor te gaan in ‘n gebed van dank en prysing en ‘n soeke na nog verdere verdieping nie …’n gebed wat vir ons ‘n voorbeeld is.

Die gebed kan in 4 dele opgedeel word om dit beter te bestudeer:

Ê Die geleentheid en rede vir die gebed, naamlik “die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en julle liefde tot al die heiliges”  (v15);

Ê Die aard van die gebed, naamlik dankbetuiging, erkenning en spesifieke voorbidding (v15 en 16);

Ê Die Objek van die gebed “die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid”;

Ê Die gebedsversoek “die Gees van wysheid en openbaring van kennis van Hom.”

Ons moet onthou dat Paulus in Rome in die gevangenis was toe hy hierdie woorde geskryf het. Wat was sy gesindheid? Hy sê in Efesiërs 4:1: “ek, die gevangene van die Here”, nie die gevangene van Ceasar nie, maar die gevangene van die Here. Daarom kan hy hierdie gesindheid openbaar. Hy is ‘n gevangene van die Here, daarom weet hy dat hy onder die Here se beskerming en genade is en niks kan hom raak wat nie deur die Here toegelaat word nie. In die laaste gedeelte van Efesiërs (6:17-20) sê hy:

“(v17) en neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees –dit is die Woord van God – (v18) terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges (v19) en vir my, sodat ‘n woord vir my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak, (v20) waarvoor ek ‘n gesant (ambassadeur) is in kettings, sodat ek daarin vrymoedig mag spreek soos wat ek moet spreek.”

Hy vra nie die vraag “wat het ek gedoen om dit te verdien” nie, maar instede daarvan is hy in diep gesprek met God en vol dankbetuiging teenoor Hom! Paulus se gesindheid is uit sy geloof gebore: sy vertroue, die vrede en die dankbaarheid en erkentlikheid wat dit bring.

Die geleentheid en rede vir die gebed

“Daarom - vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en julle liefde tot al die heiliges” (v15);

Die woord “daarom” is vir my die skakel met Paulus se beskrywing van dit wat God deur Sy genade bewerk het deur Christus Jesus; dit waaraan ons alreeds deel het en wat onveranderlik is, “al die geestelike seëninge in die hemele in Christus” (v3). Sy rede vir die gebed: die Efesiërs se geloof; sy dankbaarheid daaroor, maar ook sy versoek tot God dat dit nog meer en dieper kan wees as gevolg van hulle (toename in) kennis van Hom.

On account of all that has been accomplished on the cross and the consequences for the saints as well as of the faith in the Lord Jesus which is among you …”

Ek glo dat daar geen twyfel is oor die heiliges se dankbaarheid oor hulle posisie in Christus nie. Paulus verseker hulle hier dat hy die Here steeds ywerig saam met hulle daarvoor dank (al was hy al 8 of 9 jaar weg van hulle af). Is ons nog opgewonde oor ons verlossing; het ons nog hartlike dankbaarheid en erkenning teenoor die Bewerker van ons verlossing? Dank ons Hom nog altyd en aanhoudend vir ons eie en ons mede-gelowiges se verlossing?

Hoe het Paulus geweet van hulle geloof? Die Woord sê hy het daarvan gehoor. Maar wat is dit wat hy van hulle gehoor het? Wat is dit wat as getuienis of bewys gedien het van hulle geloof? Het hy maar net gehoor “die Efesiërs staan nog vas in die geloof” of dink u daar was bewyse daarvan wat bevestig dat daar gepraat kon word van “die geloof in die Here Jesus”? In 3 Johannes 4 staan: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat my kinders in die waarheid wandel nie.”   Letterlik: “Greater joy than this I do not have, namely, that I am hearing that my own children are habitually ordering their behaviour in the sphere of the truth.

Ek glo dat Paulus baie goeie verslag ontvang het oor die uitlewing van hulle geloof. In Jakobus 2 staan daar dat die geloof sonder die werke dood is. Meer spesifiek in Jakobus 2:22: “Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit sy werke” en vers 26: “Want soos die liggaam sonder die gees dood is, so is die geloof sonder die werke dood.” Ons is gered sonder werke, maar geroep tot geloofswerke! Paulus het gehoor van hulle geloof in die Here Jesus – ek glo dit was sigbare geloof! Dinamiese, effektiewe en lewende geloof!

