Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

 


Waarom is jy ‘n Christen?


Deur David Malan


 Kan daar vir ‘n Christen ‘n belangriker vraag as dit wees? Wat maak ek hier? Is daar ‘n doel met my bestaan? Natuurlik het hierdie vraag geweldige praktiese waarde. Die Christen wat die antwoord op hierdie vraag ken en daarvolgens lewe, is geseënd in al sy weë (volgens al die hemelse seëninge van Ef. 1:3).

Maar nou is dit ook so dat Christene oor die algemeen enkel en alleen ingestel is op dit wat van praktiese waarde is, sodat hulle die groot leerstellings van die Bybel by hulle verby laat gaan. Die idee is eenvoudig dat leerstellings onprakties en nutteloos vir die alledaagse Christelike lewe is. Maar nou wil ek ‘n stelling maak. Die leringe van die Bybel wat wel as onprakties beskou word, is meermale valse leerstellings.

Neem nou byvoorbeeld die uitverkiesing. Die tradisionele siening van die uitverkiesing is dat sommige uitgekies is om gered te word en hemel toe te gaan en ander nie. As dit waar moes wees, kan ek verstaan dat die leerstelling meer probleme sal veroorsaak as wat dit antwoorde sal verskaf en dat mense dit dodelik sal ignoreer. Verder dra dit net daartoe by om Bybelse leringe oor die algemeen baie ongewild te maak.

En dit het ons nou daarvan. Mense wil nie meer weet van die wonderbare leringe van die Woord nie. Hulle stel net belang in praktiese, strelende boodskappies.

Nee. Leerstellings is nie onprakties nie. Maar daar is ‘n voorwaarde. Dan moet dit die ware, egte leringe van die Bybel wees en nie mense se idees daarvan nie.

In hierdie artikel praat ons oor die onmisbare, wonderbare praktiese waarde van die uitverkiesing (as jy dit reg verstaan). Die uitverkiesing gaan presies net waaroor ons in die opskrif en die eerste paragraaf gevra het. Dit is dus by uitstek ‘n saak wat  oor ons Christelike praktyk handel. Maar dan moet ons eers van al die onBybelse en menslike tradisies oor die uitverkiesing ontslae raak.

As praktiese Christenskap vir jou belangrik is, mag jy nie hierdie besinning oor die uitverkiesing ignoreer nie!

Het God besluit wie gered gaan word?

Johan Heyns se boek “Dogmatiek” is seker die sterkste rigtinggewer vir die tradisionele Gereformeerde en Calvinistiese kerke. Op p.82 sê hy onomwonde dat dit sondaars is wat tot die saligheid uitverkies is en verwys dan ter stawing na II Thess. 2:13 (lees ons antwoord hierop op p.12). Reeds in sy eerste sin waar hy op p. 78 begin om oor die uitverkiesing te praat, sê hy: “God se besluite oor die eindtoestand van die skepping in die algemeen en in besonder oor die ewige bestemming van die mens, word die leer oor die predestinasie genoem.”

Ek gaan jou nie vermoei met nog ritse aanhalings van gereformeerdes en van hulle kerklike doktrines nie. Die feit is eenvoudig dat alle gereformeerde en selfs die meeste evangeliese of Pinkster kerke glo dat uitverkiesing beteken dat God sekere sondaars voor die grondlegging van die wêreld voorbeskik het om gered te word.

Die implikasie van hierdie leerstelling is dat ons kan preek en getuig tot ons neerslaan, maar uiteindelik gaan dit steeds net die uitverkorenes wees wat gered gaan word, niemand anders nie. Ons getuienis of prediking maak dus geen verskil aan die uiteinde van die saak nie. Watter leer kan meer onprakties en demoraliserend wees as dit? Moet ons dit nou maar net aanvaar dat die groot gros mense totaal onredbaar is? Wat dan van 1 Joh. 2:2 wat sê dat Christus ‘n versoening is vir die sondes van die hele wêreld? Volgens hierdie vers is daar versoening vir almal en is almal dus redbaar.

