Afrikaanse Artikels
Terug na Forum vir GLO
Tradisie of Inspirasie
Christen - uitverkiesing
Twee soldate
Kontraste
Erfenis
Die Groot Uitnodiging
Verlore seun
Is die Bybel waar?
Gevaarlike Glybaan
Selfverloëning
Hemel en Aarde
Koninkryk naby
Jesus vir vandag
Voor-verdrukking

   

In die begin het God …

Deur David Malan

 

Daar is seker nie ‘n vers in die Bybel wat u beter ken as hierdie een nie. Let op. In die begin het God twee afsonderlike plekke geskape, die hemel en die aarde. Met elkeen van die twee het God ‘n besondere doel gehad wat ons moet begryp as ons die Bybel wil verstaan. Daar was diegene aan wie God ‘n aardse hoop gegee het en aan andere ‘n hemelse hoop.

“Volgens my reikhalsende verwagting en hoop”

Volgens die Bybel is hoop ‘n reikhalsende verwagting en ‘n blye en sekere vooruitsig (Fil. 1:20). Die Bybel dink nie aan hoop soos sommige van ons oor ons redding dink nie. (“Ek hoop ek sal eendag hemel toe gaan”). Die Bybel ken nie hierdie soort onsekere hoop nie. Laat diegene wat self vir hulle redding verantwoordelik wil wees, daaraan twyfel. Maar ons wat dit as ‘n volkome gawe van Gods genade ontvang het, jubel en roem in die wonderbare werklikheid.

“… God, ons Verlosser en die Here Jesus Christus, ons hoop” (1Tim. 1:1).

Die Bybelse hoop is nie van ’n mens afhanklik nie. Dit is ook nie aards nie en is daarom gans anders. Dit ís Jesus Christus. Ef. 2:12 beskryf die toestand van al die nasies van die wêreld - soos ons - wat nie deel van Israel was nie. Voor hierdie nuwe bedeling van genade aangebreek het, was die Efesiërs nie net as gevolg van hulle eie sonde uitgesluit nie; hulle was veral uitgesluit omdat daar vir hulle geen hoop was nie. Hulle was aan die verkeerde kant van die muur van skeiding wat tussen Israel en die nasies gestaan het!

Maar toe kondig Paulus as deel van sy evangelie ‘n geweldige nuwe waarheid aan. Deur die bloed van Christus is daar nou plek vir elke mens wat hoe ver ookal weggestaan het! (Ef. 2:13,14). Wie het die verskil gemaak? Op wie sal al hierdie mense nou hulle hoop vestig? Jesus Christus is hulle hoop!

Hierdie hoop wat bestaan uit die Persoon Jesus Christus, word ook op drie ander maniere beskryf. Eerstens is daar die hoop op die opstanding. Paulus verskyn in Hand. 23 voor die Joodse Raad. Die helfte van die Jode was Fariseërs wat in die opstanding geglo het terwyl die ander helfte Saduseërs was wat dit nie geglo het nie. Paulus maak toe ‘n baie slim uitspraak:

“Oor die hoop van die opstanding van die dode staan ek voor die gereg” (Hand. 23:6).

Onmiddellik spring die twee groepe aan mekaar en hulle vergeet tydelik van hulle klag teen Paulus. Natuurlik glo Paulus aan die opstanding. Sy geloof is gebou om die feit dat ons nou reeds saam met Christus in die hemel is, maar dat ons ook weldra hierdie werklikheid sal ervaar en ewiglik beleef. Die opstanding is dus ‘n onmisbare pilaar van Paulus se geloof.

Omdat die opstanding ons hoop is, kan ons nie meer vir die dood bang wees nie; gevolglik is ‘n belangrike wapen uit die hand van die duiwel weggeneem. Maar dit gaan oor veel meer as dit. Die opstanding verdring die vrees vir die dood en bring in die plek daarvan ‘n hemelse hoop en reikhalsende verwagting. Ons weet ons is ambassadeurs in ‘n vreemde land. Ons hoop is nie aan hierdie wêreld gekoppel nie. Ons wag net vir ons Regeerder, die Hoof van die Liggaam, Jesus Christus, om sy ambassadeurs uit die vreemde land terug te roep om by hulle eie land in die hemel te gaan aansluit.