Geloofswerke

Geloof is sigbaar uit dit wat daardeur voortgebring word. Paulus was daar toe die Efesiërs tot geloof gekom het. Hy weet dit het gebeur en dit is dus nie alleen daarna wat hy verwys en waarvoor hy God dank nie (ja, dit is waar dit begin het) maar vir die effek, vir hulle wandel soos ons verwys het in 3 Johannes 4 -  habitually ordering their behaviour in the sphere of the truth.”

Wat doen die geloof?:

Ê Bring goeie werke voort (Jak. 2:14-22);

Ê Reinig die hart (Hand. 15:9);

Ê Oorwin die wêreld en sy verleidinge (I Joh.  5:4);

Ê Werk deur die liefde (Gal. 5:6); liefde vir die waarheid, vir Christus en vir Sy heiliges;

Ê Bring vrede (Rom. 5:1; Kol 3:15).

Is dít wat Paulus van hulle geloof gehoor het? Is dít ook die sigbare effek van ons eie geloof?

As bogenoemde nie meer so sterk in my lewe manifesteer nie, is my geloof in Christus besig om af te neem. Het ek nog ‘n lewende verhouding met Hom? Wandel ek nog met Hom? Geloof in Christus en my liefde vir die heiliges is onskeibaar; as ek dus minder vir hulle bid en minder doen om hulle te help opbou in liefde, is my geloof ook besig om te taan ...!

Die aard van die gebed

Dit gaan oor dankbetuiging, erkenning en voorbidding.

Die karakter van hierdie gebed is dankbetuiging en gebeds-versoeke - dankbetuiging vir dit wat God in en deur hulle gewerk het en ‘n gebedsversoek vir verdere groei en ervaring in Hom. Eers dank en dan dit wat ons wil vra – die element van danksegging moet daar wees. Ons vind in Filippense 4:6: “laat julle begeertes in alles met deur gebed en smeking met danksegging bekend word” en Kolossense 4:2: “volhard in die gebed en waak daarin met danksegging.”

Hoe meer ek bewus is van en erkenning gee aan God vir Sy goedheid, hoe meer vrymoedigheid sal ek ook hê om te vra om meer daarvan te kan ervaar! Hier gaan dit meer spesifiek oor die mede-gelowiges. Dit getuig hier van onselfsugtige liefde. In II Thessalonicense 2:13 staan daar: “Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.” Hoeveel van die onselfsugtige liefde ervaar ons vandag? Hoeveel daarvan deel ons uit?

Paulus doen meer as om net God te dank vir wat Hy vir hulle gedoen het; vra nog meer vir sy mede-gelowiges … Hoe anders is dit nie as die vleeslike mense nie? Hoe anders is sy ingesteldheid onder die leiding van die Heilige Gees!

En as hy meer vir hulle vra, gee hy verder erkenning aan God, dat alleen deur aan hulle die gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom te gee, verligte oë van hulle verstand sodat hulle sal kan weet [Ef 1:18] “wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van sy heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is.”

‘n Mens kan dit so sien dat elke gawe wat ons uit God se liefde ervaar, net ‘n deposito is op dit wat Hy nog vir ons wil gee! Kom ons herhaal dit; elke gawe wat ons uit God se liefde ervaar, is net ‘n deposito op dit wat Hy nog vir ons wil gee!

Geagte leser, ons moet die dankbetuiging, erkenning en spesifieke voorbidding hier sien en dit as voorbeeld neem. Paulus weet dat niks ons meer sal motiveer as om eer en dankbetuiging te bring en deur opnuut te besef wie ons in Christus is nie.

Objek van die gebed

“die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid”

Dit is moeilik vir ons om met ons menslike verstand en beperkte uitdrukkingswyse waarlik te besef wat hierdie woorde in diepte beteken, maar as ons ervaar het dat ons begenadig is: “tot lof van die heerlikheid van Sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Ef. 1:6);

as ons al in ons wese ervaar het dat ons “met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap” (Kol. 1:11);

as ons oë wat deur sonde verblind is, geopen is om Hom in Heilige heerlikheid te ervaar;

as ons weet dat “dit Hy is wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring deur die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (II Kor. 4:6);

dan kan ons met ons beperkte menslikheid ‘n effense uitdrukking gee van wat ons weet en dink van God as die Vader van die heerlikheid.