Ek het tien jaar lank in Zoeloeland sendingwerk gedoen en ontelbare kere uitnodigings aan mense gerig om gered te word. Ek het daarmee saam gesê dat die saligheid vir een en elkeen beskikbaar is en dat Christus vir elke enkeling voorsiening gemaak het. Vandag is ek nie spyt dat ek dit gedoen het nie. Maar hoe kon ek dit gesê het? Eintlik kon ek nie, want ek het toe nog die Gereformeerde siening oor die uitverkiesing aangehang.

Jakob en Esau

Gereformeerdes haal Rom. 9:11-13 baie dikwels aan. Hierdie verse eindig met: “Die oudste sal die jongste dien ... Jakob het ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” Sê hierdie verse dat God een mens bo ‘n ander tot die saligheid bestem? Hierdie verse moet saam met Gen. 25:23 gelees word. “Twee nasies is in jou skoot en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam ... die oudste sal die jougste dien.”  Gaan dit in Rom. 9:11-13 oor Jakob en Esau of gaan dit oor die twee nasies wat hulle verteenwoordig? Natuurlik oor die nasies. Het Esau in persoon ooit vir Jakob gedien? Nee! Het die Esau-nasie ooit die Jakob-nasie gedien? Ja! (1 Kron. 18:13). Die Afrikaanse naslaan-Bybel gee Gen. 25:23 aan hier by Rom. 9:11-13. Dit bewys onteenseglik dat Rom. 9 nie gebruik kan word om die Calvinistiese uitverkiesing te steun nie.

 Die verkiesing van Christus

“Daar is my Kneg wat ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.”

“ Hy sal nie dof brand of geknak word totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie” Jes. 42:1,4.

In die NT kry ons weer die verkiesing van Christus in Luk. 23:35 en 1 Petr. 2:4,6. In hierdie gevalle beteken verkiesing sekerlik nie om uit verlorenheid aangewys te word tot die saligheid nie, want Christus was nooit ‘n sondaar nie. Nee, Hy is uitgekies om die reg op aarde te kom vestig. Daar sou baie teenstand en terugslae wees (die ongeloof, verloëning verwerping en kruisiging), maar Hy sal nooit dof brand of geknak word nie - Hy sal nie mismoedig word of in Sy opdrag faal nie.

Waaroor gaan die uitverkiesing van Christus? Dit gaan oor die verhewe goddelike opdrag om, verlate en verwerp, die versoening vir die wêreld te bewerk-stellig en om uiteindelik (in die duisendjarige vrederyk) God se reg op die ganse aarde te vestig.

Die uitverkiesing van Israel

“... ter wille van Jakob, my kneg en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee hoewel jy My nie geken het nie” (Jes. 45:4).

Saam met hierdie vers onthou ons ook wat op die vorige bladsy van Jakob en Esau gesê is. Hierdie uitverkiesing en erenaam wat aan Israel gegee is, gaan oor ‘n taak wat God aan hulle opgedra het en nie oor die belofte van die saligheid vir individuele Israeliete nie. Israel moes ‘n banier wees vir die nasies (Jes.11:12) ‘n teken van God se teenwoordigheid op aarde. Deur hulle moes al die geslagte van die aarde geseën word (Gen.12:2,3). In die koninkryksdispensasie sou die saligheid deur die Jode na die ander nasies uitgaan (Joh. 4:22).

Beteken hierdie verkiesing egter dat hulle almal, elke enkeling, gered is omdat hulle uitverkies is? Sekerlik nie. Die treurige verhaal van Israel se geskiedenis is vol van afgodery, onreg en baie ander sondes waaroor God hulle telkens moes straf en in ballingskap wegstuur. Seker en gewis het baie in hulle sonde gesterf ten spyte daarvan dat hulle uitverkies was.

En by die verskyning van die Messias het hulle geheel en al as volk die rug op Hom gedraai. Weereens beteken verkiesing nie die saligheid nie, maar ‘n ideaal en heilige taak wat die verkorenes moet vervul. In Israel se geval is die taak nog steeds onafgehandel en sal eers na die wegraping in die bedeling van die  groot verdrukking en die koninkryk op aarde volbring kan word.