Nie almal van ons sal weer opstaan nie. Net die geredde kinders van God wat dan al ontslaap het, sal opstaan om hemel toe te gaan. Ons wat dan nog in die lewe is, sal egter ook ‘n soortgelyke “opstandingservaring” meemaak. Ons gaan in ‘n oomblik en in ‘n oogwink totaal verander word en met ‘n onverganklike hemelse liggaam beklee word. Dit kan dus ook as ‘n “opstanding” beskou word.

My vriend, die vraag vandag is dit: Waar is jou hart en verlange? Is dit in die hemel of op aarde? Waarmee is jy besig in jou vrye tyd? Met die dinge van die aarde, of wys jy darem nog met jou doen en late waar die verlange van jou hart is?

En wat het van vandag se evangeliepredikers geword? Baie van hulle sê reguit dat ons hemel hier op aarde gaan wees. Wanneer het jy laas ‘n preek oor die hemel gehoor? Verlang ons predikers nie meer na die hemel nie? Bou hulle nog by hulle toehoorders aan die hemelse verwagting en uitsig? Die Christendom is nie meer radikaal genoeg nie. Die Christendom het afgewater geraak en lyk nou al net soos die wêreld. Die dinge waarna die meeste Christene met reikhalsende verlange uitsien, is dieselfde vooruitsigte as díe van die wêreld. Daarom werk die kerk en die politici hartlik met mekaar saam om ‘n beter wêreld tot stand te bring.

Daarom weet dr. Boesak ook nie of hy nou na sy jaar in die tronk politikus of predikant moet word nie - die opsies is vir hom presies dieselfde. En moet nie net vir arme dr. Boesak daarvan beskuldig nie. Ook dr. Dawie de Villiers het jare gelede toe hy die preekstoel vir die politiek verruil het, reeds gesê dat hy nou met dieselfde werk voortgaan; sy gemeente word nou net ‘n bietjie groter. Baie Christene het geen benul meer van die verskil tussen die hemel en die aarde nie.

Die Griekse filosoof, Sokrates, het gif gedrink en op sy sterfbed gesê: “Ek hoop so” toe hulle hom vra of ons weer gaan opstaan. In teenstelling hiermee het hulle in Sir Walter Raleigh wat in London onthoof is, se Bybel ‘n nota gekry wat sê:  “… but from this earth, this grave, this dust, my God shall raise me up, I trust!” En ongelukkig word Sokrates se filosofie en ongeloof vandag honderd keer meer bestudeer as Walter Raleigh se geloofsnalatenskap. Selfs voornemende predikan-te leer steeds die filosofie van Sokrates.

Hierdie hoop op die opstanding gaan tweedens ook saam met die hoop op die ewige lewe.

“die hoop van die ewige lewe wat God wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2).

Natuurlik het ons reeds die ewige lewe, want elkeen wat in die Seun glo, het die ewige lewe (Joh. 3:36). En tog hoop ons ook daarop met reikhalsende verlange. Dit is reeds aan ons gegee, maar ons het nog nie die fase ingegaan waar ons die feit van God se krag en lewe fisies ervaar en geniet nie. Sien u werklik daarna uit? Neem kennis dat ons hier te doen het met die ware verskil tussen vormgodsdienstige gelowiges en ware metgeselle van Jesus Christus.

Jesus Christus is ons hoop, en hierdie hoop bring derdens ‘n roeping, ‘n gerigtheid en ‘n onwrikbare belang in die hemel:

“Ons dank die God en Vader van ons Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid,

“omdat ons gehoor het van julle geloof in die Here Jesus Christus en julle liefde tot al die heiliges,

“vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemel, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie” (Kol. 1:3-5).

Wel, hierdie is ‘n nuwe hoop wat in ons bedeling vir die eerste keer aan die vroeë gemeentes bekend gemaak is. Ons wag vandag om hemel toe te gaan en vir altyd daar saam met Christus te wees. Maar hoe was dit met Israel gesteld? Al die jare het Israel die verwagting gehad om op aarde saam met hulle Messias oor die nasies te regeer.

Die aardse hoop

Job het in die tyd vóór die wet geleef. Sy hoop word duidelik in Job 19:25 uitgedruk: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.” Die stof wys op die aarde. Die King James Version sê: “He shall stand at last on the earth.” Job het die verwagting gehad om na die dood weer op te staan en sy Verlosser op die aarde te sien.

Kom ons gaan kyk nou wat die mense se verwagting tydens die bedeling van die wet was.

“Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit.”

“Die ootmoediges, daarenteen, sal die aarde besit en hulle verlustig in groot vrede.”

"Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon" (Ps. 37:9,11,29).

Net na die wederkoms sal hier inderdaad so ‘n tyd op die aarde wees: die duisendjarige vrederyk, wanneer Christus as Messias saam met Israel oor die aarde sal regeer. Dan sal die regverdiges die aarde besit (Ps. 37:22,29).

Kan jy sien dat hierdie hoop heelwat anders klink as die hemelse hoop wat deurgaans in ons bedeling deur die apostel van genade aan ons voorgehou word?

Maar natuurlik. Israel was God se unieke verbondsvolk. In die verbond met Abraham het God alreeds beloof dat hulle die land in besit sal neem en in veiligheid sal bewoon. Moses het aan die volk gesê dat, as hulle die voorwaardes van die verbond nakom en tot eer van God lewe, hulle die land as  ewige besitting in besit sal neem. Die verbondsteologie beskou Israel en die kerk as dieselfde. Hulle plaas die kerk in die plek van Israel. Dit is verkeerd. Daar is nie ‘n reglynige voortgang van Israel se geskiedenis gedurende die tyd van die kerk nie. Israel is Israel en sal steeds Israel wees nadat die bedeling van die kerk afgesluit is.

Die Messias het gekom, maar Israel het weens ongeloof sy aardse beloftes tydelik verbeur. Dit is ook nie waar dat Israel se beloftes aan die kerk oorgedra is nie. Die hoop wat die liggaam van Christus vandag het, is nuut en totaal anders. God se beloftes aan Israel is onberoulik (Rom. 11:29.) As die bedeling van die kerk afgehandel is, sal God terugkeer om die vervalle hut van Dawid weer op te rig en al daardie beloftes aan Israel waar te maak.

“Maar as julle julle weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar, vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie … dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu” (Jer. 7:5-7).

Hierdie is die verbond wat met die aartsvaders aangegaan is. Die kerk kan vandag geen aanspraak daarop maak nie. Dit sal seker en gewis nog vir Israel bewaarheid word.

“Jou son sal nie meer ondergaan nie en jou maan nie kleiner word nie, want die Here sal vir jou wees ‘n ewige lig en die dae van jou treurigheid is verby. En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit—as lote deur My geplant, ‘n werk van My hande tot My verheerliking” (Jes. 60:20,21).

En Matthéüs is nog steeds aan Israel geskryf. Daar staan presies dieselfde ding: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe”. Watter deel van die aarde gaan u beërwe? Die Israelvisie dink die land anderkant die riviere van Kus behoort aan hulle. Maar gelukkig is ons oë oopgemaak vir die feit dat die hele Bybel en al sy beloftes nie direk aan ons adres gerig is nie, maar wel tot ons lering gegee is. Ons is nie deel van Israel nie. Ons, as lede van die liggaam van Christus, is net tydelike gesante of ambassadeurs hier op aarde, op pad na ons hemelse tuiste.

Was daar in die tyd van die Ou Testament enigiemand wat hemel toe gegaan het? Kyk wat sê Joh. 3:13: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Ons weet dat gelowiges in die Ou Testament na Sheol of Hades gegaan het. Daar is diegene wat meen dat Christus by sy opstanding gelowiges uit die onderwêreld gehaal en hulle saam met Hom hemel toe  geneem het. Is dit werklik so? Ons lees in Hand. 2:34 die volgende: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hyself sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand”. Vir my lyk dit of die Ou Testamentiese gelowiges toe nog steeds ‘n aardse hoop gehad het.

Ons kyk nou na die interessante vers (Mat. 16:18):

“… op hierdie rots sal ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”.

Die meeste van ons lesers is nou reeds op hoogte daarvan dat die gemeente waarvan hier gepraat word, nie die liggaam van Christus is waaraan ons vandag behoort nie. Eerstens beskik geen mens vandag oor sleutelmag in die kerk om toe te laat en uit te sluit nie. Tweedens kon Petrus ook nie die grondlegger van ons kerk wees nie, want in Gal. 2:7 word hy na die besnydenes gestuur en 1 Kor. 3:10 verklaar dat Paulus die fondament van die kerk van vandag gelê het.