Geagte leser, hier spesifiek, bid Paulus vir die  Gees van wysheid en openbaring van kennis van Homom te weet wat die “rykdom van die heerlikheid” is, daarom is dit gepas om Hom aan te spreek as die Vader van die heerlikheid.

As Paulus dit nodig gevind het om so te bid vir die heiliges, hoeveel te meer moet ons nie vir mekaar bid nie? Kom ons vat dit vir wat dit regtig is: ‘n Goddelike opdrag direk aan ons.

Die gebedsversoek

“die Gees van wysheid en openbaring van kennis van Hom”

Die feit dat Paulus hierdie gebed gebid het, is ‘n bevestiging dat ons kan en eintlik aangemoedig word om te streef en te soek na ‘n beter kennis van Hom! Hy sal ons die wysheid en openbaring van kennis skenk! Ons kan daarop vertrou.

Paulus bid hierdie dinge vir hulle dat hulle ‘n voller en dieper kennis en gemeenskap met Hom kan hê “sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk  vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9 en 10). Paulus bid hier vir ‘n groter vermoë om die dinge van God te kan inneem; dat die Heilige Gees hierdie vermoë in ons sal skep en dat die sekerheid en realiteit van die heerlikheid van God in ons bevestig sal word.

Daar is verskillende mates van vertroue op God en op Jesus Christus, maar ek dink dit word bepaal deur die mate van kennis wat ons het. Tot hoe ‘n mate ken ons Hom, vertrou ons Hom, is ons gehoorsaam aan Hom, het ons Hom lief? Is dit nie alreeds voldoende rede om hierdie gebed ook die gebed van ons hart te maak nie? Ons gebrekkige geloofslewe en geloofswerke is as gevolg van ons gebrekkige kennis van Hom.

Arthur Pink het die volgende geskryf:

“If we were more intimately and influentially acquainted with Him, we would love Him more fervently, trust Him more implicitly, and obey Him more freely. We cannot realize the value of a better knowledge of God. But let us remark again, it is not a mere notional knowledge of Him, but a visual and vital one that is needed. The former is one in which ideas or mental images are presented to the understanding to work on, but the latter brings the reality down into the heart. By such a knowledge we behold the glory of the Lord and are ‘changed into the same image’” (II Cor. 3:18).

‘n Besef van wie ons is, wat ons roeping, hoop en bestemming is, sal ons motiveer om nog meer van Hom te wil weet. Dit sal ‘n nog meer intieme verhouding met Hom kweek en dít sal ons aanvuur en in staat stel om meer vir Hom te leef in geloof en vertroue en te werk ter opbouing van die heiliges en die Liggaam.

Lees asseblief Efesiërs 3 en veral verse 14 tot 21 nadenkend en biddend en mag Hy aan u gee “verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte…”

Hierdie is ‘n gebed vir kennis en openbaring. Die feit dat die woord openbaring hier bygevoeg is, maak dit duidelik dat hier van nuwe kennis, nuwe geloofswaarhede gepraat word. Die gebed is nie net dat die mense die geloofswaarhede van die Ou Testament sal ken nie, maar die waarheid wat in openbaring aan die apostel bekendgemaak is (Rom. 16:26; 1 Kor. 2:10, Gal. 3:23, Kol. 1:26). Ja, vriende, hierdie is die geloofskennis vir vandag wat aan die apostel van genade geopenbaar is. Dit is ook die kennis waarvoor hy bid dat die Christene ryklik sal toeneem in kennis.

Hy gaan dan voort om te verduidelik wat ons alles sal verstaan as ons hierdie geopenbaarde kennis van Christus bekom het.

Verligte oë van die verstand

“sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping is” (1:18).

‘n Paar bladsye tevore het ons u gewys op die hopelose (uitsiglose) toestand in die kerk vandag. Teologiese boeke leer direk en duidelik dat die verslag oor die wederkoms vaag, fragmentaries en onduidelik is en dat ons dit nie kan verstaan nie. Maar in hierdie vers het ons ‘n opdrag om met verligte oë duidelike begrip en insig te hê in die “hoop” van ons roeping.