Die verkiesing van die twaalf

“En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies wat Hy apostels genoem het” Luk. 6:13.

Die gewone woord vir uitverkiesing word weer hier gebruik. Let op: Hy het nie elf uitgekies nie, maar twaalf. Hulle was uitgekies om intensief opgelei en uitgestuur te word om die evangelie van die koninkryk te verkondig. Is hulle uitgekies tot die saligheid?

“Jesus antwoord hulle: Het ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel” Joh.6:70.

Judas Iskariot word elders ook die seun van die verderf genoem. Hy was uitverkies, maar sekerlik nie gered nie. Ons het nou drie kategorieë van uitverkiesing behandel en gevind dat uitverkiesing tot die saligheid nie by een van hulle teenwoordig was nie. Uitverkiesing gaan altyd net oor ‘n besondere opdrag of rol wat vervul moet word.

En nou is dit so maklik om te sê nee, maar ons uitverkiesing is anders. Ons word uitverkies om die saligheid te beërwe. As ons uitverkiesing anders as al die uitverkiesings in die Bybel moet wees, sal daar darem ‘n baie duidelike aanduiding gegee moet word sodat ons dit so kan verstaan. Ons sal ten minste ‘n vers moet hê wat pertinent sê dat ons uitverkiesing daaroor gaan dat sommige verlore mense voor hulle geboorte aangewys is om die saligheid deelagtig te word en hemel toe te mag gaan. Ek weet beslis nie van so ‘n vers nie.

Die uitverkiesing van die liggaam van Christus

“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus na die welbehae van sy wil” Ef. 1:4,5.

Is dit die bedoeling van hierdie verse om te sê dat God uit ‘n groep ongeredde sondaars besluit het wie gered sal word en wie  hemel toe sal gaan? Verre daarvandaan! Sondaars is nie in die minste hier ter sprake nie.

Die term “uitverkiesing” is al so gelaai met die idee dat iemand vooraf bestem is om gered te word dat dit nie meer moontlik is om die regte Bybelse betekenis van uitverkiesing raak te sien as ons dit lees nie.

Moet ons nie teruggaan na die uitverkiesing van Christus, van Israel en van die twaalf apostels en dan die betekenis van uitverkiesing wat ons daar gekry het, hier inplaas en kyk of dit sin maak nie?

Het God nie vir Christus aangestel om die reg op aarde te grondves nie? Het God nie vir Israel aangestel om sy banier tussen die volkere te wees nie? Het Jesus op aarde nie die 12 aangestel om die evangelie van die koninkryk in Israel uit te dra nie? Nie in een van die gevalle was dit ‘n voorafbepaalde lotsbestemming van een sondaar wat bo ‘n ander sondaar gekies is om gered te word nie. Waarom moet ons dan nou so ‘n lotsbestemming hier in Ef. 1:3,4 inlees?

Die Calvinistiese tradisie het so ‘n geweldige invloed gehad dat ons nie meer reguit kan dink as ons ‘n vers soos hierdie lees nie. Wat ons eintlik moet doen om van daardie pakkasie ontslae te raak, is om eenvoudig die woorde “uitverkies” en “voorbeskik” in die twee verse te vervang met aangestel:

“soos Hy ons in Hom aangestel het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek in Hom in liefde te wees

“deurdat Hy ons aangestel het om as sy kinders vir Homself aangeneem te word deur Jesus Christus na die welbehae van sy wil” Ef. 1:4,5.

Soos Christus, soos Israel en soos die twaalf het ons binne die Liggaam van Christus ook ‘n geweldige verhewe posisie om in te neem en rol wat ons moet vervul.

En skielik het Efesiërs 1:4 en 5 nou tien keer meer betekenis en praktiese waarde. Onder die Calvinistiese tradisie was hierdie verse net ‘n uitspraak wat sê dat sekere verlore sondaars op aarde voorbeskik is om hemel toe te gaan en andere nie. Nou dat ons egter van daardie siening ontslae geraak het, staan hier veel meer as dit. Die sleutelwoord in vers 4 is in Hom en die sleutelwoord in ver 5 is deur Jesus Christus.