Ons sê dus dat die gemeente van Matthéüs 16 die koninkryksgerigte gemeente onder die Israeliete was. Hulle het steeds ‘n aardse verwagting gehad. En nou staan hier dat die poorte van die doderyk nie daardie gemeente sou kon oorweldig nie.

Die doderyk is tog nie die hel nie. Baie mense dink hier staan dat die hel nooit die kerk sal oorweldig nie, maar dit is totaal verkeerd. Daar was (en is waarskynlik nog steeds) gelowiges in die doderyk. En waarom “die poorte”? Dit gaan hier spesifiek oor die poorte en nie oor die doderyk self nie. Al wat dit kan beteken, is dat die poorte van die doderyk nie die gelowiges wat daarin opgesluit is, sal kan hou nie. Voordat die koninkryk ingestel word, sal die gemeente met sy sleutelmag ook daardie poorte ontsluit en alle gelowiges in die doderyk sal weer lewe en in die koninkryk toegelaat word (vgl. Openb. 20:6). En hierdie koninkryk sal natuurlik op aarde wees.

Die hemelse hoop

Baie teoloë glo vandag nie meer aan ‘n plek soos die hemel nie. Hulle sê dit was deel van die denkpatroon van die mense in die tyd van die Bybel om te praat van ‘n hel wat “onder” is en ‘n hemel wat “bo” is. Vir hulle sal die hemel maar net hier op aarde wees nadat die verskillende godsdienste saam die magte van ongeregtigheid oorwin het. Van hierdie siening wil ek niks weet nie. Ek sien duidelik in die Bybel dat God in ons bedeling ‘n nuwe hoop en ‘n nuwe bestemming vir sy kinders geopen het. In die Ou Testament sou hulle nog almal die aarde beërwe, nl. die koninkryk van reg en geregtigheid wat Jesus as Messias na die werderkoms hier sal kom stig.

Maar die kerk se hoop in die Bybel is gans anders. Ons is nou reeds hemelburgers. Fil. 3:20 bevestig dit. Die implikasie hiervan is dat ons ons Verlosser uit die hemel verwag. Ek het geen begeerte na hierdie aarde nie en ek verwag Jesus om my hieruit te kom verlos. Solank ek nog hier is, is my liggaam “vernederd” (Fil. 3:21) en hiermee kan ek nooit tevrede wees nie. Nie alleen is my liggaam onderhewig aan siektes en afmatting nie, maar dit is geestelik ook nie perfek nie. Ek het die sonde oorwin deur die gawe van Christus sodat dit nooit weer oor my sal heers nie, maar die teenwoordigheid van sonde en die lokstem van Satan en die wêreld is nog daar (“Ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet in my gemoed” - Rom. 7:23. “Die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees” - Gal. 5:17).

Daar is teologieë wat hierdie vernederde staat van ons liggaam ontken. Die Charismatiese mense wil net wondere laat gebeur om enige fisiese onvolkomenheid weg te toor en ander teologieë wil weer totale morele volkomenheid vir ons liggame opeis. Beide hierdie rigtings doen afbreek aan die een groot rede waarom ons as Christene so hartstogtelik moet uitsien na ons toekomstige “verheerlikte” posisie saam met ons hemelse Verlosser wanneer Hy kom.

En helaas sê Ef. 2:6 dat ons reeds saam opgewek is en saam  in die hemele sit in Christus Jesus. Dit is die posisie wat elke Christen nou reeds het - in die hemel en nie op die aarde nie. Maar ons ervaar dit nie nou nie. Ons ervaar die vernedering van hierdie wêreld. Tog is dit geweldig noodsaaklik dat ons die Skrif sal leer en meer sal hoor van ons hemelse posisie sodat ons dit deur die geloof kan opeis. Te veel Christene soek na hemelse ervarings. Vergeet daarvan. Laat die kennis en geloof die siel versadig en laat dit die ervaring van vernedering temper sodat ons na die hemel sal verlang. Onthou: Ons word nooit opgeroep om te leef vanuit ervarings nie, maar vanuit die geloof.

 






|Afrikaanse Artikels| |Terug na Forum vir GLO| |Tradisie of Inspirasie| |Christen - uitverkiesing| |Twee soldate| |Kontraste| |Erfenis| |Die Groot Uitnodiging| |Verlore seun| |Is die Bybel waar?| |Gevaarlike Glybaan| |Selfverloëning| |Hemel en Aarde| |Koninkryk naby| |Jesus vir vandag| |Voor-verdrukking|