Die uitsiglose kerk het al daarin geslaag om derduisende Christene vas te maak aan die hier-en-die-nou van die aarde en te laat vergeet van die toekoms. So, vir wie werk hierdie uitsiglose kerk nou eintlik? Gee hulle uitvoering aan hierdie diepe versugting van die gebed van die apostel?

“Hoop” in die Bybel is altyd gerig op die toekoms (Rom. 8:24,25, 1 Kor. 15:19). Die hoop wat aan die volk Israel voorgehou is, is die herstel van Jerusalem en die duisendjarige koninkryk op aarde. Maar hierdie hoop is nooit aan die kerk as die liggaam van Christus voorgehou nie. Die hoop van die Christen vandag is om saam met Christus verheerlik te word by die Wegraping (1 Thess. 4:13-18), om deur die gebeurtenis van die Wegraping ook gered te word uit die siuasie van oordeel wat dan vir die bewoners van die aarde sal voorlê: (1 Thess. 5:9, 2 Thess 1:6,7). Die feit dat hierdie hoop so ‘n duidelike verlossings- en uitreddingskarakter dra, is ook die rede waarom dit die “salige hoop” van die Christen genoem word (Tit. 2:13).

Hierdie hoop staan direk in verband met ons roeping as Christene. “Hy wat roep, is getrou.” Roeping in die Bybel is altyd effektief. Dit stuur op ‘n sekere doel af. Fil. 1:14 noem dit die “hoë roeping” terwyl Hebr. 3:1 van die “hemelse roeping” praat.  Kol. 3:1,2 gee opdrag aan Christene om, nadat hulle saam met Christus opgewek is (uit die ou lewe van sonde) te bedink wat bo in die hemel is en nie wat op die aarde is nie. Hierdie denke aan die hemel is duidelik gerig op ons verheerliking saam met Christus by die wegraping (Kol. 3:4).

Die tweede aspek wat Paulus bid dat ons moet verstaan,is

“wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heidene is.”

Ons het in vers 14 reeds in detail oor ons erfdeel gepraat, maar let op: Hier is nou ‘n verskil. Hier word nie gepraat van die erfdeel wat God vir ons beloof het soos in vers 14 nie. Hier is dit nou Christus se erfdeel onder die heidene. Onthou, in daardie tyd was dit nog ‘n nuwe openbaring, ‘n nuwe waarheid dat God nou ook vir Hom ‘n uitgeroepe gemeenskap van gelowiges buite Israel, onder die heidene, gaan versamel. Hierdie is dus duidelik ook openbaringskennis wat in Paulus se tyd nog nie eers in ‘n Bybel geskryf gestaan het nie.

Paulus bid dus hier dat die Christene van Efese baie akkurate geestelike kennis mag hê van die nuwe groep gelowiges wat die liggaam van Christus genoem word en wat vir Christus “die rykdom van sy heerlikheid is.” Christus het sy lewe gegee; Hy het ons met sy bloed gekoop. Wat meer kon Hy gee om te bewys dat ons die heel belangrikste vir Hom is? Elkeen van ons word as lewende stene in hierdie liggaam ingebou en het ‘n taak om by te dra tot die “rykdom van God se heerlikheid.”

Kom ons praat nou so bietjie aards en ons vervang die woord heerlikheid met status. Waaraan meet mense vandag hulle rykdom en status? En baie van hulle wat dit doen, is ook Christene. Hulle wil ook in tel wees. Hulle wil ook kan “saampraat” met die rykdom en statussimbole van die wêreld. Het daardie Christene wat hulle besig hou met sulke dinge al ooit gaan stilsit en dink dat hulle self veronderstel is om die rykdom en status van hulle Hemelse Verlosser te wees? Hoe meer Christene aan rykdom en status op aarde dink, hoe minder sal hulle in staat wees om self waarde toe te voeg aan die rykdom en status van hulle Hemelse Here, want hy stel net belang in mense met belange in die hemel.

Dit is wonderlik om te kan praat van ons erfenis wat die Here vir ons weggelê het, maar dit is nog soveel groter om te kan praat van God en Christus se erfenis waarvan ek en jy deel is en waartoe ons geroep word om waarde aan toe te voeg.