Hier staan nie dat sekere mense voorbeskik is om in Christus Jesus te wees nie, maar hier staan wel dat God voor die grondlegging van die aarde vasgestel het wat die heerlike en wonderbare posisie en taak is van diegene wat deel van die liggaam van Christus sal wees.

Ons is in Christus uitverkies. Ons is nie elkeen apart uitverkies en aangesê dat ons hemel toe sal gaan nie. Dus, God het die liggaam van Christus uitverkies en aangestel vir Sy taak en posisie. En hoe weet mens of jy deel van die liggaam van Christus is? Jy het nie die lysie in die hemel gesien met al die name van die wat gered sal wees nie (as daar so ‘n lysie is).

Die Gereformeerde siening dat die uitverkiesing vir jou berusting en geloofsekerheid bring, is net nie waar nie, want jy het nie daardie lysie gesien nie. Daar moet iets anders wees wat vir ons geloofsekerheid en vrede in die hart kan bring - en daar is. Efesiërs 1:12,13 praat duidelik daaroor:

“... ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,

“in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte ...”

Let op hoeveel keer die woorde “in wie julle” herhaal word. Hier is in ’n neutedop die toegang, die sekerheid en die vrede wat ons in Christus geniet. Die ware en enigste kerk of gemeente van God op aarde is die liggaam van Christus (Ef.1:22,23). Maak seker dat jy binne-in die liggaam is en nêrens anders nie.

Die verkiesing van Paulus

“Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel” (Hand. 9:15).

Net soos al die ander uitverkiesings wat ons behandel het, is Paulus uitverkies tot ‘n taak, ‘n bevoorregte posisie. Hy is geroep as apostel (1Kor. 1:11, Hand. 22:14). Ek dink nie dat daar nou meer enige twyfel kan bestaan oor die wese en betekenis van die uitverkiesing nie. Christus se uitverkiesing is die model. Hy is die Groot Uitverkorene van God. Die werk wat Christus gedoen het, lei tot vier ander uitverkiesings: die van Israel, die twaalf, die liggaam van Christus en die apostel Paulus.

Heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde

Luister mooi na Ef. 1:3. Gaan dit hier oor ‘n kaartjie om hemel toe te gaan? Nee, God se ideaal vir ons is groter as dit. Die woorde “heilig en sonder gebrek voor Hom”  sê vir my wat God se uiteindelike ideaal vir ons is. Let op: Ons het hier te doen met twee beskrywings van dieselfde ding; twee perspektiewe waaruit die geestelike stand van ‘n mens beskou word.

Die eerste een is “heilig”. Dit is die innerlike toestand van ‘n Christen. Heiligheid is die gevolg van die werk van Christus aan die kruis en ons aanvaarding van sy aanbod van verlossing. Net dit. Niks meer nie. As heiligheid die produk moes wees van ons sondeloosheid, ons toewyding, ons nederigheid, lankmoedigheid en liefde, dan staan ek daarby dat daar nog nooit een heilige op aarde was nie (behalwe Jesus alleen) en ook nooit sal wees nie.

Kom ons verstaan dit mooi. God het ons aangestel om heilig en sonder gebrek te wees. Dit is nie net ‘n idealistiese wens wat God hier uitspreek wat nooit verwesenlik kan word nie. Hierdie is die amptelike en gesagvolle aanstellingsbrief wat aan jou en my uitgereik is as ons beweer dat ons geredde kinders van God is.

Jesus is aangestel om Verlosser op aarde te wees en om die reg van God op die aarde te grondves. As Hy nie kans sien om dit te wees nie, kan Hy nie Jesus wees nie. Israel is aangestel om God se banierdraer op aarde te wees. Het hulle dit gedoen? Nee! Is hulle nou nog Israel? Nee! Hulle is Lo-Ammi (nie my volk nie - Hos. 1:9); hulle is vir ‘n tyd tersyde gestel (Rom. 11:25). Maar wat nou van ons? Kén ons die aanstellingsbrief wat ons ontvang het? Mag ons maar tekortskiet aan “heilig en sonder gebrek voor Hom” en nog steeds Christen wees? Nee, ons kan nie!

Die Woord leer ons dit en hier by die Wapenrusting aanvaar ons dit en staan ons vir heiligheid en volmaaktheid voor Jesus Christus. Ons het gesê waar ons heiligheid vandaan kom, maar wat nou van die tweede perspektief? “Sonder gebrek” kan ons nie anders verklaar as die uiterlike reinheid en smetloosheid van God se kind nie. Dit is nou die tweede aspek van heiligmaking. Die eerste een, die innerlike een, is die saad van volkomenheid wat in ons geplant word wanneer ons die Here Jesus aanneem. Maar hierdie is die tweede heiligmaking wat daardie saad kans gee om in ons te werk en elke smet weg te neem.

Is jy daarmee besig? Is jy bewus van hierdie aanstelling wat jy van die Here ontvang het? Hoe lyk dit met ons Geesgeïnspi-reerde karaktertrekke? Waar is ons nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, selfbeheersing en liefde vir mekaar en vir die Here? Ons kan nie hiervan wegskram nie. Daar word nie binne-in die liggaam ‘n onderskeid gemaak tussen heiliges en onheiliges nie. Die hele liggaam is aangestel vir alles wat hier staan.

Waar is ons waarheid en opregtheid? Kan ‘n mens sonder hierdie twee karaktertrekke sonder gebrek wees? Kan mense staatmaak op dit wat ons sê? Kom ons ons beloftes na? En die dinge wat ons doen en wat ons sê - wat is die onderliggende motief daaragter? Wil ons onsself laat geld? Wil ons gedurig ‘n punt bewys? Of is daar net een motief en dit is die liefde?

En so kan ons aangaan, maar hierdie boek en nog ‘n ander een sal nie genoeg spasie hê vir alles nie. Dit is net jou en my verant-woordelikheid om te besef dat ons as Christene ‘n aanstellings-brief van die Here ontvang het. Jy is alleen verantwoordelik vir joune en ek vir myne. Moenie met hom maak wat Israel met syne gemaak het nie.

Maar ons is nog nie klaar met hierdie stelling in Ef. 1:4 nie. Om die beginsels van heilig en sonder gebrek verder te beklemtoon, staan daar “voor Hom in liefde”. Die vraag is dus: Wat beskou God self as “heilig en sonder gebrek”? God se standaard is hoër. God kan sien waar die mense nie kan sien nie. God beoordeel oordenkinge en die oorlegginge van die hart. Hy kyk na ons diepste motiewe. Hy kyk of dit alles uit ware liefde gebore is.

Joh. 3:16 sê dat ‘n Christen sy bestaan te danke het aan die liefde van God wat sy Seun gestuur het om vir ons die ewige lewe te bewerkstellig. Die beginsel van liefde is dus in ons hart geplant. Dit is daar. As jy nie God se liefde in jou het nie, sou Christus se liefdesdaad aan die kruis ook nie vir jou betekenis kon hê nie en sou jy nie tot die saligheid in Hom geglo het nie. As dit dalk so bietjie onder die stof weggeraak het, gaan diep dit op en administreer dit op die regte manier.

Soos wat ons as Christene aangestel is om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, so moet ons nou ook sekere aanstellings maak in ons lewens. Onthou, ons is elkeen ‘n administrateur van die weldade van God. Jy moet iets of iemand aanstel om gesag te voer oor jou lewe. God het gesorg dat daardie dinge wat jy wil aanstel, vir jou beskikbaar is. As Christen is dit in jou geplant. Maar ek is bevrees, as julle soos ek is, ons sal almal daardie aanstelling in ons lewens elke oggend moet herbevestig. My geheue is maar kort en boonop lê die duiwel en loer vir my en stel orals op die pad vir my strikke.