Waarom is hierdie uitsig op ‘n heerlike toekoms saam met Christus so uiters belangrik? Hoekom herhaal Paulus dit so geweldig baie? Is dit nie belangriker om ons aandag op hierdie vervallende wêreld te konsentreer en iets te probeer doen om dit te rehabiliteer nie?

Sonder om in filosofiese argumente te verval, moet ons net ‘n duidelike Bybelse feit hier uitwys. Die grootste liefdadigheids- en opheffingswerk in die geskiedenis is meestal gedoen deur mense wat self los is van hierdie wêreld en ‘n uitsig het op die verre toekoms. Wat is die Bybelse antwoord op die pyn, klagtes en ellendes van hierdie wêreld? Rom. 8:18 sê: “want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” 2 Kor. 4:17 stel dit so: “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid.”

Daar is geen groter krag en motivering vir die Christelike lewe as om ‘n duidelike begrip en kennis te hê van “die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges” nie. Hoe meer ek weet en van hierdie dinge verstaan, hoe meer sal ek my afsonder van sondige gedagtes en die vlees kruisig om myself voor te berei en nog meer waarde toe te voeg aan die die erfdeel van Christus.

Aan die ander kant, kyk na die lewe van die uitsiglose mens: “As ek in Efese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons.”

Die krag van sy sterkte

“en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte.”

Paulus se derde bede is dat ons sal begryp wat die grootheid van Christus se krag is vir ons wat glo(v 19).

Scofield se KJV Bybel het ‘n opskrif by 1:15 wat eintlik ‘n baie ernstige blaps is. Daar staan: “the prayer for knowledge and power.” Is dit waar? Is 1:19 ‘n gebed vir krag? Ek dink nie so nie! Verre daarvandaan! Derduisende Christene voel hulle eie swakheid aan en wil bid vir krag. Hulle lees dan hierdie vers ook as ‘n gebed vir krag.

Hierdie vers praat van die krag van God wat reeds in ons is en nie van ‘n krag wat ons nog moet kry of wat tot ons beskikking is nie. In Afrikaans staan daar “vir ons” en in die King James “to us-ward”, maar die RSV vertaal: “in us.” Die Griekse woord is eis en dit kan beide vir, na of in beteken. Die Grieks gaan ons dus nie in hierdie geval help nie. Die vraag is hoe ons oor die verlossingswaarheid dink. Sommige sê die verlossing is iets wat ek doen, plus die krag van God. Ander sê die verlossing is die resultaat van God se krag wat in my of deur my werk. Ek sou beslis die “in ons”-vertaling verkies.

Kom ons dink weer aan die eerste twee bedes. Daar word ons gedagtes net gevestig op die hoop wat in die toekoms lê. Dan die tweede bede wat ons toekomsverwagting koppel aan ons eie posisie binne die liggaam wat eer en heerlikheid moet bydra tot God se erfdeel. Dit is ‘n groot mondvol. Kan ek dit werklik glo? Sal ek in staat wees om so ‘n rol te vervul? Ja, ek kan, maar om dit werklik te glo, moet ek ook weet van God se krag binne-in my!

Ons kan duidelik die logiese opeenvolging van die drie bedes verstaan: Eers ’n velange en hoop op die toekoms, dan ’n begrip van my persoonlike rol in God se groot en wonderbare erfenis. En dan begryp die apostel dat die Christene van Efese, as hulle na hulleself kyk, op hiedie punt mag twyfel en terugdeins. Hierdie gebed toon dus ook duidelike pastorale  betrokkenheid by die gelowiges. Hy begelei hulle om nie net hulle plek in God se plan te sien en te verstaan nie, maar ook om met sekerheid en geloofsoortuiging voort te gaan en te staan op die krag van God binne-in hulle.

As jy oortuig is van die Here se krag binne-in jou, dan praat jy saam met die Heilige Gees in Rom. 1:16; 1Kor, 1:23,24; 1 Thess. 1:5:

“Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo ...”

“Ons verkondig Christus wat gekruisig is ... Christus, die krag van God en die wysheid van God.”

“Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees.”

 

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|