Verstaan uitverkiesing as ‘n aanstelling

Kom ons vergeet nou van die oeroue middeleeuse idee van uitverkiesing as ‘n kaartjie om hemel toe te gaan (‘n kaartjie wat ons in elk geval nooit kan sien nie). Kom ons verstaan dit soos wat dit ooglopend en duidelik hier aangetoon word. Dit is ‘n heilige aanstelling van God. So was dit nog altyd in die Ou Testament en so is dit nou nog. Ons het nie genoeg spasie om nou al die verse oor uitverkiesing na te slaan en in elke geval aan te toon wat die aspek van ons aanstelling is wat in daardie vers beklemtoon word nie. Gaan onderneem self so ‘n studie.

Calvinistiese bewystekste

Vriende, ons moet net onthou dat die meeste van ons Bybels deur Calviniste vertaal is. Daar is nou al vier Afrikaanse vertalings en parafrases van die Bybel waarvan ek weet en al vier is deur Calviniste vertaal. Geen wonder nie dat die pre-ordinasie uitverkiesing in hulle almal baie sterk na vore kom.

Vat nou maar Hand. 13:48: “... en daar het gelowig geword almal wat verordineer is tot die ewige lewe”. Let asseblief op dat die woord wat hier met “verordineer” vertaal word, ook in 1 Kor. 16:15 voorkom. “... dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het.”  Klink hierdie woord “tot diens gestel” nie baie na ons woord “aanstel” wat ons vroeër in die artikel gebruik het nie? Die mense in Hand. 13:48 het hulleself waarskynlik “aangestel” tot die ewige lewe. Hulle het dit begeer; hulle wou dit hê en daarom is hulle gered. Kyk ook hoe die woord in 1 Kor. 9:14 met “bepaal” vertaal is.

Ek glo dat die Living Bible alle reg het om Hand. 13:48 soos volg te vertaal (duidelik nie ‘n Calvinis wat dit vertaal het nie!): “When the Gentiles heard this, they were very glad and rejoiced in Paul’s message; and as many as wanted eternal life, believed.”

Hoekom sê Hand. 13:48 dat die mense “bly” was toe hulle Paulus se boodskap gehoor het? Is dit nie dalk al klaar die eerste rede waarom hulle geglo het en gered is nie? En net twee verse vroeër staan daar by vers 46 dat die Jode self die evangelie verwerp het. Hulle het self ‘n besluit daartéén geneem. Moet ons nou maar net twee verse verder sê dat hierdie mense net gered is omdat hulle uitverkies is? Hulle het nie ‘n besluit vir die Here geneem nie. Vir my maak dit nie sin nie. Ek staan liewer by die Living Bible se vertaling. Party het dit verwerp en party het dit met blydskap aangeneem omdat hulle daaraan verknog was.

Leer Joh. 6:44 dalk die Calvinistiese uitverkiesing? “Niemand kom na My toe as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie ...”  Mense, ek loof vandag die Here dat Hy my getrek het om Jesus aan te neem. Dit het met uitverkiesing niks te make nie. Vergelyk dit gerus met Rom. 10:14. God trek ons tog deur sy Woord en deur die prediking daarvan.

En wat van Rom. 8:29,30?  Daar staan tog duidelik dat God dié wat Hy geken het, verordineer het. Is dit ‘n bewys vir Calvinisme? Nee! Asseblief, nee! Gaan sê vir die Calviniste dat hulle nie by vers 29 moet begin lees nie, maar by vers 28. Dit gaan oor mense wat God liefhet en geroep is tot diens. Vers 29 sê dat die mense verordineer is om gelykvormig te wees aan die beeld van God se Seun. Dit gaan oor ons aanstelling en roeping en nie oor ons kaartjie om hemel toe te gaan nie.   

Sê Ef. 2:8 dat geloof ‘n gawe van God is en dat mens dus uitverkies moet wees om gered te kan word? Dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat dit in die vers “geloof” is wat ‘n gawe is nie. En al was dit ook, dan is God se gawe tog aan almal beskikbaar, nie net vir uitverkorenes nie. Ja, redding is ‘n gawe van genade, maar elkeen kan besluit om dit op te neem of te laat.   ¨

 

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|